Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Oud-onnie van Macassar nou in Amerika!
8 Januarie 2020


Leer so ver as jy wat kan, dit sal altyd jou paspoort na nuwe wêrelde wees en deure vir jou oopmaak, asook onafhanklikheid bring in sy suiwer vorm, is die leuse van dr. Marcelle Mentor, ’n oud-Kapenaar en deesdae ’n dosent aan die Columbia Universiteit in New York. “My leuse was my verlossing in die struggle-jare van Suid-Afrika,” sê sy.

Die 50-jarige Marcelle het grootgeword op Macassar, naby Somerset-Wes in die Wes-Kaap en bly al vir 14 jaar in New York. Sy doseer opvoedkunde by die Teachers College aan Columbia Universiteit. Sy gee klas vir meesterstudente, koördineer die plasing van onderwysers in skole en is ’n adviseur vir doktorale studente. “Ek is baie lief vir my werk,” sê die vrou met die krulhare en borrelende geaardheid. “Ek is opgewonde dat dit my ook geleenthede gee om met instellings in Suid-Afrika saam te werk.”

Haar grootste droom is ’n uitruilprogram vir Amerikaanse en Suid-Afrikaanse onderwysers. Haar ma, Joan Abrahams, was self 42 jaar lank ’n onderwyser – streng, dog baie liefdevol. Dié twee het baie tyd saam spandeer. “Ons tyd saam is sekerlik my kosbaarste en aangrypendste herinneringe wat ek van haar het. Ek onthou hoe ons vir die trein moes hardloop, hoe sy soms op mense sou skree wat onbeskof was met ons. Sy was altyd so fel beskermend teenoor my.”

Herinneringe

Tydens die apartheidsjare was daar nie Engelse skole vir bruin mense waar sy gebly het nie. Sy moes dus elke dag travel na die Blossom Street Primary School in Athlone, sowat 40 km ver, soggens 6:30 uit die huis, saans eers 18:00 tuis. So, tyd vir maats was maar skaars.

Sy onthou tog die aangename speeltyd met haar maatjie Beatrice Kemp en haar sibbe met heimwee. “Ek het gehou daarvan om soggens die imam se roep om gebed te hoor, terwyl ek daar in my bedjie gelê het. Of die klank van die vrugte- en groenteman buite, of die Bashewsman wat Sondagmiddae koeldrank verkoop het.”

Marcelle het trein gevat na die Hoërskool Soutrivier met haar vriende Charlene Williams, Racquel Cupido, Basil Forbes, Clyde Visser en Tania Adendorf. “Ons het die beste tyd op daai trein gehad! Ek het herinneringe van ons jokes, sommige baie scary oomblikke ook, maar meestal uitbundige gelag.”

Patrick O’Connell, haar standerd 6 (graad 8) Engels-onderwyser was haar motivering om ook Engels-onnie te word. “Ek het gehou van hoe magical sy klas was en hoe hy die leerlinge in die les betrek het. Hy was legendaries as ’n onderwyser – ek wou legendaries word.” Om ná matriek verder te studeer, was nie vir haar ’n opsie nie, inteendeel daar was geen tweede opsie nie, sê sy.

Marcelle nadat sy haar doktorsgraad verwerf het.

“Ek is ’n kind van die struggle. Ek het verstaan my bevryding was onlosmaaklik verbind aan my opvoeding.” En dís presies wat sy gedoen het om haarself te bevry. Sy het haar BA Honneursgraad en onderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland en haar meestersgraad aan Universiteit Stellenbosch verwerf.

In 1992 en op 22-jarige ouderdom, het sy haar onderwysloopbaan aan Strand Sekondêr begin. Agt jaar later, in 2000, het die berugte rasionalisering van onderwysers begin en is Marcelle en van haar kollegas oortollig verklaar. Dit was ’n persoonlike krisis, maar ’n geleentheid vir verandering, is sy heel filosofies daaroor. Toe neem sy ’n sprong van geloof en doen aansoek as onderwyser by Paul Roos Gimnasium. Sy word toe die eerste bruin aanstelling daar.

Alles nuut

In 2005 het haar gesin ’n groter stap gevat. Die vreemde in. New York toe. “Ek het in my lewe nog net in Macassar en New York gewoon. Ek is vir beide baie lief. Macassar sal altyd my tuiste wees – die mense, die reuk, die beelde is nostalgies vir my. In New York het ek myself gevind, ontdek en my groei gevoed.

In dié stad is my hart egter ook gebreek deur ’n man met wie ek 15 jaar getroud was en wat my en my seuns feitlik pennieloos gelos het.” Sy maak vir ’n wyle haar hart oop, vertel hoe die wêreld onder haar padgegee het, terwyl Kuier die pen vir eers neersit. Dan gaan sy met nuwe vuur in haar woorde voort: “Maar in dié stad het my verhouding met God opgevlam en het ek in myself krag en veerkragtigheid gevind wat my verras en opgewonde gehad het.

In dié moeilike tye, sê Marcelle, het haar grootste opvoeding as mens gekom. “Ek het my seuns meestal self grootgemaak, my twee meestersgrade en doktorsgraad voltooi en gedy in die lewe wat ek vir myself gebou het. Ek was ondersteun deur familie en vriende tuis en die verhoudings wat ek hier in New York gesluit het.”

Ek is ’n kind van die struggle. Ek het verstaan my bevryding was onlosmaaklik verbind aan my opvoeding.
Dr. Marcelle Mentor

Oor dié wêreldbestemming op Manhattan-eiland raak sy liries. “Waar Kaapstad en sy omringende omgewing ontspanne en rustig is, het New York ’n soort frenetisme (alles gebeur vinnig), wat my siel voed op maniere wat ek nie verwag het nie. “Ek hou daarvan dat ek hier in New York kan gaan waar en wanneer ek wil, in relatiewe veiligheid, natuurlik. Indien ek om middernag wil gaan fliek, kan ek. En ek is lief om toergids vir besoekers van Suid-Afrika te speel.”

Oor die onderwys kan sy vir dae aaneen praat, veral oor die ooreenkomste in onderwys tussen Suid-Afrika en die VSA. “Die groot ooreenkoms is dat as jy geld het, kan jy beter opvoeding kry. Ek dink dis ’n wêreldwye ver-skynsel – onderwys word in ’n geldeenheid uitgedruk. “Daar is ook baie gesukkel met die Amerikaanse onderwysstelsel – daar is sistemiese rassisme in openbare- en tersiêre instellings en die arm en onopgevoede is meestal swart en bruin mense.

“Maar laat ons nie altyd swartgallig wees nie, dis nie alles verdoemend nie, daar is hardwerkende opvoeders van alle rasse wat hul hande nerfaf werk om ’n verandering te maak en gelyke toegang vir alle student te verseker – net soos in Suid-Afrika.” Sal sy ooit huis toe kom? “Ek dink ek sal permanent hier bly. Ek is getroud met ’n Amerikaner, Mark Favors, plus my twee kinders het hier opgegroei”.

Heimwee slaan weer in haar woorde deur: “Ek mis die mense en die kos en ek mis die bruin kultuur – dit is my grootste spyt: dat my kinders buite hul kultuur grootgemaak is en hulle nie die vreugde kon beleef om deur dit grootgemaak en in dit op te kon groei nie. “En braai – ek mis braai en Grabouw-wors – en die strande van Valsbaai – niks vergelyk hiermee nie . . .”

Haar seuns is op Gordonsbaai gebore. Timothy (21) is tans in sy finale jaar in politieke wetenskap. Joel (20) is in sy derde jaar en spesialiseer in sielkunde. “Ons kuier gereeld, loud and proud, ons praat Afrikaans en maak huiskos. Dit hou ons verstand helder en ons tuiste so baie naby huis in ons harte.”

“Ek sal altyd daai coloured girl wees wat in Raystraat, Macassar opgegroei het. Ons kan en moet nooit vergeet waar ons vandaan kom nie – hoe anders kan ons stewig elders staan?”

Meer oor:  Inspirasie  |  Onderwysers  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.