Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ouma Lilly & haar klong
4 September 2019
jeremeo le cordeur,ouma lilly

Toe Jeremeo le Cordeur (33) van Wellington in Augustus 2018 ’n video van sy ouma op Facebook laai, sou hy nooit kon raai dat sy ouma oornag in ’n internetsensasie sou ontpop nie. Inteendeel, al wat dié liefdevolle kleinseun wou doen, was om sy ouma se staaltjies en grappies met sy vriende te deel.Suid-Afrikaners van wyd en syd het egter aanklank by die ouma se opregte trots en liefde vir haar kleinseun gevind en die video van haar het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Die 93-jarige ouma Lilly of Lydia Truter soos sy gedoop is, het Suid-Afrika vir die eerste keer “die feels” gegee toe ’n video van haar reaksie op haar kleinseun se nuwe motor viral gegaan het. In die humoristiese en outentieke video deel ouma Lilly ’n opregte oomblik van trots toe sy as Jeremeo se eerste passasier in sy nuwe kar  kon ry. Sosiale media-gebruikers het verlief geraak op dié ouma se oorweldigende liefde vir haar kleinseun en die spesiale band wat hulle deel.

Die video het meer as 225 000 views op Facebook gegenereer en is meer as 4 000 keer gedeel. Só het die hashtag #OumaLilly ontstaan. Jeremeo het sedertdien meer video’s geplaas waarin die twee verskillende oomblikke deel, waaronder die opmaak van haar bed, ontelbare advies, ouma wat haar trots en vreugde uitspreek toe haar kleinseun ’n toekenning gewen het en haar reaksie op fan mail. Hul stories en die band wat hulle deel, het #OumaLilly ’n sensasie op sosiale media gemaak!

Hy leer by haar

Jeremeo praat in ouma Lilly aw oor omdat haar gehoor nie goed is nie.

Behalwe gehoorprobleme is ouma Lilly, wat in September 94 word, perdfris en gesond. Sy kan nog loop en vee glo nog die stoep ook af.

“Ons het grootgeraak op ’n groot erf met ’n klomp diere. Ek ken van met my hande werk en dit is ook waar my liefde vir tuinwerk gekweek is. Ons het nie geken van stilsit en ginnegaap nie, nee, ons het hard gewerk.”

Ouma Lilly is een van 10 kinders en was die derde oudste van haar sibbe. Sy is die enigste een van haar broers en susters wat nog lewe. Sy dink ’n bietjie en vryf oor haar ken voor die trane in haar oë begin blink en dan sê sy saggies “Hulle is al almal dood. Dis nog net ek wat oor is...”

En hoewel ouma Lilly nie meer so streng is as wat sy in haar vroeër jare was nie, vertel Jeremeo dat sy ouma een van die sterkste en strengste vroue is wat hy ken.

“Ek het sommer al ’n paar keer ’n goeie pak slae met die toiletborsel gekry as ek nie my ore wou gebruik nie.”

Hy praat in sy ouma se oor om vir haar te sê wat hy so pas kwytgeraak het. Ouma Lilly lag net en antwoord saggies “Ja, nè...”

Met heimwee dink Jeremeo terug aan sy kinderdae en hoe hy elke dag ná skool by sy ouma se huis geboer het. “My ouma het M-Net gehad en daai tyd was dit baie boujee (cool). Ek het elke dag ná skool daar deurgebring om cartoons te kyk, maar sodra ek dink ek is lekker gemaklik, het ouma my aan die werk gesit.”

Hy lag voor hy vertel dat hy by sy ouma geleer het van tuinmaak. “As ’n mens haar sou toelaat, sal sy steeds elke dag tuinmaak! Sy het my geleer gras sny en soms was sy sommer moeilik en dan besluit sy dat ek liewer die gras moet sny met ’n grasskêr in plaas van die masjien.”

Jeremeo lag weer voor hy ernstig vertel dat dit ook by sy ouma is wat hy geleer het dat ’n mens net die vrugte van die lewe kan pluk as jy hard werk. “Sy het vir jare gewerk en het tot en met haar aftrede in ’n fabriek in Paarl gewerk. Vir haar was stilsit nooit ’n opsie nie.”

Liefde tussen hulle

Met sy hand liefdevol op sy ouma se skouer sê hy dat sy waarskynlik die eerste persoon was wat in hom geglo het. “Sy het altyd vir my gesê, ‘My klong jy gaan nog eendag vir ouma baie trots maak en ook die hele wêreld vol reis.”

Toe Jeremeo die kans kry om oorsee te gaan, was sy ouma die eerste een met wie hy die goeie nuus gedeel het.

“Sy kon dit nie glo nie en was so gelukkig, maar toe sy besef wat dit eintlik beteken, was sy baie hartseer en het begin huil. Hy het ook dié oomblik op video vasgevang. In die video kan ’n mens duidelik sien hoe hartseer ouma Lilly is. Sy vra dan aan haar kleinseun, “Maar as jy nou weggaan, wat gaan dan van my word?” Dié video het ook kykers aangegryp.

Jeremeo en Ouma Lilly, wat die internet aan die gons het, deel 'n grappie.

Jeremeo vertel liefdevol dat hy aanvanklik begin video’s opneem het omdat sy ouma die snaaksste goed kwytraak wanneer hulle alleen is. Maar daar was ook ’n ander rede hoekom hy die video’s van sy ouma wou maak en deel. “In ons bruin gemeenskappe het kinders en kleinkinders nie die tyd en geduld vir ons oumense nie en met dié video’s wou ek waardering nie net aan ouma nie, maar aan al die ander oumas bring, oor die rol wat hulle in ons lewens speel. Hul bydrae was instrumenteel in hoe ons lewens vorm aangeneem het.”

Volgens Jeremeo is dit tragies hoe daar nie na die ou garde omgesien word nie. “Dit is die mense wat aan ons ouers geboorte geskenk het. Die mense wat soveel opgeoffer het om vir ons alles te gee wat ons vandag het. Ek en my ouma se verhouding is iets besonders. Die beste geskenk wat ’n mens iemand kan gee, is tyd. So baie keer het ons nie geduld nie, maar dis die einste mense wat vir ons kleintyd tyd en liefde gegee het, so dit is tyd om alles wat hulle in jou geploeg het, terug te gee aan hulle.”

Dit is ouma Lilly wat nou na haar kleinseun kyk met trane wat in haar oë blink en sê, “Julle kan enigiets wat julle wil weet vir Jeremeo vra. Hy weet alles oor my. Nè, Ouma se klong?” Jeremeo lag en gee sy ouma ’n stywe drukkie waarna sy skaam sê, “Haai, nee, boeta. Jy kan mos nie vir ouma so styf vasdruk nie. Ons vry mos nie!”

Die twee lag hartlik saam en dis Jeremeo wat liefdevol na sy ouma kyk en sê dis hoe hul verhouding die meeste van die tyd is. “Die stories en sêgoedjies van Ouma is priceless en ek ruil dit vir niks in die wêreld nie.”

Dis in die lig van Vrouemaand wat Jeremeo aan sy ouma hulde wil bring.

Die band tussen die twee is besonders en herinner ’n mens weer daaraan hoekom jou grootouers so kosbaar is en na gekyk moet word in hul ou dae – hulle is immers die mense wat ook na ons gekyk het...

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Ouma Lilly
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.