Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Onnies moet hulp kry
09 Januarie 2019
skoolbanke

Onderwysers is spesiale rolspelers van ’n gemeenskap. Hulle moet kinders deur ’n kritieke tyd tussen kleuterfase en die einde van adolessensie individueel help toerus met werkbare kennis en ’n verskeidenheid noodsaaklike vaardighede, sodat hulle hopelik ’n positiewe ingesteldheid oor die toekoms kan ontwikkel en goeie keuses in hul lewens kan maak.

In my laerskooljare in die Strand was ’n washuisie omskep as my klaskamer.

Later op hoërskool in Somerset-Wes, was dit vaal opslaangeboue wat mense “duiwehokkies” genoem het.

As bruin en swart kinders het ons ’n opvoeding ontvang wat toe as ”gutter education” beskryf is – ons is voorberei om tweederangse burgers te word. Ons moes onder meer op byeenkoms die volkslied sing, die nege-maaltafel opsê met ’n rottang wat oor ons agterent huiwer, ons moes die riviere, berge, breedtelyne, seestrome uit die kop ken.

Maar ons het toegewyde onderwysers gehad wat self deur nog slegter omstandighede hul kwalifikasies behaal het. Húlle het ons deurgetrek. Ons is produkte van daardie onderwysstelsel, maar in baie van ons koppe was ook hoop vir ’n beter toekoms. Baie het jare later nie daardie­ hoogtes bereik nie weens huislike omstandighede, sosio-ekonomies-, politieke redes en soms slegte persoonlike keuses.

Die post-Apartheidbabas is deur ’n uitkomsgebaseerde opvoedingstelsel. Laasgenoemde is nou vervang deur die Nasionale Kurrikulum- en Assesserings beleidsverklaring (CAPS). Waar ons destyds net meestal net feite moes leer, word leerlinge nou gestimuleer om krities te dink, opinies te verwoord en ingeligte besluite te neem. Onderwysers het beter hulpmiddels, rekenaars, daardie manjifieke elektroniese witbord.

Maar ondanks die meer as 20 jaar in die “Nuwe Suid-Afrika” is daar steeds beduidende agterstande in ons kinders se opvoeding. In sekere landelike gebiede ontvang kinders nog (steeds ná al die

jare) onderrig onder ’n boom of in klaskamers waarvan die droë kleimure aan die verkrummel is of waar die onderwyser– leerlingverhouding meer as 1:50 is. Dis ongehoord.

Die staat moet baie meer doen op 'n geintegreerde wyse.

Dan is daar die skole wat midde-in bendegeteisterde omgewing normaal moet funksioneer, klaskamers gevandaliseer word, skoolhoofde gevaargeld moet betaal en onderwysers geterroriseer word. Dis onaanvaarbaar.

Ek wil vir geen oomblik in daardie onderwysers se skoene staan nie, want ek sou verwag dat die staat my as opvoeder moet ondersteun om my werk in ’n vei­lige omgewing te kan verrig. Dat ek toegerus word deur ’n verskeidenheid hulpmiddels om ’n vrugbare leeromgewing te kan skep. Dat ek met kleiner groep leerlinge kan werk.

Wat my in die laaste van my 18 jaar as onderwyser uiteindelik gedefinieer het, is dat jy eers die hart van die individuele leerling wen, alvorens jy hom of haar aanspreek oor skoolwerk. Daai “skolliekind”, boelie, rokertjie, “raasbek”, is almal kinders wat eintlik om aandag skree.

Skole is vuurtorings in ons gemeenskappe, maar in baie gevalle verspoel die sosio-ekonomiese uitdagings van die omliggende gemeenskap dié baken. Die staat móét baie meer doen, maar dit moet op ’n geïntegreerde wyse wees Z kerke, besighede, sportklubs, klinieke, gemeenskapspolisiëringsforums moet saamwerk. Maar is die politieke wil daar vanaf die korrupsiegeteisterde regering om ’n volhoubare proses te begin? Sal

élke kind ’n regverdige geleentheid kry om as ’n gebalanseerde mens te ontwikkel, ’n goeie beroep te hê en ’n goeie ouer te kan wees?

Waar die pa of ma, oom of suster ’n kind faal, is die onderwyser die persoon wat skerp daardie leemte moet kan raaksien. As ons vandag terugkyk op ons lewenspad is daardie mense wie ons dalk ewig dankbaar is, in baie gevalle ’n sekere onderwyser of twee wat ons die ekstra myl geneem het. Die res was of is steeds toegegooi onder administratiewe werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.