Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oud-gevangene wy nou lewe aan ander
2 Oktober 2019

As tiener het hy ’n verskriklike misdaad gepleeg en moes jare in die tronk deurbring, maar dis daar waar hy die  Here aangeneem  en sy lewe omgekeer het . . .  

Toe hy maar net 17 jaar oud was, het hy drie van die tien gebooie op een aand gebreek. ’n Mens lees in Eksodus jy moenie moord pleeg nie, moenie steel nie en moenie ander se goed begeer nie, maar in Vrouemaand 2003 het Ernesto Love (toe 17, nou 33) van Vredendal aan die Weskus aldrie gedoen.

Op die laaste aand van sy eindeksamen by ’n tegniese kollege daardie jaar wou hy die begin van ’n nuwe hoofstuk vier. Hy het daarvan gedroom om ’n mechanic te word, maar min het hy geweet daardie aand sou in ’n dubbele moord eindig en sy blink toekoms in ’n oogwink verduister.

’n Verkeerde besluit sou hom nie net sy vryheid kos nie, maar ook die lewens van twee onskuldige vroue en daardie skuldgevoel is iets wat hy die res van sy lewe met hom sal dra.

In sy tienerjare het Ernesto by verkeerde vriende betrokke geraak en ook dwelms gebruik. Dit was ’n resep wat op ’n ramp afgestuur het, maar hy wil nie die slegte vriende die skuld gee nie en sy tyd in die tronk het baie hiermee te doen. Tydens sy 12 jaar in die gevangenis sê Ernesto het hy niks anders as tyd gehad om te dink oor dit wat hy gedoen het nie.

Dit wat verkeerd gegaan het in sy lewe en wat hy graag met sy lewe wou doen nie. Vir die eerste twee jaar het hy gesukkel met sy skuldgevoelens en die haat wat hy vir homself gehad het oor wat hy aan die slagoffers se families gedoen het en ook hoe hy sy eie familie teleurgestel het.

Daardie aand het aanhoudend voor hom afgespeel en wat hom ook kwaad gemaak het, was dat hy eers in die tronk besef het dis werklik elkeen vir homself. Sy vriende het hom gelos en hy het toe besef dat hy sy lewe vir mense weggegooi het wat nie vir hom omgegee het nie. Hy het ’n berader en predikant in die tronk ontmoet nadat iemand eendag met van die manne in die tronk kom gesels het. Hulle het hom vertel dat die Here jou sal vergewe wanneer jy om vergifnis vra, maar dat jy die res van jou lewe vir Hom moet gee om regtig weer geluk en jou doel te vind.

“Dit is presies wat ek toe gedoen het. Daardie dag het hul woorde my so diep geraak ek het net begin huil. Ek het vir die eerste keer regtig besef hoe dom ek was en hoe seer ek daardie gesinne gemaak het. Ek het vir hulle vergifnis gevra en jammer gesê. Ek wou hê dat tyd moet stilstaan sodat ek daardie aand weer kan oordoen. “As ek die kans gekry het, sou ek ander besluite geneem het. Ek sou daardie vroue probeer beskerm het, ek sou ander vriende gekies het en ek sou eerder by die huis met my mense die sukses gevier het. Maar toe die predikant met my bid en ek die Here in my lewe toegelaat het, het ek vrede begin kry in my hart.”

Van daardie dag af het Ernesto besluit hy gaan sy Bybel lees en op die Here vertrou om vir hom te wys wat volgende in sy lewe gaan kom. Daarna het dinge net in plek begin val. Hy het ’n liefde vir sport ontwikkel en dit het baie positiewe eienskappe in hom uitgebring. Dít, saam met die Bybel-groep waarby hy betrokke geword het, het hom op ’n positiewe manier in die tronk besig gehou.

“Ek het baie tyd met my Bybel en in die stilte met God deurgebring. In die stilte het ek soveel stories gelees van hoe Jesus mense vergewe en vir ons sondes gesterf het. Ek het my lewe vir God gegee en het besluit ek sal nooit vergeet nie, maar ek sal daardie tragiese aand as ’n les gebruik om beter te doen vir my medemens en dit is wat ek vandag probeer doen – al besef ek dit sal nooit opmaak vir die lewens wat ek geneem het nie.”

Alles verander

Op ’n aand in 2003 wat sy lewe vir altyd verander het, het Ernesto en twee vriende twee vroue se motor gesteel en hulle daarna vermoor. “My hele lewe het voor my oë geflits. Die eerste ding wat ek gedink het, was dat my ouers my nooit grootgemaak het om mense se lewens te neem nie. Alles het so vinnig gebeur, maar ek het onmiddellik besef dit was verkeerd” sê Ernesto skaam.

Ernesto help nou sy gemeenskap opbou deur sport.

Die polisie het hom en sy twee vriende gearresteer nadat hulle gevlug het en die gesteelde Toyota Corolla in Kaapstad probeer verkoop het. Hy is uiteindelik tot 28 jaar tronkstraf gevonnis weens sy betrokkenheid by die misdaad, maar het in 2015 ná 12 jaar op parool uitgekom.

Maar deur die Here se genade, het sy tyd in die Drakenstein Korrektiewe Sentrum hom baie meer geleer as wat hy ooit gedink het en sien hy nou die voorval wat sy lewe kon vernietig het, as die een ding wat hom gered en ’n nuwe blaadjie laat omslaan het. Hy is nou meer dankbaar as ooit dat hy die Here kan dien en mense kan help om die beste weergawe van hulself te wees en hul drome te bereik.

Ernesto, wat nou in Ebenhaezer, buite Vredendal bly, sê sy tronkstraf het hom meer geleenthede en selfs ’n doel in die lewe gegee. Tydens sy tronkstraf het hy sport as instrument vir sy transformasie gebruik en dit het hom ook tyd gegee om introspeksie te doen. In die tronk het hy by rehabilitasieprogramme aangesluit wat hom lewensvaardighede geleer het wat hy nou met minderbevoorregte jeug in sy landelike gemeenskap op Ebenhaezer deel.

Hy bestuur deesdae ’n sportmentorprogram as ’n manier om die jeug op positiewe maniere besig te hou sodat hulle nie, soos hy destyds, in die strik trap van verkeerde besluite maak nie. Die kinders wat hy afrig het ook baie potensiaal en hy help hulle om hul sportdrome te bereik. “Ek gebruik die beperkte hulpbronne wat ek het om die jongelinge toe te rus. Ek bring baie elemente in en help hulle fisies, geestelik en sommer net as ’n man. Ek gebruik ook my geskiedenis om vir hulle te leer waar jy nie wil opeindig nie.

Ek leer hulle ook om nie by bendes betrokke te raak vir dwelms nie, want dit is waar my probleme begin het,” sê hy. Ernesto sê as hy nou terugdink aan daardie aand, wens hy dinge kon anders uitgedraai het, maar hy het oor die jare vergifnis van God, die families van die slagoffers en sy eie gevra. Ernesto, wat in 2015 op parool vrygelaat is, sê hy het gegroei van die jong oortreder tot ’n gemotiveerde man wat sy gemeen-skap deur sport probeer verander.

“Die probleem is dat paroolgangers soos ek sukkel om werk te kry omdat ons ’n kriminele rekord het, maar sport is nie bekommerd oor kriminele rekords nie. Almal wat in die spel belangstel, kyk na die vaardigheid op die veld en daarom gebruik ons sport om paroolgangers weer in die samelewing te integreer,” sê hy. Ernesto sê hy gaan die Here op enige manier dien wat hy kan en sal vir die res van sy lewe ander probeer red vir die twee lewens wat hy geneem het . . .

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.