Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nuwe boek: Storie oor hare wil meisies help
8 Januarie 2020

Wanneer sy terugdink aan al die moeite en ure wat sy gemors het om haar hare straight te maak, wens die Kapenaar Bianca Flanders sy het as kind ’n boek of iets gehad om haar te laat besef daar is niks met haar natuurlike hare of voorkoms verkeerd nie.

Toe dié 30-jarige bekroonde teaterakteur en onderwyser verlede jaar sien daar is steeds nie só ’n boek vir vandag se kinders nie, het sy besluit om self een te skryf. En só is haar boek, Prinses Pampoenpit, in Oktober verlede jaar uitgereik.

Bianca sê sy hoop haar boek en die karakter Prinses Pampoenpit sal kinders van ’n vroeë ouderdom af laat besef hulle is spesiaal en mooi. Wanneer Bianca in ’n vertrek stap, val haar breë glimlag en groot bos krulle jou dadelik op. Sy dra haar hare met trots nes die meisietjie in haar boek.

Nes Prinses Pampoenpit is sy ook mal oor haar krulle en het sy lankal daarmee vrede gemaak dat hare soms ’n wil van hul eie het. Maar dít het nie sommer oornag gebeur nie, veral nie as jy as kind aanhoudend moet hoor jou hare is onhanteerbaar of kroes nie.

En al moedig die natural hair movement deesdae vroue aan om hul natuurlike draad te embrace, voel Bianca sy moes iets doen om dié boodskap ook aan kinders oor te dra. “Ons wil almal raakgesien word, want dan voel dit asof jy tog saak maak. Toe ek ’n kind was, was ek mal oor lees, maar daar was nooit ’n boek met ’n karakter in wat soos ek gelyk het nie.

Almal het reguit hare – gewoonlik blond – gehad en dit het gevoel asof jy net ’n heldin of prinses kan wees as jy só gelyk het. Dis belangrik dat jong meisies die boodskap kry dat almal uniek geskape is en reguit hare nie beteken jy is belangriker as iemand met krulhare nie,” sê sy.


Ek hoop Prinses Pampoenpit gee minstens vir een kind die selfvertroue sodat hulle nie deur hul hare teruggehou word nie.
Bianca Flanders

Leer die kinders

Volgens Bianca het sy ook in haar werk as akteur en stemkunstenaar probeer om hierdie boodskap oor te dra, maar sy het gevoel kinders het iets meer nodig om positief te voel oor hul natuurlike hare. “Ek wou dit verander en iets meer age appropriate doen vir kinders,” sê sy.

Bianca voel die hare-boodskap is veral belangrik vir die bruin gemeenskap aangesien hare nooit net hare was nie. Soos tydens apartheid toe die potloodtoets gebruik was as deel van rasseklassifisering, altyd met die boodskap reguit is beter. Dié boodskap is ook oor die jare in byvoorbeeld die mode- en vermaakbedrywe versterk.

Maar deesdae begin mense anders na skoonheid kyk. Krulkoppe word al hoe meer gesog en daar word byvoorbeeld nie meer vereis dat mense hul hare moet reguit maak vir flieks of fashion nie.

Só is Zozibini Tunzi in 2019 met haar natuurlike draad as Mej. Suid-Afrika én Mej. Heelal gekroon. Die natural hair movement versprei vinnig in Suid-Afrika en met al hoe meer vroue wat hul natuurlike draad vier, het Bianca gevoel dis die perfekte tyd om kinders ook aan te moedig en te empower. In ’n warm en verwelkomende stemtoon verduidelik ’n nederige Bianca, ma van ’n sesjarige dogter, sy wil hê kinders moet meer tyd daaraan spandeer om oor hul toekoms te dink as oor hul hare en hoe hulle dit reguit gaan kry.

Dit is hoekom Bianca vir jonger meisies deur haar karakter Prinses Pampoenpit wil wys daar is niks fout met die kinkels in hul hare nie. Bianca onthou nou nog hoe sy altyd haar ma gesmeek het om haar hare reguit te maak, want mense het nie verstaan hoekom haar ma haar met ’n “bossiekop” laat rondloop het nie. Vandag is sy dankbaar dat haar ma haar van ’n jong ouderdom wou wys daar is niks verkeerd met haar natuurlike draad nie.

“My ma wou nooit toelaat dat ek my hare reguit maak nie, maar my laerskool het gevoel my natuurlike hare is onnet en dat dit nie by die skool se reëls hou nie. Wanneer ek by my tannie gaan kuier het, was ek altyd opgewonde omdat ek geweet het sy gaan my hare blow en reguit maak, maar dit het gou gemince en dan was ek baie teleurgesteld,” erken sy skaam. “As ek maar net geweet het wat ek nou weet, sou dit vir my baie moeite gespaar het.”

Aanvaar haar hare

Só lyk haar boek.

Vir die grootste deel van haar skoolloopbaan wou sy net reguit hare hê tot die dag wat sy ’n musiekvideo van India Arie by ’n vriendin se huis gesien het. Sy was 14 jaar oud, maar volgens Bianca was dit die eerste keer dat sy iemand met hare soos haar eie op die TV gesien het.

Maar dit was nie net India se hare wat haar aandag getrek het nie, dit was ook die trots en die selfvertroue waarmee die sanger dit gedra het wat Bianca laat dink het oor haar eie hare. Bianca erken dit het baie moed gevat om met krulhare skool toe te gaan, want sy was destyds skaam en bekommerd oor wat mense gaan dink. Maar ’n week nadat sy die video gesien het, het sy genoeg moed bymekaargeskraap en met haar natuurlike krulle skool toe gaan.

“Ek was beslis bang, veral omdat kinders erg kan wees op skool. Ek was ook al gewoond daaraan dat jy geterg word as jou hare nie reguit is nie. Toe ek egter skool toe gaan sonder om my hare reguit te maak, was dit bevrydend en ek het met nuwe selfvertroue deur die gange gestap,” vertel sy trots.

Volgens Bianca het jy soveel tyd om ander dinge te doen en oor ander goed te dink as jy nie heeltyd oor jou hare hoef te worry nie. “Ek het al soveel keer gesien hoe vroue nie wil swem of hulself geniet nie, want hulle is bang hul hare sou nat word of mince. Ek hoop Prinses Pampoenpit gee minstens vir een kind die selfvertroue sodat hulle nie deur hul hare teruggehou word nie.”

Die karakter in die boek is op Bianca gebaseer en die goed wat sy oor haar eie hare gedink het. Die naam Pampoenpit is spesifiek gekies sodat enige meisie daarmee kan identifiseer. Dis Bianca se grootste wens dat meisies met Prinses Pampoenpit sal kan identifiseer en besef as sy met haar krulkop ’n prinses kan wees en groot dinge bereik, kan húlle ook.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.