Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kredietkaarte: Maak 'n ingeligte keuse


‘n Kredietkaart kan handig wees, veral wanneer jy erg in die nood is. Jy moet egter onthou as jy wild tekere gaan sonder goeie finansiële beplanning, kan jy jouself en jou kredietrekord in die voet skiet.

Matthys Potgieter, ’n skuldkenner by DebtSafe, en Lindy Cramer, ’n bankdienskonsultant, gee raad en beantwoord vrae oor wat jy alles in gedagte moet hou as jy een wil hê of reeds een het.

“Krediet is nie ’n slegte ding nie, hoe jy dit egter gebruik kan tot finansiële vryheid of ’n skuldramp lei,” sê Matthys. Verder moet jy gedissiplineerd wees (byhou met jou betalings) en jou huiswerk deeglik gedoen het oor die kaart wat jy wil hê. Net dán kan jy dit oorweeg om ’n kredietkaart te kry.

Wat is die verskil tussen die terugbetaalopsies “budget” en “straight”?

Straight-transaksies op die kredietkaart is wanneer jy die bedrag wat jy skuld, in die volgende maand moet betaal. As jy dit laat betaal, gaan daar rente bykom. Daar is gewoonlik ’n rentevrye periode vir terugbetalings van tussen 50 en 55 dae. So as jy jou balans in dié tydperk betaal, betaal jy geen rente nie.

Budget is wanneer jy die bedrag oor ’n sekere tydperk terugbetaal met die vasgestelde rente. Die budget-opsie op die kredietkaart is amper soos om ’n lening uit te neem, want jy betaal dit terug in maandelikse paaiemente. Met die rente werk dit uiteindelik duurder uit vir wat jy gekoop het, maar jy kry meer tyd om jou skuld af te betaal.

Kwalifiseer jy?

Wanneer jy aansoek doen, word jy geassesseer om te bepaal of jy ’n kredietkaart kan bekostig. Jy moet ouer as 18 wees en ’n inkomste het. Daar kan bykomende vereistes wees soos ’n goeie kredietrekord. Jy moet jou instansies vra wat hul vereistes is.

Hoe word die minimum bedrag wat jy terugbetaal, bepaal?

Instansies se persentasie van terugbetaling verskil. Sê nou maar die minimum terugbetaling is 10%. Jy het krediet van R3 000,

maar gebruik net R1 000 daarvan, dan sal jy 10% daarvan moet betaal plus rente as dit van toepassing is.

Kan jy met die instansie onderhandel om jou rente te verander?

Jy kan, maar dit hang af van jou kredietprofiel. As jy ’n baie goeie kredietrekord het, is die kanse goed dat hulle jou sal toelaat om te onderhandel.

Is daar enige fooie aan ’n kredietkaart verbonde?

Dit hang af van die instansie waar jy die kaart kry. Daar kan wel fooie wees soos diensfooie en fooie wat jy aan die begin moet betaal om die kaart te kry.

Wat doen jy as jy nie ’n paaiement kan betaal nie?

Gaan na die instansie en verduidelik hoekom jy nie kan betaal nie. Verskillende instansies het verskillende reëls. Jy moet tog onthou dat as jy paaiemente mis, dit ’n negatiewe impak op jou kredietrekord kan hê.

Moet jy jou paaiement deur debietorder betaal of kan jy kontant betaal? Het jy ’n keuse?

By sommige instansies kan jy kies en by ander is dit outomaties afhangend van jou kredietrekord.

Kan jy geld spaar in ’n kredietkaart-rekening?

Jy kan in jou kredietkaartrekening spaar en by baie instansies kry jy goeie rente op jou positiewe balans.

Kan jy ’n limiet op jou rekening stel?

Ja, jy kan. As jy vir meer kwalifiseer as wat jy wil hê, dan kan jy dit verlaag.

MOET EN MOENIES

• Probeer om meer as jou minimum bedrag te betaal. Dit sal ook help vir ’n goeie kredietrekord.

• Maak seker jy verstaan al die bepalings en voorwaardes van jou kontrak, soos weet wat is die minimum persentasie wat jy terug moet betaal, wat is die rente, watter ander fooie daar is en al die voordele en nadele.

• Moenie meer koop as wat jy kan betaal nie.

• Moenie een kredietkaart met die ander een afbetaal nie. Jy is besig om ’n groot gat vir jouself te grawe omdat jy die skuld “herwin”. Jy sal ook minder geld het om te spaar of te spandeer.

Wanneer jy aansoek doen vir ’n kredietkaart, maak seker dit is die een vir jou. Doen eers jou huiswerk oor instansies en wat hulle vir jou kan bied voor jy ’n besluit maak.

Meer oor:  Krediet  |  Kuier  |  Kredietkaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.