Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ontmoet die nuwe Expresso-aanbieder
11 Desember 2019
Jamie-Lee Domburg


It’s a hard knock life en vir Jamie-Lee Domburg (27) van Steenberg op die Kaapse Vlakte kan jy niks hiervan vertel nie. Dié borrelende meisie ken van harde klippe kou, maar sê sy sal haar lewe vir niks in die wêreld verruil nie!

Daar was sommige dae wat Jamie-Lee nie eens kon bekostig om publieke vervoer te gebruik nie, maar dit het haar nie gekeer om haar drome na te jaag nie, inteendeel, dit het haar net aangemoedig om harder te werk. Dié girl is die toonbeeld van die spreekwoordelike frase “aanhouer wen’’. Jamie-Lee is onlangs aangewys as een van twee wenners van die SABC 3 se aanbieder-soektog 2019.

Ná 13 weke se veeleisende en moeilike uitdagings het dié Kapenaar stof in 2 498 ander deelnemers se oë geskop. Sy vertel ywerig sy is al van kleins af lief om mense te vermaak. “Dit het eintlik begin in die kerk. Ek was lief daarvoor om voor in die kerk te sing en dans. Dit is waar my liefde vir entertainment begin het. Dit was vir my ’n absolute plesier om mense te vermaak.”

Nie net was sy in die kerk aktief betrokke nie, maar sy het ook op skool aan amper alle buitemuurse aktiwiteite deelgeneem om besig te bly. “Mense lag altyd as ek hulle vertel, maar ek het letterlik alles gedoen van karate en gimnastiek tot drama en dans. Ek wou altyd net aktief en besig wees. Eintlik was ek maar ’n baie bedrywige kind, altyd op en af. Wel, meer op as af!”

Sy lag voor sy vertel sy het wel op hoërskool besef dat sy nie net aan buitemuurse aktiwiteite kan deelneem nie, maar ook moet fokus op akademie. “Vir my ouderdom was ek nogal baie volwasse, so ek het self tot die besluit gekom dat ek nie net op alles behalwe my skoolboeke kan konsentreer nie. Om êrens te kom in die lewe, moet ’n mens darem ten minste jou matriek het. So ek het in graad 10 ook my boeke nader geskuif sodat ek iets kon hê om op terug te val.”

Vat kanse

Op 16 het sy besluit om vir die bekende SABC 1 jeugprogram YoTV te audition. “Wanneer ek sê ek was skytbang is dit regtig ’n understatement. Dit is ook hoekom ek altyd gesê het live televisie is nie my ding nie, want ek is heeltyd fine tot die kameras begin rol, dan kan jy niks met my uitrig nie!”

Ná dié oudisie het sy vir eers haar droom om mense te vermaak op ys gesit en besluit om skool klaar te maak. Jamie-Lee het ná skool ’n gap jaar gevat en oorsee gegaan waar sy as ’n lifeguard gewerk het. “Een van my groot drome was altyd ook om die wêreld vol te toer, so die lifeguard job was vir my die ideale geleentheid om dit te doen.”

Sy het dié werk vir ongeveer ’n jaar in Dubai gedoen. “Terwyl ek daar was, het ek sommer besluit om aansoek te doen vir een of ander bemarkingskursus. Ek onthou hoe ek die eerste dag daar gesit het; sjoe, dit was die verveligste ding nóg. Ek het net aanhou vir myself gesê ek moet hieruit kom. Dit is nie die lewe waarin ek myself sien nie.”

Moenie iemand anders se timelines met joune vergelyk nie. Ons het elke ons eie resies om te hardloop, maar hoe jy dit doen, kan net jy bepaal.

Nie lank daarna nie het sy sak en pak teruggetrek Kaap toe. Sy het besluit om haar lewenslange droom te bewaarheid om mense te vermaak. “Ek het teaterskool toe gegaan en vir ’n ruk het dit goed gegaan, maar ek moet erken ek was ’n vrot aktrise!” Haar kenmerkende laggie vul weer die vertrek voor sy gemaak ernstig sê: “Ek het eintlik net my ma se geld gemors!’’

Die travel-gogga het toe wéér gebyt en dié keer het sy aansoek gedoen om op ’n cruiseship te werk. “Wow. Dit was alles waarop ek gehoop het en meer. Ek kon met mense gesels en hulle vermaak en dit was ongelooflik. Ek het op meer as een manier gegroei op daai skip. Dit het my selfvertroue gegee en ek het geleer om met mense te kommunikeer op ’n manier wat hulle dit verstaan en geniet.”

Dit is ook op die skip waar sy haar vrees vir die kameras oorkom het. “Die skip het ’n TV-kanaal begin en hulle het my gevra om ’n aanbieder te wees. Jinne, ek kan onthou ek was die eerste keer so op my senuwees dat ek skoon gehakkel het! Maar met elke probeerslag het dit beter geraak en ek het besef dat ek eintlik baie daarvan hou.” Sy het ongeveer vyf jaar op die skip gewerk voor sy swanger geraak het. “En toe kon ek nie meer werk nie. Ek het weer huis toe gekom en het geboorte geskenk aan die oulikste seuntjie.”

Beloon vir werk

Jamie-Lee en haar ma, Patricia, haar grootste ondersteuner.

Jamie-Lee was vir 10 maande ná haar kind se geboorte werkloos voor sy op sosiale media gesien het van die presenter search. ‘’Ek was nooit regtig in die land om in te skryf vir die soektog nie, maar het dit gevolg op sosiale media. Die spesifieke Sondag wat ek weer die post raaklees, was die einste Sondag dat die predikant in die kerk gepreek het oor seisoene.

Vir my was dit die beslissende oomblik – dit is nou my oomblik en as ek dit nie gaan vat nie gaan iemand anders beslis.’’ Sy het dieselfde dag die video opgeneem en op sosiale media gelaai. “My vriende en familie het dit begin deel op hul platforms en ek was oorweldig deur die ondersteuning. Ek het regtig nooit geweet soveel mense het geweet van my liefde en passie vir entertainment nie.”

Sy erken dat die daaropvolgende weke nie van die maklikste was nie. “My ma was die enigste broodwinner en sy het haar werk in dié tyd verloor. Daar was dae waar ek nie geld gehad het om na die studio te gaan nie en dan moes ek maar rondvra vir ’n lift, maar ek het dit gedoen. Ek het geweet dié geleentheid kan ons maak of breek.’’ Haar ma, Patricia, is ’n enkelma en ook haar grootste ondersteuner.

“My ma is nie net my grootste ondersteuner nie, maar ook die beste ouma in die wêreld. Tog moet ek sê dat sy ook my grootste crit is. Week ná week het ek geoefen en vir haar gesê: ‘Mammie, ek dink nie ek gaan dit maak na volgende week nie’. En dan het my ma my net herinner dat die belangrikste is dat ek wel probeer het. En só het ek aangegaan tot nou.”

Volgens Jamie-Lee het sy geweet sy sal moet baklei vir oorlewing in dié kompetisie. ‘’Die ander deelnemers was uitstekend en dit was ’n tawwe kompetisie. Daar is nie een week waar ek gevoel het dinge is makliker as die vorige week nie.” Hoe het sy gevoel toe sy aangekondig word as een van die wenners?

“Dit was net trane, gelag en geskreeu. Dit is al wat ek onthou en ’n volkome gevoel van geluk dat al my harde werk uiteindelik vrugte begin afwerp. Nou begin die regte werk en ek kan nie wag om te sien wat die toekoms alles vir my inhou nie.” En wat is volgende vir haar? “Al wat ek kan sê, is the sky is not the limit. Dink groot en droom nog groter. Moet nooit moed opgee nie. Alles gaan oor tydsberekening en of dit jou seisoen is. Moenie iemand anders se timelines met joune vergelyk nie. Ons elk het ons eie resies om te hardloop, maar hoe jy dit doen, kan net jy bepaal. Onthou net dat God iets beter in stoor het vir jou.”

Meer oor:  Kuier  |  Expresso
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.