Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ou vang graad ná hy én ma kanker oorwin
22 Januarie 2020

Kanker is niemand se speelmaat nie en vir Johan Fourie (27) van Calitzdorp, ’n dorpie net buite Oudtshoorn, kan jy niks vertel van dié siekte nie.

Maar ondanks die uiters uitmergelende fisieke en emosionele uitdagings wat hom al in die gesig gestaar het, is dié klong die toonbeeld van die spreekwoordelike frase “aanhouer wen”. Hy het in 2014 sy studies laat vaar om na sy ma, Hendrieka Fortuin (46), te kyk nadat sy met die kanker Hodgkin’s lymphoma gediagnoseer is.

In Mei 2019 het dié siekte wéér gedreig om sy drome te vertraag toe hyself met akute bloedkanker gediagnoseer is. Daar was egter niks wat die vasbeslote Johan kon keer nie en hy het skouer aan die wiel gesit om uiteindelik sy droom te bewaarheid om ’n maatskaplike werker te word. Nou, nege jaar nadat hy aanvanklik begin swot het, is hy ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker!

Bestem vir groter

Volgens ’n borrelende Johan het hy al van kleins af geweet hy sal nie eendag anker gooi in Calitzdorp nie. “En dit is glad nie oor ek skaam is oor waarvandaan ek kom nie, nee, ek het net altyd geweet daar wag groter dinge vir my.” Hy vertel entoesiasties hy het aanvanklik gedink hy wil ’n staatsaanklaer word.

“Sedert skooldae was ek baie ambisieus. Toe ek in graad 9 kom, het ek toe die blink idee gekry om ’n staatsaanklaer te word. Ek het elke naweek en vakansie by die howe spandeer. Van die streekhof in Oudtshoorn tot die Hooggeregshof in die Kaap!” Volgens hom was dit hom baie interessant om in te sit en na sake te luister. “Ek was gefassineer en het vas geglo dat ek my roeping gevind het.”

Tot iemand hom eendag op ’n goeie manier sleg vertel het. “Iemand het vir my gevra hoekom ek nie liewer aansoek doen om maatskap te studeer nie, omdat ek so lief is daarvoor om my neus in ander mense se sake te steek!” Sy aansteeklike lag klink weer op voor hy ernstig verklaar “En dít was vir my die beslissende oomblik. Ek het gehou van mense – om met hulle te praat, raad te gee en te interact en ek kon aan niks beter dink as om met mense te werk nie.”

Hy het sy aansoek ingedien by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die daaropvolgende jaar met sy studies begin. In sy tweede jaar van studies is sy ma egter met Hodgkin’s lymphoma gediagnoseer en moes hy noodgedwonge sy studies staak. “My ma was natuurlik glad nie gelukkig met my besluit nie, maar as die oudste van drie kinders het ek gevoel dit is my plig. My sussie en boetie was toe onderskeidelik 11 en 14 en iemand moes die leisels oorneem, veral omdat my ma nie meer kon werk nie.” Johan het nie besef dat hy twee jaar later steeds by die huis sou wees nie. “Hoewel ek langer by die huis was as aanvanklik beplan, was dit nie vir my ’n probleem nie. Ek het alles gedoen uit my hart uit en omdat ek wou hê my ma moet eers in remissie gaan voor ek terugkeer universiteit toe.”

Met sy terugkeer na UWK was dit asof hy nooit regtig weg was nie. “Ek het alles voluit gedoen en het my hart in alles gesit wat ek wou bereik. Ek het ook toe die geleentheid gekry om ’n uitruilstudent te wees by die Universiteit van Missouri in Amerika. Sjoe, dit was ’n ongelooflike ervaring! Ek het altyd vir myself gesê dat ek oor die waters sal gaan, maar nie in my wildste drome het ek gedink dit sou so gou en so ongelooflik wees nie.”

Dis ook doer ver waar hy besef het hy is vir baie groter dinge bestem. “Ek het verskeie toekennings daar gewen en het gewoeker om at the top of my game te bly.”

Ek is die eerste een in my familie wat graad gevang het en ek is bitter trots op myself.

Siekte tref weer

Dinge was amper te goed om waar te wees en die hardwerkende en toegewyde ou het die vrugte van sy harde werk gepluk tot die wind in Mei verlede jaar uit sy seile geruk is. “Dit was my finale jaar van studies en my kop het konstant gepyn. Elke liewe dag. Aanvanklik het ek nie veel daarvan gedink nie, maar ná ’n ruk het ek besluit om tog die dokter te besoek.”

Met sy besoek aan die dokter het sy hom gevra of hy al ooit bloedtoetse laat doen het. “Ek het gesê ‘nee’, want daar was nooit die nodigheid daarvoor nie. Ieder geval, sy het besluit om dit te doen en ek is daar weg met pilletjies en die gedagte dat ek seker nie eens sal terugkom om die uitslae van die toetse te hoor nie.” Dié gedagte was egter van korte duur, want die volgende dag het hy ’n dringende oproep van die dokter gekry.

“Sy het gebel en gesê ek moet haar so gou moontlik kom sien. Toe ek daar kom, het sy my sit gemaak en vertel daar is irregularities met my witbloedseltelling. Nou op skool het ek geleer dat jou witbloedselle die soldaatjies is wat siektes in jou liggaam beveg, so toe ek dít hoor, toe weet ek hier is fout.”

Toe vertel sy hom sy vermoed hy het bloedkanker. “Ek was platgeslaan en het haar natuurlik bevraagteken, want ek weet hoe iemand lyk wat kanker het en ek het beslis nie soos een gelyk wat kanker het nie!” Ná verdere toetse is bevind Johan het wel kroniese myeloid leukaemia en dat hy vir die res van sy lewe medikasie daarvoor sal moet gebruik. “Ek was platgeslaan, stukkend, verbitterd om die minste te sê. Hier is ek dan nou toe aan die begin van ’n nuwe hoofstuk van my lewe en toe gooi die lewe my weer ’n curveball.”

Hoewel die diagnose aanvanklik vir hom ’n emosionele ineenstorting veroorsaak het, het hy sy kop reggekry en gedoen wat nodig was om sterker ander kant uit te kom. “Ek moes chemo-behandeling kry en dit het pyn en verskriklike naarheid veroorsaak, maar ek het geweet ek moet die laaste stretch voltooi, ek moet my toetse en take klaarmaak.”

En asof dit nie genoeg was nie, was daar ’n fout met sy mediese fonds en hulle het al sy mediese rekeninge decline. “Hier sit ek toe nog boonop met R30 000 se skuld, maar ek het vir myself gesê dat ek myself hieruit moet lig. Ek moes myself uit die donker spasie haal en baklei vir my lewe.” Dit is presies wat Johan gedoen het en nou etlike maande later is hy ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker en het hy boonop cum laude (met lof) gegradueer! “Ek is die eerste een in my familie wat graad gevang het en ek is bitter trots op myself. Ek sê altyd moet nooit laat jou omstandighede jou toekoms bepaal nie en ek is ’n bewys daarvan.”

Dié optimistiese jong man sê niks sal hom keer om sy lewe voluit te leef nie, nie eens kanker nie. “Die lewe is te kort om te tob oor alles wat verkeerd is. Daar is te veel goed wat reg is om te sit en sob. My motto is om elke te dag te leef asof dit my laaste is en die beste te maak van enige geleentheid wat na my kant toe kom!”

Ek was platgeslaan, stukkend, verbitterd om die minste te sê. Hier is ek dan nou toe aan die begin van ’n nuwe hoofstuk van my lewe en toe gooi die lewe my weer ’n curveball.
Meer oor:  Kuier  |  Kanker  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.