Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Op 70 lewe Annelisa Weiland voluit
22 Januarie 2020


Die meeste Suid-Afrikaners het haar leer ken as die eksentrieke Hildatjie van 7de Laan met haar serpies, interessante kosskeppings en sagte hart. Maar in werklikheid is Annelisa Weiland (70) ’n onverwagse enigma wat haarself telkens herontwerp om die afgelope amper 50 jaar relevant te bly in die vermaakbedryf.

En sy was nog nooit spyt sy het hierdie lewenspad vir haarself gekies nie. “Toe ek baie jonk was, wou ek pianis word, maar ek was beslis nie goed genoeg nie en heeltemal te senuweeagtig!” lag sy. Hoewel sy ’n bekende gesig in al wat ’n Suid-Afrikaanse huishouding is, sien sy haarself nie as ’n celebrity nie.

“Ek is eintlik skaam, want toneelspel is al wat ek kan doen en ek doen dít nie aldag eens so goed nie,” verduidelik sy. Deesdae droom sy daarvan om dalk eendag te skryf oor haar grootwordjare in die Kaap. “My ouers was fantasties en hulle het ons op ’n besonderse unieke manier grootgemaak.” Sy vertel haar ma het die lewe gesien as ’n rede om te vier. “Sy was naïef op ’n manier, kinderlik . . . Sy het ons geleer oor die magic van die lewe. Dít sal ek wil deel met mense.”

Ná 50 jaar voel Annelisa sy het steeds baie om te leer oor die bedryf. “Dis soos enige beroep in die wêreld – you never get there. Dis die heeltyd ’n proses en jy moet op jou tone bly anders gaan jy stomp raak.” Sy meen as jy begin, is daar uitdagings en jy leer deur jou onkunde, maar soos tyd verloop, raak ’n mens weer onseker oor ander dinge.

“Een van my uitdagings tans is om aan die lewe te bly,” skerts Annelisa met ’n ondeunde glimlag. Al het sy die laaste klompie jare in die sepie-formaat gewerk, is dit steeds vir haar ’n uitdaging om haar fokus te behou op die dag se werk. “Een ding is seker, as akteur moet jy baie aanpasbaar wees. Ek sukkel nogal oor die algemeen om vloeibaar te wees in die lewe en nie rigied te raak oor enigiets nie.”

Lief vir haar werk

Vir haar het die bedryf aansienlik verander. “Die jong mense is nou baie meer toegerus om enigiets te doen met hul talente as ons. Hulle is ook baie beter met hulle geld bestuur as wat ons was, baie meer streetwise en veelsydig. Vir ons was dit net so fabulous om te kan toneelspeel, ons het ons nie eintlik bekommer oor ons oudag nie, solank daar genoeg geld vir ’n bietjie wyn was!” lag sy. Met die koms van televisie was Annelisa se generasie nog meer opgewonde oor hul beroep.

“Elke keer wat een van ons op die kassie was, het ons ’n party gehou. Dit was fantasties!” onthou sy. Iets wat sy deesdae egter ’n bietjie mis in die bedryf is die dissipline en werksetiek waarmee haar generasie opgelei is. “Baie keer gaan die instant fame na hul koppe toe, hulle besef nie eintlik dit beteken regtig niks nie. Om ’n akteur te wees, maak nie van jou iets spesiaals nie. Dis net ’n werk. Dis nou net dat jou gesig meer gesien word. Dít is nie waaroor jou loopbaan behoort te gaan nie,” meen sy.

Vir ’n akteur om gereeld werk te kry, moet jy altyd goed voorbereid wees, toegewyd wees en ’n goeie spanwerker wees. “En jy moet blerrie oulik wees, soos ek!” terg sy. Vir haar is die slegste ding van haar beroep om konstant al haar woorde te leer, maar die lekkerste ding is om daardie woorde te kan vertolk.

Sy was vir 19 jaar Hilda in 7de Laan.

Annelisa het onlangs, ná jare in Gauteng, weer teruggetrek Kaap toe om deel te word van die Ruiterbosch-gemeenskap in die geliefde sepie Suidooster. Sy vertolk die rol van Kate Vosloo, Michelle se ma. Om ná soveel jare in die bedryf steeds werk te kan kry, is vir haar net ’n voorreg.

“Ek sou dit verkies het om te werk omdat ek wou, nie omdat ek moes nie, dan kon ek ’n bietjie meer kieskeurig wees,” vertel sy grappig. Tog voel sy om op 70 nog te kan werk, hou haar jonk, besig en gee struktuur aan haar lewe.

“ ’n Mens moet versigtig wees vir tyd verloor van niksdoen as jy aftree – ’n mens sien dit so baie.” In haar beroep is een van die belangrikste eienskappe uithouvermoë. “Jy moet ’n bietjie van ’n dik vel ontwikkel om al die kritiek te kan verwerk. Dis deel van die package omdat jy jouself so blootstel. Gelukkig kan jy kritiek gewoonlik konstruktief aanwend, maar as dit net iets bitsig is, moet jy leer om dit te ignoreer,” is Annelisa se raad. Verder moet jy jou werk waardeer en geniet.

“Enige werk wat jy móét doen, is eintlik ’n schlep. Maar as jy jouself kan kry om dit te wíl doen, kan jy dit geniet.” Op hierdie stadium van haar loopbaan het Annelisa al amper elke rol vertolk wat sy denkbaar kon. “Ek sou nie sê ek het nog drome oor nie, maar as iets fantasties oor my pad kom, sal ek dit aanpak. Ek sal nie omgee om weer in ’n klassieke stuk, soos Shakespeare, te speel nie.”

Sy verklap vir die meeste akteurs is die teater waar alles begin, omdat dit so ’n lewendige medium is en jy kan die gehoor se reaksie voel – dís terugvoer wat ’n akteur nodig het om behoorlik te kan blom. “In ’n TV-ding is jy ’n bietjie afgeslote van die gehoor, so jy werk amper in ’n lugleegte. Op daai manier is die beloning nie werklik daar nie.”

TV het weer ander lekkertes en uitdagings. “Omdat jy heeltyd op die kassie is, onthou mense jou. Hoewel ek altyd verbaas is as iemand my herken. Die meeste van die tyd spring ek vinnig in die kar met my ou klere aan sonder om te dink dat mense my gaan herken!”

Dit is vir my belangrik om nou ’n bietjie meer kwaliteitgoedjies te doen en myself te omring met mense vir wie ek lief is.

Vrese en seëninge

Hoewel ’n mens nie sou sê Annelisa, met haar vietse lyfie, sprankel in haar oë en jeugdige lag, is al 70 nie, begin die vrese van ouderdom haar bietjie bekruip. “Vir ’n akteur is een van die belangrikste dinge om jou woorde te kan onthou, dat jy fisies gesond genoeg is om die job te kan doen . . . En dié goed kan ’n mens laat bekommer, maar dit help nie om dit na jou toe aan te trek nie. Ek dink op ’n stadium moet jy maar net vreesloos aanf@k . . . Ek ignoreer die meeste van die tyd ouer word,” sê sy ernstig.

Sy het egter onlangs besef sy kan nie meer so rats by ’n leer op en af woerts warts nie en dat sy nie heeltemal so sterk is nie. “’n Mens moet respek hê vir die ouderdom. Dis nie vir sissies nie.”

In haar persoonlike lewe probeer sy deesdae om die belangrike mense in haar binnekring meer te koester en amper te “herwaardeer”. Sy probeer ook om die rustiger pas van die Kaap te omhels en die lewe ’n bietjie meer te geniet. “Dit is vir my belangrik om nou ’n bietjie meer kwaliteitgoedjies te doen en myself te omring met mense vir wie ek lief is.”

Hoewel sy ietsie van haarself agterlaat in haar rolle, erken Annelisa sy is anders as wat baie mense dink. Vir haar is vryheid belangrik. “Vryheid van hoe ek voel, wat ek wil sê, hoe ek wil beweeg. Ek is onkonvensioneel. Ek is ’n georganiseerde mens met ’n bietjie chaos tussenin.”

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

* Grimering en stilering: Kyra Loubser

* Klere en skoene: MRP

Meer oor:  Kuier  |  7De Laan  |  Suidooster  |  Annelisa Weiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.