Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ystertekort: Ken die tekens en beskerm jouself
Food sources of protein, isolated, top view.  Incl


Die lewe is so ’n gejaag – van skool na werk en weer terug. Huis skoonmaak en met vriende kuier. ’n Mens het lankal nie meer tyd vir ’n goeie nagrus elke aand nie, so die meeste mense kom nie eens meer agter hulle is nie net moeg nie, maar amper dood op hul voete.

Dit kan egter meer as net gewone tamheid wees. In Suid-Afrika word beraam dat een uit elke twee vroue sukkel met ’n ystertekort en wêreldwyd is daar meer as 2 biljoen mense met dieselfde probleem. Die goeie nuus is egter dat dit heeltemal voorkombaar en oorkombaar is met ’n paar eenvoudige dieetveranderings en ’n aanvulling of twee.

“Ek was so moeg ek kon my hande nie oplig nie. Die hele tyd. Die moegheid het my depressief en na aan trane gehad meeste van die tyd. Ek het soos ’n zombie deur die lewe gestrompel,” vertel Annalise Duvenhage (37), ma van drie van Greenside in Johannesburg. Sy het gedink slapeloosheid en ouerskap was besig om haar ore aan te sit. Sy het ook begin wonder of die feit dat sy gereeld na haar asem snak, futloos voel, haar kop soms draai en haar bors partymaal pyn, dalk simptome van angs is. “Party dae kon ek nie van my kar af tot by die voordeur stap sonder om te voel ek wil ineensak nie.”

Annalise het ook vergeetagtig geword en haar eetlus het verdwyn. Al wat sy heeldag wou doen, was lê. Uiteindelik het sy besluit om haar huisdokter te besoek om ’n verwysing na ’n sielkundige te kry. Nadat hy na haar simptome geluister het, het hy vinnig ’n toets gedoen en Annalise is met ’n ystertekort gediagnoseer.

“Ystertekort vind plaas wanneer die liggaam se ystervoorraad uitgeput raak,” verduidelik dr. Jarrad van Zuydam, ’n dokter van Netcare Waterfall City in Gauteng wat spesialiseer in sportmedisyne. Yster speel ’n baie belangrike rol in die vervaardiging van hemoglobien. Hemoglobien vervoer suurstof deur jou liggaam en die suurstof is nodig om energie te maak. In eenvoudige taal beteken dit as jou ystervlakke laag is, kan jou liggaam nie genoeg hemoglobien maak nie en dan ontvang jou selle minder suurstof, wat beteken hulle maak minder energie.

Toets vir dié simptome

Wanneer ’n mens ’n ystertekort het, is die simptome gewoonlik ooglopend, maar so alledaags dat jy jouself moontlik nie daaraan sal steur nie. Dit sluit in moegheid – ’n tamheid wat maar net nie wil verdwyn nie, swakheid en jy is bleek om die kiewe. Jou naels is bros en breek maklik en jou hare val handevol uit. Mettertyd sal jy ook dalk borspyne, vinnige of onreëlmatige hartkloppings, hoofpyne en duiseligheid ervaar en kortasem wees.

Jou hande en voete sal soos ysblokkies voel. Jou eetlus sal verdwyn en in buitengewone gevalle sal jy ongewone cravings hê soos byvoorbeeld vir ys of grond. Dít gebeur gewoonlik eers wanneer jy anemie (bloedarmoede) begin ontwikkel. As jy enige van dié simptome ervaar, raai Van Zuydam jou aan om jou ystervlakke te laat toets.

Wat kan jy doen?

Ysterryke kosse sluit in rooivleis. Hoender, vis, eiers, skulpvis, bone en donker blaargroente bevat ook yster.

Die meeste goeie apteke verkoop deesdae ’n selftoets wat vinnig resultate lewer. As jou yster te laag is, is dit baie belangrik om op te volg met jou dokter en met behandeling te begin. Gewoonlik is dit nie ’n vreeslike gedoente nie – dit kan so eenvoudig wees soos klein aanpassings in jou dieet en yster-aanvullings.

Ysterryke kosse sluit in rooivleis (veral orgaan-vleis soos lewer en niertjies). Hoender, vis, eiers, skulpvis, bone en donker blaargroente bevat ook yster.

Volgens Van Zuydam is die algemeenste oorsake van ystertekort ’n slegte dieet, as jou liggaam yster nie goed genoeg absorbeer nie, bloedverlies (byvoorbeeld menstruasie) of ’n groter behoefte aan yster, soos wanneer jy swanger is.

“Vroue is veral kwesbaar vir ystertekort want wanneer hulle menstrueer, verloor hulle bloed en daarmee saam rooibloedselle en yster,” verduidelik hy. Vroue wat sport beoefen se risiko is nog groter om ’n ystertekort te hê.

Jou liggaam stoor yster in jou spiere, lewer en beenmurg. Al dink jy jy kry genoeg yster in jou dieet, is daar sekere kosse wat jou ysterabsorpsie kan blokkeer. Dit sluit in heelgraan, peulvrugte, neute en sade. Navorsing het ook bewys om tee, melk en ander suiwelprodukte, koffie of rooiwyn saam met jou kos te geniet, kan jou ysterabsorpsie belemmer.

Dit beteken egter nie dat jy dié kosse uit jou dieet moet sluit nie. Groente wat baie vitamien C bevat (soos tamaties en soetrissies) kan help om ysterabsorpsie aan te moedig. So, die sleutel is ’n gebalanseerde bord. Vegetariërs moet ’n bietjie meer konsentreer op hul diëte omdat die hoogste kwaliteit yster in vleis voorkom. Dit is egter nie onmoontlik om, met ’n bietjie moeite, steeds gesond te leef nie. Sluit meer tofu, bone en broccoli in jou dieet in.

As jy lam en tam voel, is dit raadsaam om jou ystervlakke so gou moontlik te laat toets om jou lewensgehalte te verbeter. Hoewel ’n ystertekort nie sommer noodlottig kan wees nie, kan dit, indien onbehandeld gelaat, ontaard in ystertekort-anemie, wat rampspoedige gesondheidsgevolge kan hê soos hart- en orgaanprobleme.

Die yster-aanvullings kan newe-effekte hê soos naarheid en hardlywigheid, maar dit is niks wat nie oorkom kan word nie en dis baie beter as om heeldag soos ’n slapende skoonheid te voel. Bly egter sover moontlik weg van binne-aarse ysterbehandeling, waarsku Van Zuydam. Nie net is dit in die meeste gevalle onnodig nie, maar kan maklik tot ernstige allergiese reaksies en nagevolge lei.

Dit is belangrik om te besef ’n ystertekort en anemie is nie dieselfde ding nie, hoewel ystertekort dikwels ’n voorloper-oorsaak daarvan is. Jy kan ’n ystertekort hê sonder dat jy lae hemoglobienvlakke (anemie) het. Maar as jy oor ’n lang tydperk met ystertekort sukkel sonder behandeling, sal dit moontlik uiteindelik tot anemie (tekort aan hemoglobien) lei omdat jou liggaam die vermoë om hemoglobien te vervaardig, stelselmatig verloor.

As jou ystervlakke so laag word dat jou liggaam se ystervoorrade opraak en jou vlak van rooibloedselle laer as normaal is, het jy volslae ystertekort-anemie. Anemie kan egter ook deur vele ander toestande veroorsaak word, insluitend kanker, vigs en ander chroniese siektes.

Die lewe is uitputtend genoeg. Moenie toelaat dat ’n ystertekort jou ook probeer onderkry nie. Toets jou vlakke vandag nog as jy enige van die simptome ervaar.

Simptome van 'n ystertekort
  • Erge moegheid
  • Hoofpyn
  • Onreëlmatige of vinnige hartkloppings
  • Duiseligheid
  • Koue hande en voete
  • Bleekheid
  • Slegte eetlus
  • Swakheid
  • Kort van asem
  • Borspyn

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Yster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.