Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Onnies ly in die klas
09 Januarie 2019

Landwyd lyk dit of onderwysers gebuk gaan onder ’n vlaag gewelddadige aanvalle aan die hand van leerders. Wyd en syd word daar in die media berig oor leerders wat nie skroom om hul hande (en wapens) vir hul onnies te lig nie. Skokkende beeldmateriaal oor dié tipe voorvalle versprei soos veldbrande op sosiale media en sommige onderwysers vrees vir hul

lewe...

In September verlede jaar is Gadimang Daniel Mokolobate (24), ’n onderwyser by ’n hoërskool in Noordwes deur ’n leerder doodgesteek. Die voorval het ten aanskoue van die hele klas gebeur. En in November verlede jaar is ’n leerder van Kimberley Boys’ High in die Noord-Kaap geskors nadat hy water in ’n onderwyser se gesig gegooi het, berig times­live.co.za. Dís maar enkele voorbeelde van wat onderwysers op ’n daaglikse basis in klaskamers moet verduur.

Die departement van basiese onderwys bevestig aanvalle op onderwysers is aan die toeneem en sê daar is zero tolerance vir partye wat hulself aan dié tipe gedrag skuldig maak.

Teen druktyd was 14 aanbevelings vir oorweging van skorsings aan die Wes-Kaapse departementshoof voorgelê vir verskeie oortredings insluitend disrespek teenoor ’n opvoeder, die bedreiging van veiligheid van opvoeders en die aanranding van opvoeders. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het in 2018 vyf leerders geskors vir insidente wat verband hou met bogenoemde. Twee hiervan was fisiese aanranding. Dié twee gevalle van aanranding wat gerapporteer is, is albei deur laerskoolleerders gepleeg. Albei leerders is geskors.

stryd in skole

Julian Jacobs (26), ’n onderwyser by ’n laerskool in Eersterivier in Kaapstad, het tydens ’n hartroerende en desperate pleidooi homself na sosiale media gewend om oor onderwysers se stryd in skole te praat. Die video het opslae gemaak en is deur ongeveer 160 000 mense gekyk en meer as 6 000 keer gedeel.

https://www.facebook.com/JacobsJTR/videos/1819587474792300/

Oor wat aanleiding gegee het tot die aangrypende video, antwoord hy eerlik: “Ek was net moeg. In daai week wat daai video gemaak is, is ’n onderwyser vermoor deur ’n leerder by ’n skool in Gauteng. Die volgende dag is almal net terug skool toe asof niks gebeur het nie. Ons het kinders vir te lank die dinge toegelaat en hulle dink dis normaal. Hulle dink hulle mag gewelddadig teenoor hul onderwysers optree.”

Julian wou ontsteld weet “hoeveel lyke moet daar wees voor mense gaan besef dit is ’n krisis? Die dissipline in ons skole is so swak dat jy nie die kinders kan onderrig nie. Jy spandeer die meeste van die tyd in die klaskamer om die kinders stil te maak en orde te handhaaf. Ons moet ons kinders waardes en respek leer. Dit is soms baie moeilik om jou humeur te beteuel oor die kinders jou doelbewus probeer uitlok. Hulle wil hê jy moet reageer. Ingryping is dringend nodig.”

Jessica Shelver, ’n woordvoerder vir die WKOD, sê waardes is baie belangrik en hul departement sal nie enige vorm van geweld of aggressie teen enige onderwyser, prinsipaal of personeellid verdra nie. “Ons onderwysers is ons belangrikste hulpbron, nie net vir die WKOD nie, maar vir die land as geheel. Hulle is individue wat in hul professies waardeer moet word en moet die respek kry wat hulle verdien. Ons leerders moet van kleins af geleer word wat die waardes en respek is wat hulle teenoor hul opvoeders moet toon, sowel as hul eweknieë.”

Jessica sê departemente regoor die land benodig die hulp van ouers en lede van die gemeenskap. “Hulle het ook ’n rol om te speel. Ouers moet primêre verantwoordelikheid neem vir hul kinders se dissipline en waardes en moet ook die regte voorbeeld stel van hoe ’n mens moet optree. Ouers moet bewus gemaak word dat indien hul kinders verkies om hulself onvanpas teenoor ’n onderwyser te gedra, hul kinders se optrede ernstige negatiewe gevolge sal hê.”

Leef in vrees

Nóg ’n onderwyser (26), wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisasie, sê dit is skokkend hoe leerders teenoor onderwysers optree – veral teenoor jong, vroulike onnies. Sy is tans werksaam by ’n hoërskool in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte.

“Ek het een dag met my rug na die klas gestaan en op die bord geskryf. Een van die seuns het aanhoudend iets na my gegooi met die doel dat dit my agterent tref en elke keer as ek omgedraai het, het die klas net gelag. Ek het wéér omgedraai om verder te skryf en dié seun het opgestaan om fisies aan my te vat.”

Haar stem breek terwyl sy oor die voorval praat. Daar is ’n kort stilte voor sy voortgaan en haar stem bewe effens: “Hy het my vas in my gesig gekyk en gesê, ‘Jy kan my niks maak nie. En as jy iets wil doen, laat skiet ek jou binne in jou . . .’ Ek het my sakkie gevat en uit daai klaskamer gestap. Ek was ontsteld deur die kind se optrede en wou dit rapporteer, maar uit vrees vir my lewe kon ek nie.”

Andrea Stevens (41) is al vir die afgelope tien jaar ’n onderwyser by ’n hoërskool in Pretoria. Sy meen dat dit baie keer slegs enkele leerders is wat onnies se lewe hel probeer maak.

“In die tien jaar dat ek nou al kinders opvoed, kan ek slegs enkele gevalle onthou waar ek deur ’n leerder bedreig gevoel het. Die meeste van die tyd verloop dinge glad en ken leerders hul plek, maar daar sal altyd daai een of twee wees wat hul luck sal try. Vir hulle ignoreer jy tot hulle besluit en besef dat hul houding en lelike maniere hulle niks in die sak sal bring nie.”

Volgens Andrea hang leerders se gedrag gewoonlik ook af uit watter huishoudings hulle kom en hoe hulle grootgemaak is. “Dis baie weinig dat ’n kind wat uit ’n huis kom waar respek en liefde prioriteit is, aggressief sal wees teenoor sy of haar medemens. Baie van dié leerders makeer net liefde en aandag.”

Lorecia Arendse (33), ’n onderwyser by ’n laerskool op Stellenbosch, is weer van mening dat die boompie van kleins af gebuig moet word. “Ons grondslagfase onnies is dit eens as ons respek en waardes van ’n vroeë ouderdom vir die kinders leer, sal dit blywend wees. Daar is ook ’n neiging dat kinders sekere maniere by hul maatjies aanleer, maar as jy die kind en die maatjie sit maak en laat verstaan dat hul maniere onaanvaarbaar is en dat dit hulle nie veel in hul lewe gaan baat nie, smoor jy die kiem in die mou.”

Sy verduidelik: “Mense, onderwysers veral, is geneig om te vergeet dat jy ander moet behandel soos jy behandel wil word. Ons moet net onthou dat ons die leiers van môre opvoed en alles wat ons hulle gaan leer, moet ’n positiewe bydrae tot hul toekomstige keuses hê.”

Steve Mabona, ’n woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, sê skole is ’n mikrokosmos van die samelewing en wat algemeen voorkom in ons samelewing, speel uit in ons skole.

“Die ineenstorting van die sosiale struktuur wat gemeenskappe in die verlede staande gehou het, word grootliks geblameer vir die tendense wat in ons skoolomgewing voorkom. Dit het aanleiding gegee tot dissiplinêre probleme onder leerders, geweld onder leerders, leerder-teen-opvoeder-geweld, bendes, dwelms en dwelmmisbruik, tienerswangerskap en ook minderjarige seks. Leerders se dissipline in ons skole is ’n uitdaging,” sê Steve.

programme

Dié departement het verskeie programme geïmplementeer om die uitdagings wat in hul skole kop uitgesteek het, aan te spreek. Van dié programme is onder meer ouerskapwerksessies, vennootskappe met die departement van maatskaplike ontwikkeling en gemeenskapsveiligheidsorganisasies en verwante NGO’s asook tronkbesoeke.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADTU) het in ’n verklaring sy misnoeë uitgespreek oor die vlaag van geweld teen onderwysers deur leerders en tussen leerders. Volgens SADTU moet onderwys onder geen omstandighede as ’n gevaarlike beroep beskou word nie.

“Teen die koers waarteen ons tans beweeg, is dit onvermydelik. Dit moet ons nie verbaas as ons sukkel om nuwe onderwysers in die stelsel te werf terwyl ons ’n groot toename in uittrede uit die beroep ervaar nie. Die geweld teen onderwysers moet gesien word as die nasionale krisis wat dit is,” lui die unie se verklaring.

Onderwysers werk met “produkte” wat uit ons samelewing en ons huise kom. As ouers en volwassenes is dit elkeen se plig om onderwysers te help deur vir kinders waardes van veral respek en dissipline te leer.

En ook om hulle te laat besef sonder opvoeding is jou toekoms duister... 

Wat sê jy?
Sê vir ons wat dink jy van die storie. Stuur 'n Whatsapp na 060784589, gevolg deur jou mening.
Meer oor:  Onnies  |  Onderwysers  |  Kuier  |  Skole-Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.