Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oppie TV: Kyk hoe word telenovelas gemaak
19 Februarie 2020
Jacques Bessenger record in Afrikaans vir sy karakter in Bittersoet.

Die lewe is so gejaagd dat jy deesdae skaars tyd kry om te ontspan. Dit voel baie keer asof jy meer goed moet doen as wat daar ure in jou dag is en daarom is dit nie verrassend dat Suid-Afrikaners so behep is met hul sepies en telenovelas nie.

Dit is in daai uur of twee waarin jy kan ontspan, voor die televisie inskuif en jou- self in die drama inleef. En hoe meer drama, skandale en aksie, hoe lekkerder.

Later begin dit glad voel asof jy regtig die karakters ken en jy skel hulle sommer ook. Al is die sepiekultuur groot in Suid-Afrika, is die 700 000 tot 1,2 miljoen telenovela-kykers in die land ’n teken dat hierdie genre besig is om vinnig deel te word van mense se daaglikse vermaak. Baie van die telenovelas wat nou op plaaslike TV wys, word egter oorsee gemaak en dan oorgeklank.

Maar die meeste kykers is glad nie gepla nie en vind dit opwindend as hulle hul gunsteling- plaaslike akteur se stem herken in die lyf van ’n sexy Turkse man of ’n antie wat nie nonsens vat nie.

Maar hoekom is so baie Suid-Afrikaners so mal oor telenovelas? Hulle soek ’n uitlaatklep en in daai tyd wat hulle afknyp om hul gunsteling-show te kyk, vergeet hulle vir ’n oomblik van hul eie drama en chaos.

Latyns-Amerikaanse telenovelas wat in Engels oorgeklank word vir plaaslike kykers, word al vir meer as 25 jaar in Suid-Afrika uitgesaai, maar sedert 2010 het Turkse telenovelas wat in Afrikaans verskyn, nog meer gewild geraak. Sedertdien kan kykers net nie genoeg kry van hierdie vinnige storielyne wat oor ’n paar maande uitspeel nie. Die grootste verskil tussen telenovelas en sepies is juis dat telenovelas ’n vinniger pas het en die hele reeks gewoonlik binne ’n jaar klaarmaak met storielyne wat meer gedramatiseer is en ook vinnig verander.

Sepies se storielyne word vir langer uitgerek en kan vir jare aanhou. Maar met ’n verskeidenheid telenovelas om van te kies, hoef Suid-Afrikaners nie hulself te bekommer oor hul drama-dam wat binnekort gaan opdroog nie. Want sodra daar een klaarmaak, is daar ’n nuwe een wat wag om sy verskyning te maak. Op e.tv wys tans twee tot drie Turkse telenovelas, terwyl eExtra twee Latyns-Amerikaanse telenovelas, vier van Indië en drie tot vyf Turkse telenovelas het.

Die klankspan pas die recordings by die beeldmateriaal.

Die proses

En al lyk dié stukke asof dit net klank is wat oor video opgevang is, is die proses wat daarmee gepaard gaan ’n interessante een, want die akteur sit nie net voor ’n mikrofoon en record die woorde nie. Hulle kyk eers na die oorspronklike toneel en veral na hoe die akteur act. Hulle leer dan hul vertaalde woorde vir die toneel net daar en leef hulself in die toneel asof hulle werklik deel is van oorspronklike stuk.

Daarna word die klank na die “stem-studio” gestuur waar stemingenieurs na die klank luister om dit by die regte mondbewegings op die video te pas. Hierdie proses vat gewoonlik twee tot drie dae per episode. Dalk ’n week vir iemand wat nie baie ervaring het nie.

Verbeel jou daar is ’n toneel waar mense baklei of ’n vrou kraam. Die akteurs moet hulself regtig inleef in die stuk om daai klanke reg te kry, want hulle is nie regtig daar nie. Maar hulle moet jou oortuig hulle is wanneer jy dit kyk. Dit kan nogal snaaks en vreemd wees om ’n stem soos dié van Abduragmaan Adams (Ian in Suidooster), Desiré Gardner (Carmen in Suidooster) of Monique Rockman (Beatrice in Die Spreeus) uit ’n Turkse lyf te hoor kom.

Maar tog sê Monique, wat die stem van Reyhan in die gewilde Turkse telenovela Gebroke Harte is, dat dit vir haar verskriklik lekker is om aan telenovelas te werk. “Dis baie anders as ’n sepie of fliek. Jy act die meeste van die tyd op jou eie en jy moet op jou voete kan dink.

Maar dit maak dit ook lekker, want dis vinnig en dit kan amper as ’n leerskool gebruik word. Dit maak dat jy regtig moet dink oor hoe jy vinnig daardie karakter kan leer ken en oortuigend kan lewe gee,” sê sy.

Dis baie anders as ’n sepie of fliek. Jy act die meeste van die tyd op jou eie en jy moet op jou voete kan dink.

Monique het al aan meer as ses telenovelas gewerk en sê om elke keer ’n nuwe karakter te kan speel wat ouer as sy is of heeltemal anders lyk as sy, is opwindend, want dit is iets wat sy nie so maklik in ’n sepie of fliek kan doen nie. As jy die fisiese liggaam wegvat, kan jy jouself as akteur nog meer push en sy geniet veral al die skel- en dramatiese tonele. Volgens Marli Schulze, ’n inhoudspesialis vir e.tv, is telenovelas gewild en vind kykers die pas, karakters en storielyne baie interessant al vind dit glad nie in Suid-Afrika plaas nie.

As jy gewonder het oor die rede hoekom daar nie meer van ons eie telenovelas soos die gewilde Arendsvlei op kykNET of The Queen op Mzansi Magic is nie, is dit omdat dit net baie goedkoper is om die oorsese telenovela te kry as wat dit is om dit plaaslik te vervaardig. Veral omdat dit lang skietdae sal wees, met min tyd op die televisie en dit verkoop nie goed ná die tyd nie.

“Plaaslike produksies is baie duur en het nie ’n groot waarde as dit weer verkoop word nie. Dit is ’n groot belegging, sonder ’n gewaarborgde opbrengs. Dit is beter om ’n plaaslike sepie te maak as ’n telenovela, want dit is meer gewild en het ’n langer tydsduur, maar dit verhoog wel die beleggingsrisiko,” sê Marli.

“Die omgewing vir plaaslike sepies en telenovelas is baie mededingend en daar is baie antwoorde vir hoekom ons nie plaaslik telenovelas maak nie, maar die kort een is – dis te duur. Met soveel goeie opsies, moet jy ’n kwaliteitprogram vir die kykers kan maak en dis duur.”

Marli sê hulle bespaar honderde duisende rande deur gebruik te maak van oorsese materiaal en solank as wat die kykers daarvan hou, gaan hulle nie die resep verander nie. Turkye word as ’n hub beskou wanneer dit by telenovelas kom en dit word elke jaar minstens na 70 lande uitgevoer. Die Turkse dramabedryf se waarde staan tans op $350 miljoen.

Marli sê anders as ’n reeks (soos Grey’s Anatomy) wat byvoorbeeld vir 25 jaar kan aanhou met eindelose storielyne, het telenovelas ’n duidelike begin, middel en einde. ’n Reeks word gewoonlik een episode per week uitgesaai en het dikwels ses tot 26 episodes.

Telenovelas het tipies 90 tot 130 episodes. Wanneer dit by Indiese telenovelas kom, kan dit meer as 1000 episodes het. Telenovelas is inderdaad gewilder as ooit en met daaglikse take wat soms al jou energie gebruik, is daar niks lekker as om saans voor die kassie te sit en iemand anders se liefde-issues, drama en passie te sien ontvou nie.

Meer oor:  Telenovelas  |  Kuier  |  Tv  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.