Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nuwe hoogtes: Vrou 'operate' hyskrane
27 November 2019
Lisl Botha werk as hyskraandrywer by Transnet se perseel in die Kaapse hawe.

Enigiemand wat al op die N1 verby die Tafelbaaise hawe gery het, het sekerlik al die veelkleurige containers opgemerk wat aan die oorkant van die nasionale pad opgestapel is.

Dis op hierdie groot Transnet-perseel waar die 39-jarige Lisl Botha die afgelope ses jaar as vrou haar plek volstaan. Nie in haar wildste drome het sy gedink dat sy as hyskraan-operateur sou opeindig nie. En eintlik het haar huidige werk heel toevallig oor haar pad gekom. Lisl vertel sy en haar man, Lucaan, het in 2010 vanuit Sutherland stad toe getrek.

Terwyl sy by die kliëntediensafdeling van ’n winkel in Kenilworth gewerk het, het sy ’n skoolvriend in die parkeerarea raakgeloop. “Ek het gesien hy ry ’n baie grênd kar en het hom gevra waar hy werk.” Hy was by Transnet in diens en op sy versoek het sy haar CV aan hom gestuur. “Ek het al daarvan vergeet toe ek eendag ’n oproep kry,” vertel sy.

Dit was Transnet wat gevra het dat sy vir ’n hoogtetoets kom. Lisl het nie die vaagste benul gehad hoekom nou juis ’n hoogtetoets nie, maar het tog besluit om die geleentheid aan te gryp. Daar aangekom, het sy die eerste keer gehoor van OLE, oftewel operating lifting equipment.

“Dis Engels vir ’n hyskraandrywer,” lag sy. Sy is gevra om een van daardie reuse-hyskrane waarmee skeepscontainers opgelig word, uit te klim. Met die hoogtetoets in die sakkie moes sy ’n mediese toets ondergaan. ’n Criminal check het gevolg en twee maande later, in 2013, het dié ma van drie gehoor sy is aanvaar vir ’n hyskraan-learnership by Transnet.

“My mond het letterlik droog geword toe ek besef hoe hoog bo die grond ek gaan werk,” vertel sy. “Lisl, waarvoor het jy jouself ingelaat?” het sy haarself afgevra. Maar net daar het sy ook besluit: As die Here haar nie hier wou gehad het nie, sou sy nie hier gewees het nie. Van hierdie saak gaan sy net die beste maak.

Vir ’n jaar lank het sy en nog twee vroue wat Transnet spesifiek vir hierdie werk gewerf het, intense opleiding ondergaan. “Op die learnership het jy altyd iemand wat saam met jou opgaan om jou te leer. Daai eerste dag nadat ek my learnership geslaag het, was daar niemand agter my om sê wat ek moet doen en nie moet doen nie . . . Dit was baie moeilik. Maar ek het survive.” En vandag geniet sy haar gate uit.

Maak altyd ’n plan

Lisl het op Sutherland grootgeword, maar in haar laaste laerskooljaar by ’n oom in Valhalla Park gaan bly sodat sy verder in die Kaap kon skoolgaan. Dit was omdat daar destyds nie vir die bruin gemeenskap ’n hoërskool op haar tuisdorp was nie. “Maar ek het te veel na my ma verlang en wou elke vakansie huis toe gaan,” onthou sy.

Daarom dat ma Sanna (Louw) besluit het sy moes eerder nader aan die huis skoolgaan. Van haar tweede hoër-skooljaar af was Lisl dus in die kosskool van De Kruine Sekondêr op Touwsrivier. “My pa was nooit in die prentjie nie,” sê sy sag. “My ma het al die jare as huishulp gewerk en my op haar eie grootgemaak. Sy het my als gegee wat my hart begeer, al het ek partykeer, veral as tiener, geweet sy loop ’n bietjie skraal.”

Nadat ek my learnership geslaag het, was daar niemand agter my om te sê wat ek moet doen en nie moet doen nie . . . Maar ek het survive.

Was dit nie vir haar ma se gebede nie, sou sy nie gewees het waar sy vandag is nie, glo Lisl. En op werkgebied het sy vroeg reeds uitgestaan. In 1999, die jaar nadat sy gematrikuleer het, is sy op haar tuisdorp as klerk in ’n plaaslike bank aangestel – die heel eerste bruin mens wat daar ’n posisie hoër as dié van skoonmaker beklee het.

“Dit was ’n baie groot prestasie vir my en die mense van Sutherland, wat nooit gedink het dat bruin mense daardie tipe werk sou doen nie.” ’n Jaar en ses maande later het sy besluit om haar horisonne te verbreed en onder meer ’n draai in die Kaap gaan maak, waar sy as access controller op die Kaapse stasie gewerk het.

Terug in Sutherland het sy haar man ontmoet toe hy as IT-spesialis by die Groot Teleskoop aangestel is, waarna die paartjie besluit het om die Kaap hul permanente tuiste te maak. Vreemd genoeg kan sy haar vandag nie voorstel dat sy enige ander werk as hyskraandrywer wil doen nie. Het sy al foute gemaak? “Ek het al ’n trok saam met ’n container opgetel,” antwoord sy doodeerlik – omdat die trokdrywer wat die container ingebring het, nie die lock losgemaak het wat dit op die trok vashou nie.

“Die trok het darem nie seergekry nie en ek kon dit weer laat sak omdat dit nie baie hoog was nie.” Sy was nogal bewerig toe sy daarna van die hyskraan afklim. “Maar die uncle wat agter my werk, het net gesê: ‘Meisiekind, moenie worry nie, daardie trokdrywer sal volgende keer doodseker maak sy lock is los. Dit het met mans ook al gebeur.’”

Werk nie speletjies nie

Die Transnet-hyskrane is nie dieselfde as dié wat op boupersele gebruik word nie, verduidelik sy. Hierdie hyskrane het ’n massiewe, reghoekige raamwerk wat as ondersteuning dien, met die cabin wat doer bo hang en aan ’n trolley vorentoe en agtertoe kan beweeg. ’n Spesiale hanteringsmeganisme wat kan oop- en toemaak, kan vol of leë containers optel of neersit. Die containers kan van skepe af kom en op die betrokke perseel opmekaargestapel word of op trokke gelaai word om verder per skip vervoer te word.

En net bietjie perspektief: ’n Leë container weeg tussen ses en sewe ton. Lisl werk met wat hulle noem ’n rooikraan of RTG (rubber tyre gantry). “Hy kan op en af beweeg, in die rondte draai en ook na verskillende blokke geskuif word.” Streng veiligheidsmaatreëls geld, soos die dra van ’n helmet en die safety belt binne die cabin. Lisl bring daagliks tussen ses en sewe uur in haar cabin deur. En om daar te kom, moet sy ’n allemintige 92 staaltrappe uitklim. “Voor ete kan dit so tien minute neem, maar ná lunch klim mens baie stadiger,” lag sy.

Lisl het reeds ’n first aid-kursus geslaag. Onlangs is sy ook op ’n rope training- kursus gestuur sodat sy in ’n noodgeval soos ’n brand, wanneer die trappe nie gebruik kan word nie, die hyskraan kan evacuate. Lisl het dit omtrént geniet en kan nou soos ’n wafferse rotsklimmer bo van haar hyskraan met ’n tou afseil. Een pluspunt van haar werk – buiten die goeie betaling – is die lekker vibe, sê sy. “Dis baie multiracial en jy kan net jouself wees.” Maar jy hoef in elk geval nie heeltyd met ander mense te meng nie, voeg sy by.

“Daar bo in jou cabin is jy in jou eie zone. Jy kan ’n container hard of sag neergooi. Hy sal nie terugpraat soos mense wat in ’n winkel op jou skel of skree nie.” Daar is uitdagings, ja, soos manskollegas wat doodeenvoudig verwag dat die vroue gaan fail, sê Lisl. “Maar dit motiveer ons net om nóg beter te doen.”

* Maatskappye soos Transnet (https://www.transnet.net/Pages/Home.aspx) verskaf indiensopleiding vir hyskraan-operateurs. Dit kan enigiets van kort kursusse tot opleiding van minstens ’n jaar behels. Vir meer inligting, besoek gerus www.teta.org.za of www.etc.org.za (Eastcape Training Centre).

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.