Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oos-Kaapse man vermoor glo vrou ná sy hom los
16 Oktober 2019


’n Beskermingsbevel is een van die min dinge wat jy kan kry om jou teen gesinsgeweld te beskerm. Maar, soos dié O-Kaapse gesin uitgevind het, skrik dit glad nie oortreders af nie. 

Toe Angelique Clarke-Abrahams (25) die oggend van 29 Augustus die sekuriteitshek vir haar sesjarige seuntjie oopsluit, was sy reeds besig om ’n nuwe lewe, weg van haar abusive man, Carl Abrahams (30), te bou. Maar dit het alles daardie oggend in duie gestort, want Carl het die geleentheid om sy seun terug by sy ma te besorg, gebruik om haar een laaste keer by te kom . . .

Angelique van Brookville in Oos-Londen het in daardie stadium ná ongeveer drie jaar van mishandeling besluit om haar huwelik te beëindig. Sy het hom gevra vir ’n egskeiding en ook ’n beskermingsbevel teen hom aanhangig gemaak.

Vir haar was dit die begin van nuwe dinge – sy kon uiteindelik oor begin. Sy het in ’n plek van haar eie gekry en selfs die slotte van al die deure by dié huis vervang. Carl het egter gewag tot sy dink sy is veilig voor hy toegeslaan het. Hy het haar nooit voorheen voor hul kind leed aangedoen nie, maar toe doen hy hierdie keer presies dít. Carl het na bewering daardie oggend hul seun aangesê om ’n kombers oor sy kop te trek en in ’n hoekie te gaan sit terwyl hy Angelique getakel het.

Geen beskerming

Angelique Clarke-Abrahams op haar troudag.

Luidens berigte is Angelique só erg aan-gerand dat haar hele liggaam oortrek was met blou merke. Haar slaapbroek was om haar enkels en haar tong was half. Nie net was sy glo geslaan nie, maar ook seksueel aangerand ten aanskoue van haar kind.

Ná die aanranding het Angelique in die intensiewesorgeenheid beland en ná ’n week in ’n koma, het dié jong ma aan haar beserings beswyk. Net ’n dag ná die aanval op Angelique is die bokskampioen Leighandré Jegels (25) ook koelbloedig in Oos-Londen vermoor. Dié stad was in rou en raadop. Is daar dan niks wat vroue kan doen om hulself te beskerm teen intieme maats wat hulle wil seermaak nie?

Jeanette Barnard (61), Angelique se ouma, vertel met trane in haar oë van die mishandeling wat haar kleindogter moes verduur. “Hy mishandel haar al vir ’n hele ruk só. En sy het van hom probeer wegkom, maar hy het haar altyd opgespoor en seergemaak. Sy het uit haar ma se huis getrek omdat sy ’n plekkie van haar eie wou hê. Sy het haar spasie nodig gehad.”

Volgens Jeanette het Angelique ’n beskermingsbevel teen haar man en vermeende moordenaar gaan uithaal omdat sy gevrees het vir haar lewe. Angelique se seun het na bewering die hele voorval gesien (daarom word sy naam weerhou) en hy het reeds ’n verklaring by die polisie afgelê.

Kaptein Mluleki Mbi, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en het ook bevestig dat die slagoffer ten tyde van die voorval ’n beskermingsbevel teen haar man gehad het. Carl sal na verwagting later vandeesmaand weer in die hof verskyn. ’n Saak van verkragting is teen hom aanhangig gemaak en afhangende van haar doodverslag, sal ’n klag van moord ook dalk by die klagstaat gevoeg word.

Familie se seer

Maria Clarke (43), Angelique se ma, raak bewoë voor sy vertel sy verstaan nie hoekom haar skoonseun dit aan haar kind gedoen het nie. “Ek kon nie eens sy hofverskyning bywoon nie, want ek kon nie myself sover bring om hom in die gesig te kyk nie. Hoekom moes hy dit aan my kind doen? Sy het dit nie verdien nie. Hoe kon hy my kind op só ’n manier van my af wegvat? Wie het hom die reg gegee om te besluit dat hy haar lewe moes kortknip, sy was so jonk!”

Die ma sluk diep aan die knop in haar keel voor sy erken sy was hoopvol haar kind sou uit haar koma kom. ’n Doodse stilte heers voor Jeanette dit aan skerwe laat breek met haar rou snikke. Angelique en haar ouma het ’n baie hegte band gehad.

“Twee weke voor die voorval het sy ’n beskermingsbevel teen hom uitgehaal, omdat hy haar so erg verwurg het dat sy haar broek natgemaak het. Sy het tot in die middel van die pad gekruip en mense in die straat het die ambulans ontbied. Die merke van sy hande om haar keel was so wyd soos ’n fiets se binneband. Sy was potblou. Sy wou van hom wegkom, maar hy het haar nie ’n lewe gegun sonder hom nie,” sê sy. Dit vat ’n rukkie vir Jeanette om te be- daar en dié brose vrou vra saggies om verskoning vir haar uitbarsting. “Dís wat die ergste is, sy het probeer om weg te kom, maar sy het nie ’n kans gestaan nie . . .”

Volgens Jeanette is Carl weens die wurgvoorval in hegtenis geneem, maar iemand het sy borgtog betaal en hy is vrygelaat. Enkele dae daarna het hy Angelique in haar eie huis aangeval en vir die dood agterlaat. Met Kuier se besoek het Angelique se seuntjie rondgehardloop en was dit asof hy nie regtig besef het wat gebeur het nie. Maria sê haar kleinseun sukkel sielkundig.

“Ek het sedert die voorval uiters aggressiewe gedrag by hom waargeneem en ek vermoed hy het dit by sy pa gesien. Maar die kind skrik in die nag skreeuend wakker en hy maak homself nat. Hy gaan binnekort sielkundige berading ontvang. Hy sal moet. Ek weet nie hoe die kind hierdeur gaan kom en dit gaan verwerk nie.”

Twee weke voor die voorval het sy ’n besker- mingsbevel teen hom uitgehaal omdat hy haar so erg verwurg het dat sy haar broek natgemaak het.

WAT JY MOET WEET VAN ’N BESKERMINGSBEVEL

Volgens die Suid-Afrikaanse polisiediens se webtuiste is ’n beskermingsbevel daarop gemik om die herhaling van huishoudelike geweld of seksuele teistering te voorkom. Dit moet aandui van watter gedrag die beweerde oortreder homself (dit word meestal teen mans uitgehaal) van moet weerhou.

As die beweerde oortreder enige bepaling van die beskermingsbevel oortree, kan hy gearresteer word. Sodra ’n beskermingsbevel toegestaan is, kan dit enige plek in die land afgedwing word. Sodra ’n beskermingsbevel toegestaan word, verval dit nooit.

Volgens Family Law se webtuiste kan dit egter gewysig, teruggetrek of tersyde gestel word indien die klaer aansoek doen, maar slegs as die hof oortuig is die aansoek word vrywillig gedoen. “Indien die klaer die bevel wil kanselleer, moet sy skriftelik ’n beëdigde verklaring by die hof indien. Die hof sal die aansoek oorweeg, maar is nie verplig om die beskermingsbevel terug te trek nie. Die hof kan weier as daar geglo word die klaer het steeds beskerming benodig. Die landdros neem die finale beslissing oor die onttrekking en nie die klerk van die hof nie.”

André Kirsten van André Kirsten Attorneys in die Kaap sê ’n beskermingsbevel word ingevolge die Wet op Gesinsgeweld toegestaan en die doel daarvan is om beskerming te bied teen enige mishandeling – emosioneel of fisies. “Die polisie en die howe neem dié tipe bevel baie ernstig op. Indien die beweerde oortreder hom nie steur aan die vereistes van die bevel nie, kan die klaer haar lasbrief na die naaste polisiestasie neem en die polisie moet dan die oortreder in hegtenis neem. As hy voor die hof verskyn, is een van die eerste goed waarop die aanklaer aandring dat die oortreder glad nie meer kontak kan hê met die klaer nie.”

Volgens André is só ’n bevel baie effektief. Hy sê dit dra by tot ’n swaarder straf gedurende ’n hofsaak. Latifah Jacobs (43), ’n aktivis by One Billion Rising, ’n organisasie wat geweld teen vroue beveg, sê egter ’n beskermingsbevel is niks anders as ’n stukkie papier nie. “Om die eerlike waarheid te sê ’n protection order werk glad nie. Hoeveel vroue wat die laaste ruk vermoor is, het nie beskermingsbevele teen hul moordenaars gehad nie? Dit werk eenvoudig nie.”

Sy meen oortreders van só ’n bevel moet glad nie op borgtog vrygelaat word nie. “Die oortreders word op borg van R500 vrygelaat en pleeg wéér dieselfde misdaad en dié keer erger. Dis regtig net papier wat geen beskerming bied aan vreesbevange vroue nie.”

Meer oor:  Kuier  |  Geslagsgeweld  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.