Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Op seer se spoor
11 Julie 2018

Op Seer Se Spoor, Kuier se misdaadreeks Dinsdae 20:30 op kykNET&kie, trek nou eers in die helfte van die seisoen, maar ons is absoluut verstom oor kykers se reaksie op die program vanaf die eerste episode!

Ernusta Maralack, Kuier se artikel-redakteur en aanbieder van die program, is steeds stomgeslaan oor hoe positief mense op die program reageer – selfs al laat dit hulle huil.

“Wat my opval, is hoe dankbaar kykers is dat ons mense se stories vertel, wat andersins nie elders gehoor sou word nie. Hulle voel verskriklik jammer vir die slagoffers se families, maar is ook dankbaar dat hulle as ’n gemeenskap nou die geleentheid kry om saam met hierdie families te rou en hulp aan te bied waar hulle kan,” sê Ernusta.

Só is daar ’n kyker wat haar hand opgesteek het en mense aanmoedig om vir Reinette Neelse van Caledon (episode 3) te help om ’n grafsteen vir haar vermoorde tweejarige tweelingdogters te laat maak. Dan is daar ook ’n sielkundige wat aangebied het om Gaynor Ross, die vermoorde Lee Adams (15) se ma, te help.

Ná elke episode stroom die kommentaar in:

Beaulah Kruger was ná die heel eerste episode oor Kathy Alexander van Bonnievale getref oor die verge-wensgesindheid van Kathy se ma wat haar dogter se moordenaar vergewe het. Sy het die volgende gesê: “Vanaand het Kathy se ma my gewys wat ’n ware Christen is. Sy het my gewys hoe die Here ons onvoorwaardelik vergewe. God se vergifnis in menslike vlees gewys. Dankie, my auntie, ek ken u nie, maar ek het baie by u geleer. Mag die God van vrede u meer en meer gebruik om ons stukkende gemeenskappe te heel.”

Die Bredasdorp-storie, toe Ernusta Anene Booysen en ander wrede moorde van jong vroue herbesoek het, het ook groot aftrek gekry. “Op Seer Se Spoor is die beste. Ek kon nie die program met droë oë kyk nie; dis baie hartseer vir families wat kon praat oor die seer wat hulle deurgemaak het,” was Nicky Malgas se kommentaar.

Reinette se storie in episode 3 het Chérie Rie Klaase genoop om op Facebook te sê: “Netta, ek as Caledonner laat my kop in skaamte sak. Al was ek nie daardie deel van die skare wat staan en toekyk het nie, vra ek, vergewe my. Ek is jammer ek het nie gehelp nie. Ek is jammer ek was nie daar nie. Ek kan verstaan waarom jy in die situasie is waarin jy jou tans bevind, maar ek weet die Here is besig om aan jou getuienis te werk sodat jy vir ander mammies daarbuite sal sê, ‘kyk waardeur het God my gedra’ .”

Oor Lee Adams se storie in episode 4, sê Sofia Eviesen: “Ek onthou dit nog soos gister. Lee het nog die vorige dag bal geskop in ons straat en die volgende aand is hy vermoor. Eish, die hele gemeenskap was in rou.”

Hierdie is maar net enkele voorbeelde van hoe Op Seer Se Spoor mense raak. En ons hoop regtig ge-meenskappe gaan beter na mekaar begin kyk sodat ons hierdie misdaad-euwels kan hokslaan.

Meer oor:  Kyknet&Kie  |  Ernusta Maralack  |  Op Seer Se Spoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.