Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oorleef trauma saam met jou kind
16 Mei 2018

Wanneer ’n kind deur seksuele trauma gaan, gaan die ma van so ’n kind tree vir tree saam deur die lyding.

As ma voel jy skuldig omdat jy nie jou kind kon beskerm nie en wanneer jy elke dag moet kyk hoe jou kind suffer, kan dit ’n ma emosioneel knak.

Dit is byna vier jaar sedert Beverly Jantjies* (38) se dogter, Tess* (17), haar vertel het dat haar stiefpa haar gemolesteer het, en steeds sukkel dié ma om die gebeure te verwerk. Die gedagte dat sy haar eie dogter nie kon beskerm teen die vieslike goed wat haar stiefpa aan haar gedoen het nie, het aan Beverly gevreet.

“Die moeilike ding as so iets gebeur, is dat jy as ma daar wil wees vir jou kind. Jy dink jy kan nie swak wees nie. Jy moet haar help en ondersteun. Dis eers later dat ek besef het maar ek cope eintlik glad nie.”

Druk op ouer

Sy was ’n wrak. Nagmerries, skuldgevoelens, geweldige angstigheid en blinde woede is van die dinge wat Beverly, ’n verpleegsuster, mee moes deal in die jare ná Tess haar van die molestering vertel het. Beverly sou soms vir nagte aaneen nie ’n oog toemaak nie.

Dan sou sy oormoeg en buierig by die werk opdaag. Om die moegheid teë te werk, het Beverly opkikkers begin drink wat haar geïrriteerd laat voel het. “Hoe moes ek slaap met die wete dat ek daai man in my huis ingebring het? En dan nog erger, dat ek my Tess nie kon beskerm teen hom nie? Ek het geweldig skuldig gevoel. Soms het ek myself gehaat. As ek na Tess kyk, wou ek net huil, want daar is soveel mooi van haar af weggevat. Dit is my dogter vir wie ek net die mooiste drome het. En skielik het hierdie monster alles verpletter,” sê Beverly.

Tess* (toe 13) het maande lank geswyg oor die goed wat haar stiefpa gesê het sy moet geheim hou. Beverly het dikwels nagskof gewerk. Dan sou Henri* soos ’n honger roofdier op Tess toesak. Hy het beloof hy sal haar “iets vreesliks aandoen” as sy vir enigeen sou vertel.

Tess het ná die tyd vir Beverly gesê Henri het dikwels dreigend sy vinger oor sy keel getrek (asof hy dit met ’n mes sny) as hy verby Tess geloop het of hulle alleen in ’n vertrek was. As Beverly terugkyk, was daar tekens wat sy as “tienernukke” afgemaak het. Tess het haarself onttrek en baie tyd alleen in haar kamer deurgebring. “Ek het die tekens gesien, maar niks daaraan gedoen nie. Hieroor kasty ek myself nou nog.”

Navorsing toon hoe effektief ’n kind cope met so ’n insident hang grotendeels af van hoe die ouer emosioneel cope.

Kry berading

Toe Beverly op ’n dag by die werk ineenstort, was dit die begin van haar pad na herstel. Haar bestuurder het vir haar ’n afspraak by ’n sielkundige gemaak en Beverly het berading ontvang. Kenners beklemtoon hoe belangrik dit is dat ma én kind terapie ontvang ná so ’n gebeurtenis.

Hoewel Tess ná maande van berading geleidelik weer haar ou self geword het, het Beverly maar onlangs eers weer vrede gevind. Soms oorval die angs haar nog skielik, maar sy sê sy het nou ná berading die vaardighede om dit te hanteer.

“As ek maar net geweet het hoe belangrik dit vir die ma is om ook berading te kry. Dit vat nie die seer weg nie. Dit vat nie dit wat gebeur het weg nie, maar dit help jou om daarmee te cope,” sê sy. “Geen ma het nodig om alleen deur so iets te gaan nie.” Beverly en Henri is drie jaar gelede geskei.

’n Saak van kindermolestering word teen Henri ondersoek. Hy is intussen verbied om enige kontak met Beverly en Tess te hê.

Heske Sangster en Anri van den Berg, onderskeidelik kindersielkundige en verhoudingsterapeut by die Vita Novasentrum in Pretoria, stem saam met Beverly dat jou kind én jy terapie moet kry wanneer julle uitvind sy is gemolesteer. Hoe vinniger die kind en ouer hulp ontvang, hoe beter.

Heske sê wanneer ’n kind onthul het dat sy seksuele mishandeling ervaar het, is veiligheid die eerste stap. “Die kind moet fisies en emosioneel veilig voel. Dit beteken dat die kind nie kontak met die oortreder moet hê nie. Sodra sy fisies veilig voel, kan daar aandag geskenk word aan emosies,” sê Heske. “Dit is my opinie dat daar dadelik met beide die ouer en kind gewerk moet word rondom trauma-reaksies en watter gevoelens normaal is. ’n Ontlontingsessie waar die kind en ouer se onmiddellike emosies hanteer word, sal ook goed wees. Daarna sal ek aanbeveel dat die kind en ouer inskakel by terapie.”

Volgens Heske sal die tipe hulp wat die ouer en kind kry, verskil, want die ouer moet geleer word hoe om die kind asook haar eie emosies te hanteer. Sy sê dit is moederlike instink om jou kind te beskerm en wanneer jy uitvind van die seksuele misbruik, voel jy dat jy as ouer misluk het.

Omstandighede rondom die misbruik kan ook die skuldgevoelens vererger soos wanneer dit ’n nabye kennis is of iemand wat in dieselfde huis woon. Baie keer voel die ma meer skuldig omdat sy nie die tekens raakgesien het nie.

“Kinders is veerkragtig en kan met ’n goeie ondersteuningstelsel weer heel word. Navorsing toon hoe effektief ’n kind cope met so ’n insident hang grotendeels af van hoe die ouer emosioneel cope. Dit is daarom baie belangrik om na jouself ook te kyk. Dit is ook belangrik om by ’n terapeut uit te kom wat genoegsame kennis van seksuele misbruik het om die regte hulp vir jou kind te kry,” sê Heske.

Kenners meen ’n ma wat uitgevind het haar kind is gemolesteer, gaan deur ’n rouproses. Sommige ma’s verwerk die trauma vinniger as ander en beweeg dus vinniger deur die proses. Volgens ’n artikel wat op socialwork.journals.ac.za verskyn het, gaan ’n ma wat uitvind haar kind is seksueel misbruik, deur verskillende stadiums insluitend skok, ontkenning, woede, blaam, skaamte, skuldgevoelens, ’n onvermoë om na die normale lewe terug te keer, dan kom genesing en aanpassing.

Ouers rou oor ’n verlies van ’n lewe wat hulle weet en besef nooit weer dieselfde sal wees nie. Indien die oortreder aan die ouers bekend is, sal hulle hartseer voel vir die verlies van vertroue. As die oortreder ’n eggenoot is, sal daar drastiese veranderings in die verhouding en gesinslewe wees. Dit sal moontlik lei tot skeiding en verlies van die gesinshuis asook finansiële sekuriteit.

Enige vorm van trauma het die moontlikheid om die ouer en kind se band negatief te beïnvloed. Dit is baie belangrik dat ouers die dinamika van seksuele misbruik verstaan en ingelig is rondom moontlike gedrag en invloed wat die misbruik op jou kind kan hê.

Só is die ouer toegerus om die kind te help cope in hierdie moeilike tyd en emosioneel by te staan. Dit is selfs moontlik dat die traumatiese gebeurtenis, indien dit reg hanteer word, die ouer en kind se verhouding kan versterk. Ongelukkig weet baie ouers nie hoe om hul kind te hanteer ná so ’n gebeurtenis nie, wat dan die verhouding kan belemmer.

Die stadium nadat jy uitvind, is ’n oorgangsperiode. Ma’s is onseker van die uitkoms van die kindermolesteringsverslag, die ondersoek, die hofproses en enige toekomstige planne vir haarself, die slagoffer en die res van die familie. Kenners van die groep Moms of Sexually Abused Children (www.mosac.net) meen ook dit is van uiterste belang dat jy as ma terapie ontvang asook om ondersteunende vriende te hê op wie jy kan staatmaak en wat jou nie oordeel nie. Jy moet ook ’n veilige plek het waar jy met iemand, soos ’n ondersteuningsgroep, kan gesels oor jou bekommernisse.

Help jou kind só

Maak seker jou kind voel veilig en dat julle ook toepaslike hulp kry. Julle moet ook oor die gebeure praat as sy gewillig is. Behou roetine, want kinders voel veilig in roetine en om nou alle reëls by die venster uit te gooi omdat jy jou kind jammer kry, kan jy haar verder ontstel.

Onthou ook dit is wetlik verpligtend om alle seksuele misbruik (selfs al is dit net ’n vermoede) by jou naaste polisie aan te meld.

Daar is ’n spesiale eenheid in die SAPD wat seksuele misbruik teenoor kinders ondersoek en hierdie tipe sake hanteer.

*Skuilnaam

KRY HIER HULP: Anri van den Berg van Vita Novasentrum: 0825414357; Lifeline: 0861 322 322; Rape Crisis Cape Town Trust (24 uur): 021 447 9762; Childline South Africa (24 uur): 0800 055 555; Stop Gender Violence: 0800 150 150.

Foto: Gallo Images /Getty Images


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Kindertrauma  |  Kindermolestering  |  Ouerskap  |  Berading
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.