Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oppas vir te vinnig google as jy siek voel
12 Junie 2019


Jy het ’n kloppende hoofpyn, is lighoofdig en dit voel asof jy ’n effense koors het. Deesdae is die eerste ding wat baie mense doen, nie om hul dokter te bel of ’n afspraak te maak nie. Nee, jy gaan op Google en tik jou simptome in en in ’n japtrap het jy ’n diagnose.

Maar dis beslis nie so maklik soos dit nie, want “dr. Google” gaan ’n magdom moontlikhede uitspoeg. Heel moontlik is die regte diagnose onder hulle, maar hoe kies jy tussen al die moontlikhede wat kan wissel van ’n migraine tot breingewas? Só kan jy jouself nog erger laat voel weens stres en kommer omdat Google vir jou sê jy het ’n tumor wanneer dit eintlik net ’n spanningshoofpyn is, meen dr. Sindi van Zyl van Johannesburg.

Maar daar is redes hoekom mense deesdae hulself eers na Google wend en die grootste is die stygende koste van mediese sorg – van jou mediese fonds tot duur pille. Daarom wil mense nie meer onnodige geld uitgee op dokters en voorskrifte nie.

Mense se tyd is ook min, so baie sien nie kans om ure lank by ’n kliniek of daghospitaal te sit nie. Baie verkies dus om self te probeer uitvind wat fout is en vinnig iets by die apteek te kry eerder as om tyd of geld te mors. Dít kan egter lewensgevaarlik wees, want jy kan maklik ’n verkeerde diagnose maak. Kenners maan jy kan jou lewe in gevaar stel of permanente skade aanrig wanneer jy ’n bron van die internet met jou gesondheid vertrou.

Lelik vasgeloop

Navorsing het gewys tot 80% van Amerikaanse internetverbruikers kyk aanlyn na gesondheidsverwante onderwerpe. Volgens Statistieke Suid-Afrika is daar nie tans soortgelyke syfers vir Suid-Afrika beskikbaar nie, maar navorsing in 2018 het wel aangedui dat 60% van Suid-Afrikaners wel nou toegang tot die internet het.

“Hoe meer Suid-Afrikaners toegang het tot die internet, hoe makliker word dit vir mense om te self-diagnoseer. “Dit is nie iets wat ons kan keer nie. Mense is nuuskierig en ons lewe in ’n era waar mense nóú antwoorde wil hê,” sê Van Zyl. “As jy byvoorbeeld op ’n Saterdagaand by ’n braai kuier en skielik nie lekker voel nie, wil jy nie tot Maandag wag wanneer jy ’n afspraak by jou huisdokter gaan kry nie. So wat doen mense? Jy haal jou foon uit, sit gou jou simptome in Google en kyk wat alles uitskop.

As dit iets ernstig is, gaan jy dokter toe en as Google vir jou sê dit is nie ernstig nie, gaan jy dalk môre gou apteek toe,” sê sy. Volgens haar ondervind sy hierdie gedrag baie met mense wat haar via sosiale media kontak om te bevestig of wat hulle op Google gesien het, waar kan wees. Maar ongelukkig kan dokters ook nie net raai nie, verduidelik sy.

Dokters moet ’n pasiënt ondersoek om te bepaal wat eintlik fout is. Eloise Baartman (35) van Somerset-Wes buite Kaapstad het haarself onlangs amper tot ’n paniekaanval opgewerk toe sy ná drie weke van hoes en sleg voel, haar simptome gegoogle het. Sy het eers gedink dis net ’n verkoue en het toe medisyne oor die toonbank by die apteek gekry. Maar ná drie weke het dit net erger geword. Haar mediese fonds was amper uitgeput en sy wou eers kyk of sy nie net ander medisyne kon gaan koop om haar beter te laat voel nie.

Toe sy egter haar simptome google, het sy gelees dit kan dalk TB wees. “Ek het so groot geskrik, want ’n mens hoor mos nooit goeie dinge van TB nie, net dat dit gevaarlik is en dat jy ander kan aansteek. Omdat ek bang was ek sou my gesin of kollegas aansteek, het ek onmiddellik ’n afspraak by my dokter gemaak, maar hy kon my eers ’n dag later sien.

Dit was die langste wag van my lewe; ek was só bang om te hoes. Maar toe ek daar kom, het hy vir my gesê dit is brongitis en ’n bietjie infeksie en dat ek nog vir ’n tydjie kon hoes, maar dat dit nie gevaarlik is nie,” sê sy.

Hospitaal toe

George Karlse (55) van Retreat in die Kaap het ook ’n soortgelyke ondervinding gehad waar dit wat hy op Google gesien het, glad nie die probleem was nie. Maar in sy geval kon dit ernstige gevolge gehad het as sy vrou hom nie aangeraai het om eerder dokter toe te gaan nie. Sy familie het vakansie gaan hou in Thailand en toe hulle terug is in Suid-Afrika, het hy skielik ’n erge kramp in sy been begin kry.

Hy het niks daarvan gedink nie en op die internet gaan soek om te kyk wat hy daarvoor kan drink. “Die volgende oggend was dit steeds seer, maar ek het net aanvaar dit was weens die vorige dag se lang vlug. Ek het gedink ek het dalk net te lank gesit en dat die pyn deur die dag sal weggaan.

Maar toe dit teen die aand net al hoe erger word, het my vrou gevoel ons moet noodeenheid toe. Toe ons daar aankom, is ek onmiddellik opgeneem vir deep vein thrombosis,” sê hy. “Dit is ’n bloedklont wat in ’n aar diep in die liggaam vorm. Dit kom meestal in die onderbeen voor en kan tot in jou long skiet wat lewensgevaarlik kan wees. Ek was vir ’n week en ’n half in die hospitaal en dít omdat Google my verseker het dit is ’n kramp.”

Dis maklik om iets te google, maar nie almal gaan die regte antwoord kry nie, en dit is gevaarlik.

Pasop!

Dr. Marion Morkel, hoofmediese beampte by Sanlam, stem saam dat ál meer pasiënte hul simptome google voordat hulle ’n mediese dokter of professionele mens raadpleeg. Sy sê aangesien die internet mense 24/7 toegang gee tot inligting, meen baie dis die maklikste manier vir hulle om ’n tweede opinie te kry of duidelikheid te kry oor doktersadvies.

Volgens haar is daar egter net soveel onakkurate as akkurate mediese inligting aanlyn en al kan sommige mense dus by die regte antwoord uitkom, werk dit nie in die meeste gevalle so nie. Van Zyl sê ’n ondersoek wat in 2014 in die mediese joernaal Open Medicine gepubliseer is, het gaan kyk na mediese inskrywings op Wikipedia oor gewilde mediese onderwerpe.

Die ondersoek het bevind nege uit tien van die inskrywings waarna gekyk is, bevat onakkurate mediese inligting. Ander data wat gepubliseer is in die BMJ Journal in 2017 dui egter daarop dat mediese besoeke 41% van die internet self-diagnose bevestig. “Dis maklik om iets te google, maar nie almal gaan die regte antwoord kry nie, en dit is gevaarlik.

Aangesien mense deesdae so maklik inligting en diagnoses kan kry, dra dit ook by tot ’n toename in die aantal mense wat aan cyberchondria lei.” Dié term verwys na mense wat heeltyd hulself met allerhande toestande diagnoseer en die gepaardgaande toename in sielkundige afwykings (soos angs). Maar volgens Van Zyl is nie alles aanlyn sleg nie.

Sy sê die inligting wat sy self aanlyn gedeel het, het al baie mense meer bewus gemaak van ’n moontlike gesondheidsprobleem en gehelp dat hulle vinniger by ’n dokter uitkom.

Volgens die Health Professions Council of South Africa (HPCSA) se regulasies word medici in Suid-Afrika nie toegelaat om konsultasies via sosiale media (soos Facebook en Twitter) te doen of enige skedule 4-medikasie voor te skryf nie, maar al hoe meer mediese fondse bied kliënte nou die opsie vir virtuele dienste. Volgens dr. Morkel kan hierdie opsie ’n groot verskil in die toekoms van mediese sorg maak, veral om te keer dat mense weens gerieflikheid self-diagnoseer. Maar die goue (én veiliger) reël bly: “Dr. Google” het sy voordele, maar ’n “regte” dokter bly die beste opsie as jy in een stuk wil bly.

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.