Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Pappa Irshaad Ally: Sy familie is sy alles
12 Junie 2019


Elke aand om 18:30 geniet kykers die wel en weë van Ruiterbosch se mense in die gewilde kykNET- sepie Suidooster en niemand is meer geliefd as Rhafiek Samsodien nie.

Maar vir Irshaad Ally (41) is die heel belangrikste rol dié van trotse pa vir sy twee skattige dogtertjies, Rahmah (5) en Hanaa (vier maande), en man vir die mooie Ayesha (32). “Vaderskap het my big time verander,” erken Irshaad met ’n glimlag en dit is dadelik duidelik dat die vroue in sy lewe hom om hul pinkies draai.

“Om pa te wees, het my stiller gemaak, my laat besef wat belangrik is.” Hy sê as alleenloper is ’n mens geneig om meer selfsugtig te wees, veral as akteur, maar as jy eers kinders en jou eie gesin het, kom jy agter deur te gee, kry jy eintlik soveel meer as wat jy ooit sou kon droom. “Jy besef die lewe gaan oor meer as net jouself. Jy doen nie meer goed net vir jouself nie. My kinders het my, my lewe en selfs my lewensuitkyk definitief baie verander.”

Irshaad en Ayesha is nou al agt jaar getroud en hul twee dogtertjies het ook ’n groot impak op hul verhouding gehad. Dié paartjie erken hulle is “moeë ouers”, maar vier klein oorwinnings soos dat Hanaa darem nou vir die eerste keer amper deur die nag slaap.

Irshaad kan nie sy lewe sonder sy dogters indink nie.

Terwyl hy kyk hoe Ayesha met Hanaa, wat “gelukkig” beteken, speel, vertel Irshaad hoe die kinders se koms hom selfs nóg liewer vir haar gemaak het. “Die bydrae wat sy maak . . . Sy doen só baie vir ons gesin. Ayesha is soos die gom wat ons bymekaarhou. En vandat die kinders gebore is, het Ayesha soveel sterker geword in haar menswees. Sy staan op vir haarself; as ma teenoor die res van die wêreld vir haar dogters; en selfs teenoor my, en ek bewonder haar.”

Hy vertel met die koms van die kinders het die twee van hulle baie meer met mekaar begin vassit, maar hulle het daaruit geleer om beter met mekaar te kan kommunikeer en deesdae geniet hulle dit eintlik om te sit en hulle verskille uit te praat. “Jy leer soveel meer van mekaar. Ons práát en ons déél. Ons groei saam. Al is jy kwaad, ons praat dit uit.

En hopelik kan ek dit een van die dae met my dogters doen – oop en eerlik oor issues praat,” vertel hy. “My rug is beseer en Rahmah, wat ‘genade’ beteken, het my vanoggend gehelp om my skoene aan te trek en Ayesha het gehelp met my kouse! Amazing! Dis eintlik baie vreemd en so ver verwyderd van my enkellopende dae. Ek kan my amper nie indink hoe dit nou sal moet voel om alleen te wees nie.”

Dit is amper asof sy gesin deel van sy wese, sy hande, voete en hart geword het, waarsonder hy nie sal kan bestaan nie. “ ’n Mens kan amper nie help om net so dankbaar te wees nie. Partykeer kry ek so ’n oomblik van opregte dankbaarheid dat ek my dogtertjies kan druk en my vrou kan soen. Wat ’n voorreg!”

Sonder sy pa

Vir Irshaad beteken dit so baie juis omdat hy sonder sy pa moes grootword. “Dis eintlik vreemd, want vandag (die dag van die onderhoud) sou sy verjaardag gewees het en nou doen ek ’n voorbladfotosessie juis vir Vadersdag met my kinders. Dis ’n bietjie surreal,” lag hy.

Irshaad se pa is oorlede toe hy baie jonk was. Net veertien. Maar voor dit was sy pa vir omtrent sewe jaar baie sieklik en aan ’n bed vasgekluister. “Hy kon nie praat nie, hy kon nie regtig loop nie. Hy het ’n beroerte gehad. So ek kon nooit eintlik met hom kommunikeer nie.” So hoewel sy pa in dieselfde huis as hy gewoon het, het hulle heeltemal verby mekaar geleef.

“Ek het hom nooit eintlik geken nie, so ek het nie regtig geweet wat dit is om ’n pa te wees voordat ek self een geword het nie. Ek het nie daai voorbeeld gehad nie, nooit daai pillar of confidence en strength gehad nie, someone at home who had my back gehad nie, en nooit geweet wie ek is of waar ek inpas en behoort nie,” vertel Irshaad ernstig. “My pa self het sonder ’n pa grootgeword, so ek dink nie hy het werklik geweet hoe om een te wees nie.”

Irshaad leer nog elke dag wat hierdie rol van pa-wees alles behels deur ander mense na wie hy opkyk en wie hy respekteer. “Ek het nie ’n voorbeeld gehad van wat dit is om ’n goeie man te wees nie. Maar deesdae is ek baie bewus daarvan dat ek ’n goeie pa moet wees, so ek soek bewustelik na goeie voorbeelde en probeer my bes om die beste pa en man te wees wat ek moontlik kan wees.”

Irshaad, sy vrou, Ayesha, en hul dogters.

Vir hom is ’n goeie pa iemand met wie jy kan gesels, iemand wat jou toelaat om jouself te wees en wat jou ondersteun in jou drome. Dit is iemand vir wie jy die vrae van die lewe kan vra, iemand wat jou opbou en vir wie jy met jou alles kan vertrou en op staatmaak. Dít is die pa wat hy nastreef om te wees. Wanneer ’n mens vandag na dié man kyk, is dit moeilik om jou die klein, verwarde seuntjie te verbeel wat net met sy hele hart êrens wou inpas en iemand wou hê om na op te kyk. Irshaad is ’n oop boek oor sy verlede.

Tienerjare was ’n moeilike, verwarrende tyd vir hom. Hy het in Manenberg op die Kaapse Vlakte grootgeword, maar het ná sy pa se dood toe hy 14 was, die pad ’n bietjie byster geraak toe hy en sy ma, Daraweesa, Woodstock toe trek. Sy ma, ’n onderwyser, moes lang ure werk om die pot aan die kook te hou, en Irshaad het met verkeerde vriende begin uithang en met dwelms begin eksperimenteer.

“Ek het probeer uitfigure wat dit is om ’n man te wees, maar ek het nie goeie rolmodelle gehad nie.” Hoewel hy sy ma nog nooit blameer het vir sy eie foute nie, wil hy ander enkelma’s en ander seuns wat in dieselfde skoene staan, aanmoedig om versigtig te wees vir vriende. “Op daai ouderdom probeer jy uitfigure wie jy is, probeer jy jou eie stempel in die wêreld afdruk. Dis nie ’n maklike ding nie. Jy gaan na ander mense kyk, so maak seker jy kyk na goeie voorbeelde en bly weg van die slegte.”

Jy besef die lewe gaan oor meer as net jouself. Jy doen nie meer goed net vir jouself nie. My kinders het my, my lewe en selfs my lewensuitkyk definitief baie verander.

Hy sê veral kinders sonder pa’s moet op die uitkyk wees vir goeie, standvastige rolmodelle. “Maar vir kinders is dit moeilik, man,” sug hy en vryf oor sy kop. “Dis netso moeilik vir die ma’s. Ek voel daai alleenheid waarmee hulle moet worstel. Daai bekommernis oor hoe jy die melk of die brood hierdie week gaan bekostig. Maar as jy ’n seun het, probeer bewus bly van wat in sy lewe aangaan en met wie hy sy tyd spandeer. Probeer naby aan hom bly.”

As hy terugdink aan sy kinderjare, besef Irshaad die tekort aan ’n pa of ’n vaderfiguur was ’n groot rede hoekom hy die verkeerde pad geloop het. “Ek was nie stabiel nie, ek het nie daardie rots in my lewe gehad nie. Ek was kwesbaar vir slegte dinge. Ek het iets gesoek om aan vas te klou, om daardie leemte in my hart te vul, maar het dit op die verkeerde plekke gevind.”

Die wêreld is vir Irshaad ’n rippel-effek van vaderloosheid. “Dit is amper asof kinders sonder pa’s dor en kaal is. Leeg. Oop vir enigiets waaraan hulle hulself en hul harte kan heg om deel te wees van iets groters.” Vir hom gee ’n pa vir ’n kind ’n tipe logo, ’n rede om te lewe en ’n betekenisvolle lewe daarby. “Vrae soos ‘wie is ek en waarvoor leef ek?’ wapper hopeloos in die wind by hierdie kinders. Hulle grootste begeerte is om êrens te behoort, maar dis tevergeefs.” Miskien juis daarom mentor Irshaad jong seuns wat in dieselfde omstandighede as hy grootword – om die positiewe rolmodel te wees wat hy self nooit gehad het nie.

Mal oor sy dogters

Partykeer kry ek so ’n oomblik van opregte dankbaarheid dat ek my dogtertjies kan druk en my vrou kan soen. Wat ’n voorreg!

Dié pa en dogter het baie pret saam.

Rahmah kom wys vir Irshaad hoe mooi sy in haar prinses-rokkie lyk en die man lyk asof hy die grootste prys in die wêreld gewen het. “Sjoe, hierdie familie, my eenheid, saam met my ma, my suster en my broers en hul kinders . . . As ek huis toe kom, dan weet ek daar is iemand op wie ek kan staatmaak.”

Maar om kinders, veral dogters te hê, het ’n hele reeks nuwe vrese in sy hart laat ontketen. “Alles omtrent kinders maak ’n mens bang,” erken hy. “Is hulle veilig? Waar is hulle en saam met wie? As ek vir Rahmah by die skool gaan aflaai soggens en daai klein lyfie loop in die gebou in, raak ek sommer oorweldig deur die kommer.”

Maar sy ander groot vrees is dat hy nie genoeg tyd saam met sy dogters sal kan spandeer nie. As akteur moet hy soms lang ure werk daarom wend hy deesdae ’n daadwerklike poging aan om tyd saam met sy gesin te spandeer wanneer ook al hy kan. “Om kinders te hê, gee vir jou wortels,” sê hy ernstig. Dit verbaas hom steeds hoe sy twee dogters se persoonlikhede alreeds so kan verskil. “Ek dink op vier maande is Hanaa al klaar ’n bietjie meer astrant. Sy wil haar eie manier hê of niks nie.

Irshaad vertolk die rol van Rhafiek in Suidooster. Hier is hy saam met sy kassievrou, Carmen, gespeel deur Desiré Gardner.

Selfs in die manier wat sy gebore is – sy was twee weke vroeg en dit was asof sy net besluit het sy wil uit en toe kom sy,” lag hy. “Rahmah, aan die ander kant, is easygoing, met hope energie en so nuuskierig oor die wêreld. Sy wil alles weet en vra die beste vrae. Ons het sulke lekker gesprekke, veral op pad skool toe wanneer ons vassit in die verkeer. Dan praat ons oor alles en nog wat!”

Dit is duidelik hy is ’n baie betrokke pa en Ayesha bevestig dit. “Hy help met alles, tot doeke omruil en bottels gee. Hy gaan saam gimnastiek- en swemlesse toe. En hy kan die kinders laat uitbars van die lag. Ek is eintlik die streng ene wat by ’n roetine probeer bly. Al waarmee hy sukkel, is om die dogtertjies se hare te borsel, maar hy probeer sy bes,” skerts sy.

“Op ’n ernstige noot, leer hy altyd vir Rahmah sy kan haar volle potensiaal bereik en sy het die potensiaal om te kan doen en bereik waarvan sy droom. Hy is beslis ’n baie goeie pa,” sê sy. Maar dit verbaas haar nie eintlik nie, want sy het van die begin af geweet Irshaad is ’n goeie man met integriteit en ’n innerlike krag wat maak dat niks onmoont-lik is nie. En om hom met hulle kinders te sien, het net haar liefde vir hom verdiep. “Wanneer jy met iemand trou, dink jy dit is onmoontlik om nog liewer vir hom te wees, en dan kry jy kinders en sien hom as ’n pa . . . Dis asof jou hart net vermurwe!” Een ding is verseker – Irshaad skitter in sy rol as pa en het vet pret elke tree van die pad.

Foto’s: Dale Fourie en verskaf

Grimering en stilering: Kyra Loubser

Klere en skoene: Mr Price, Ackermans en Woolworths

Meer oor:  Kuier  |  Irshaad Ally  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.