Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ondersoek: Wat nou met vol begraafplase?
22 Januarie 2020


Die dood is ’n onderwerp waaraan ons nie graag wil dink nie, maar dit klop een of ander tyd aan ons almal se deur. En wanneer die dood kom, is die volgende fase vir baie om hul geliefde te begrawe, maar die realiteit is dat begraafplase hier en oor die wêreld heen amper nie eens meer plek het nie. So hoe nou gemaak?

Leslie van Reenen* van Somerset-Wes in die Wes-Kaap kan haar nie voorstel hoe sy sou voel as daar nie ’n graf vir haar seun was nie. Hy is vyf jaar gelede op 18 oorlede, ’n jong man met verstandelike uitdagings wat die pad byster geraak, op straat beland en uiteindelik die knie voor vigs gebuig het. Leslie besoek nie net sy graf met spesiale geleenthede nie, maar ook tussendeur. Vir haar voel dit asof die band tussen hulle nog net so sterk is as toe hy gelewe het.

Verassing het nooit by haar opgekom nie, omdat sy nie kan glo dat sy dieselfde band met hom sou kon handhaaf as sy net ’n kissie as van hom sou oorgehad het nie. Leslie is nie die enigste een wat só dink nie. Om by die graf van ’n geliefde te staan, of dit in stand te hou, is vir baie mense deel van ’n hoogs emosionele rouproses en afskeid.

Maar meer nog: Vir mense oor geloofsgrense heen is dit belangrik om te weet dat hulle enige tyd ’n geliefde se graf kan besoek. En in veral die Afrika-kultuur is begraafplase belangrike plekke van verbintenis met voorvadergeeste. Daarom dat alternatiewe metodes soos verassing nie by almal ewe veel byval vind nie. ’n Tameletjie wat egter nie weggewens kan word nie, is dat grafspasie in Suid-Afrika – nes in die res van die wêreld – vinnig besig is om op te raak. Daar moet dus dringend volhoubare en koste-effektiewe maniere gevind word om menslike oor-skot te hanteer.

Nie vir almal gepas

Tydens die onlangse Pan-Afrika Konferensie vir Begraafplase en Krematoriums in Durban is hierdie kwessie aan die groot klok gehang, maar onder Jan en alleman bly dit ’n ongemaklike onderwerp waaroor nie graag gepraat word nie. Op die konferensie in Durban is gehoor dat die plaaslike eThekwini-munisipaliteit letterlik in ’n resies met tyd gewikkel is om alternatiewe te vind omdat daar teen begin vanjaar waarskynlik geen grafspasie in die Durban-omgewing oor gaan wees nie.

Volgens Pepe Dass, voorsitter van die South African Cemeteries Association, strek die probleem egter veel wyer as Durban en word stede en dorpe landwyd geraak. Kaapstad ondervind self ’n kritieke tekort aan grafspasie, met Johannesburg wat oor begraafplek vir die volgende 50 jaar beskik.

Die blote beskikbaarstelling van meer grond vir grafte word bemoeilik deur faktore soos omgewingswetgewing vir begraafplekke en beskikbare grond wat kompeteer met vrugbare landbougrond, asook grond vir behuising en ander gemeenskapsgeriewe. Dis ook duur om grond vir nuwe begraafplase te bekom, terwyl die oueres en volles terselfdertyd onderhou moet word. Waar mense om godsdienstige of kulturele redes nie verassing wil oorweeg nie, beveel stadsrade die heropening en veelvuldige gebruik van grafte sterk aan.

Trouens, dit is die enigste rede hoekom sekere begraafplase steeds in gebruik is. Mense word egter ook aangemoedig om te kyk na begrawing in bogrondse geboue soos ’n mausoleum.

Vir dr. Thuli Mphambukeli, ’n senior dosent in die afdeling stads- en streeksbeplanning aan die Universiteit van die Vrystaat, is ’n nagevorsde en ingeligte standpunt van die allergrootste belang by stadsbeamptes wat verassing as alternatiewe begrawingspraktyk voorstel. Volgens haar kan die kulturele belang van begrafnisse nie onderskat word nie, veral in stede.

“Vir baie swart mense is dit kultureel belangrik dat die hele liggaam ná afsterwe behoue bly, met al die beendere in plek. Daar word geglo dat die spirituele persoon opgeroep kan word wanneer die familie ’n sekere krisis beleef. Die familie sal dus na die graf van die oorledene gaan waar hulle ’n tipe leiding van sy of haar gees sal kry.”

Vir baie swart mense is dit kultureel belangrik dat die hele liggaam ná afsterwe behoue bly. Daar word geglo dat die spirituele persoon opgeroep kan word wanneer die familie ’n sekere krisis beleef.

Omdat hierdie rituele nie in asvorm uitgevoer kan word nie, bied die gedagte van veral verassing dus heelwat uitdagings aan baie swart mense. Persoonlik het sy geen probleem daarmee dat ou grafte heropen word en ver-skeie familielede in een graf begrawe word nie. “Ten minste kan elke familielid dan opgespoor word deur daardie familielede wat toegang tot hulle wil hê.”

Die syfers vertel hoe kritiek die grafsituasie is: In Johannesburg – waar 28 van die 32 begraafplase reeds hul volle kapasiteit bereik het en twee nuwe begraafplase ontwikkel is – het sowel verassings as die heropening van grafte toegeneem, sê Nonhlanhla Sifumba, lid van die burgemeesterskomitee vir gemeenskapsontwikkeling.

Sowat 14 000 mense word gemiddeld jaarliks hier begrawe, met heropenings veral sigbaar in Avalon in Soweto en die begraafplase in Alexandra, wat almal vol is wat nuwe grafte betref. By heropenings beveel die Johannesburgse parkeraad ook reduction burials aan, wat daarop neerkom dat ’n liggaam ’n geruime tyd ná sterfte opgegrawe en die oorskot in ’n veel kleiner kissie geplaas word sodat die graf dieper gemaak kan word vir bykomende kiste saam met die kleiner kissie.

In Kaapstad is daar maandeliks gemiddeld 1 100 begrawings, het raadslid Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, gesê. Dit verteenwoordig 60% van die aansoeke, met die res verassings. Van die 40 begraafplase is 17 steeds in gebruik, maar net ses het aansienlike grafspasie beskikbaar.

Die res word gebruik deur familie wat grafte heropen vir ’n tweede of derde begrawing. Daar moet egter genoem word dat ’n aktiewe soektog na addisionele begrawingsplekke die afgelope dekade hier wel vrugte afgewerp het. ’n Nuwe begraafplaas is in Mfuleni naby Kuilsrivier opgerig, terwyl daar ook gekyk word na omgewingsgoedkeuring vir nuwe begraafplase in Tafelsig (Mitchells Plain), Vaalfontein (Somerset-Wes) en Rusthof (Strand).

Daar is ook planne om die begraafplase in Welmoed (Eersterivier) en Atlantis uit te brei. In Durban het The Daily News in September verlede jaar berig daar is minder as 5 000 grafte beskikbaar, terwyl daar maandeliks minstens 1 000 begrawings in die vyf operasionele begraafplase is. Een daarvan (Ntuzuma) word net vir heropenings ingespan. Moontlike begraafplekke is in Cato Ridge, Hammarsdale en Vulamehlo geïdentifiseer en die verkryging van hierdie persele is geprioritiseer.

Wêreldwye probleem

Dis egter nie net in Suid-Afrika wat met oplossings vir ’n gebrek aan grafspasie geworstel word nie. Wêreldwyd is dit ’n probleem wat al selfs kerke tot ander insigte gebring het.

In die Moslem-geloof word verassing ten strengste verbied en as disrespekvol teenoor oorledenes beskou. Die Rooms-Katolieke Kerk het dit ook lank teengestaan maar uiteindelik goedgekeur, hoewel daar sekere voorwaardes hiermee saamgaan, soos dat die verassing nie voor die diens mag geskied nie.

Griekeland het in 2006 die dekades lange Grieks-Ortodokse tradisie verbreek wat verassing teenstaan omdat die liggaam as die tempel van God beskou word. Die verassing van buitelanders en Grieke wie se godsdiens dit toelaat, is in daardie jaar gewettig. Die teenstand teen ’n krematorium was egter steeds so groot dat daar eers onlangs – 13 jaar later – gepraat is van die oprigting van ’n krematorium (in Athene).

Tot dusver moes mense hul geliefdes vir verassing na nabygeleë lande soos Bulgarye neem. Een rede hoekom die aanvraag na verassing in hierdie land toegeneem het, is omdat familielede weens Griekeland se oorvol begraafplase deesdae gedwing word om hul geliefdes ná ’n paar jaar op te grawe sodat ’n volgende persoon daar te ruste gelê kan word.

Die grafspasie word vir drie jaar verhuur met die moontlikheid van ’n verlenging, maar teen so ’n aansienlike prysverhoging dat baie mense dit nie kan bekostig nie. Die oorskot word dan in ’n veel kleiner houer gesit vir berging in ’n gemeenskaplike beenderhuis (ossuarium). Ook in ander Europese lande word grafte deesdae hergebruik, hoewel die opgrawings gewoonlik ná veel langer as drie jaar geskied.

Ander opsies

Verassings word wyd en syd aanbeveel, maar dis nie gepas vir alle gelowe en kulture nie.

Heelwat opsies wat as alternatiewe vir begrawings oorsee ontwikkel word, is nog nuutjies vir Suid-Afrika, sê Dass. Dit sluit omgewingsvriendelike maniere in om die menslike liggaam tot die grond toe te laat. Begrawing word onder meer oorweeg in woude tussen die wortels van bome, terwyl ook gekyk word na maniere om die ontbinding van liggame in grafte te versnel.

Resomasie oftewel bioverbranding bied op sy beurt ’n rookvrye alternatief vir verassing, met die liggaam wat in chemikalieë opgelos word en die beendere wat daarna begrawe of geberg kan word. In hierdie stadium lyk dit egter of Suid-Afrikaners oor die algemeen nog baie konserwatief dink.

In Amerika en Europa het ekovriendelike begrafnisse – met biodegradeerbare kiste – geleidelik gewilder geword. In Suid-Afrika het dit egter nie dieselfde pad gevolg nie, sê Sonja Smit van die Sonja Smith Elite Funeral Group, wat plaaslik hiermee die voortou geneem het. In 2010 het hulle geweefde produkte wat as alternatiewe vir gewone kiste sou dien, van Engeland af begin invoer.

Mense kon kies tussen drie biodegradeerbare soorte kiste, met ook ’n ekovriendelike en waterdigte voering binne, onderskeidelik van die klapperboomblaar se takkie (cocostick), van seegras en van geweefde hessiangaring. Maar dit het gou geblyk dat Suid-Afrikaners nog nie gereed is hiervoor nie, sê Sonja. “Hierdie is ’n mindshift wat gemaak moet word.” Hulle sou byvoorbeeld kry dat iemand sê sy sal graag eendag die geweefde kis wil hê, maar vir haar ma wat pas oorlede is, verkies sy ’n tradisionele kis.

Uiteraard is ingevoerde produkte duurder as gevolg van die wisselkoers, invoerbelasting en verskepingskostes. “Dit is egter ’n kwessie van keuse en nie prys nie,” voeg Sonja by. “Vir die groenes is dit nie onderhandelbaar nie en hulle gee nie om om te betaal nie. Die probleem is dat hier nie groen begraafplase is nie.”

Die eerste ekovriendelike begraafplaas as ’n alternatief vir tradisionele begraafplase, het in 2011 gestalte gekry as die Wiesenhof Legacy Park naby Stellenbosch. Mense kon ’n plot koop en geliefdes in hierdie rustige omgewing begrawe. Daar was ook ’n gedenktuin en opsies soos om geliefdes se as tussen dennebome te strooi saam met die sade van wilde blomme, wat elke seisoen sou blom. En bome kon ter herinnering geplant word.

Wiesenhof Legacy Park is egter vyf jaar later gelikwideer. Die maatskappy Calgro M3, wat landwyd vyf memorial parks in onder meer Fourways, Durbanville en Bloemfontein bedryf, is tans in die beplanningsfase vir groen hoekies daar. Verder gaan daar wat haar betref tans in Suid-Afrika nie veel aan wat groen begraafplase betref nie, sê Sonja.

Sy het Engeland se burial parks onlangs besoek en beskryf dit as ’n ongelooflike ervaring. “By die een staan jy in ’n woud met lang bome en hoor die gesuis van wind deur die blare. Geen granietgedenkstene word daar toegelaat nie; slegs natuurlike houtprodukte wat die oorledene se lewe weerspieël, byvoorbeeld ’n viool, skoenlapper of ’n stapskoen . . .”

Johan Jonas, ’n stads- en streeksbeplanner van Oos-Londen wat ook op die Durbanse konferensie gepraat het, het verdere graftameletjies uitgelig wat volgens hom dit noodsaak dat buite die boks gedink moet word. Volgens Jonas, ’n direkteur van die maatskappy Umhlaba (Xhosa vir “grond”), is daar rede tot ernstige kommer oor grond- en oppervlakwaterbesoedeling deur grafte. En dít in ’n waterskaars land soos Suid-Afrika.

Dit gaan nie net oor die ontbindende liggame in begraafplase en die vrystelling van groot hoeveelhede besmetters soos stikstof, fosfaat, bakterieë en virusse nie, maar ook die materiale waarvan kiste gemaak word en balsemchemikalieë wat mettertyd waarskynlik in grondwaterbronne sal opeindig. Daarbenewens is baie grafte in ongeskikte areas geleë, wat die risiko van besoedeling verhoog. Hoewel verassing as alternatief wyd aanbeveel word, bring dit sy eie uitdagings mee.

’n Groot toename in verassings in veral stedelike gebiede sal beteken dat meer krematoriums in Suid-Afrika gebou sal moet word. Jonas se maatskappy kyk tans na ’n proses wat toelaat dat die liggaam in ’n beheerde omgewing natuurlik komposteer. “Geen krag of water word hiervoor benodig nie, en die houer waarin die liggaam geplaas word, kan selfs in ’n gebou met die nodige lugsirkulasie, pypwerk en filters hanteer word,” sê hy.

Die beendere kan dan begrawe word, of dit kan toegelaat word om heeltemal te komposteer om daarna weer geïntegreer te word met die grond deur byvoorbeeld ’n boom te plant. Omdat mense in Suid-Afrika oor die algemeen daarvan wegskram om oor hierdie onderwerp te praat, raak die probleem volgens Jonas al hoe groter. Feit bly staan: Wêreldwyd is aanpassings gemaak en ons sal ook moet aanpas, waarsku hy. Maar, terselfdertyd moet andere se gevoelens gerespekteer word omdat almal se behoeftes verskil, voeg hy by. *Skuilnaam

Het jy geweet? In die Moslem-geloof word verassing ten strengste verbied en as disrespekvol teenoor oorledenes beskou.
Meer oor:  Kuier  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.