Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Pasop vir identiteitsdiefstal
30 Oktober 2019
Foto: Gallo Images/Getty Images


Dis amper soos iets uit ’n Hollywood-movie – iemand steel jou identiteit en gee honderde duisende rande in jou naam uit, terwyl jy salig onbewus net dieper en dieper in ’n swart put van skuld beland.

In September vanjaar het die Suid-Afrikaanse bedrogsvoorkomingsdiens (SAFPS) statistieke onthul oor die kommerwekkende styging in voorvalle van identiteitsdiefstal in Suid-Afrika.

Misdadigers wat ander mense se identiteitsdokumente en name misbruik, het sedert 2018 met ’n skokkende 99% toegeneem. Oor die afgelope ses jaar het aangemelde insidente met meer as 200% toegeneem en kos dit die ekonomie jaarliks ’n verstommende R1 miljard.

Volgens ’n TransUnion-opname in 2017 is 75% van Suid-Afrikaanse volwassenes bekommerd oor die moontlikheid dat hul identiteit gesteel kan word terwyl 49% iemand ken wat ’n slagoffer was.

Groot moeilikheid

Een middag verlede jaar het Salome* (39), ’n winkelassistent van Johannesburg, (wat nie haar regte naam wil gebruik nie uit vrees dat dit weer met haar gaan gebeur), ’n onverwagse oproep van ’n bank gekry om haar in te lig haar lening vir R20 000 is goedgekeur en die geld sal binne 24 uur in haar rekening oorgeplaas word. “Ek was geskok, want hoewel ek op daardie stadium maar swaar getrek het, het ek dit nooit oorweeg om geld te leen nie.”

Sandra het haar ID ’n paar maande vroeër verloor en nooit aansoek gedoen vir ’n nuwe een nie. Sy het altyd koeverte met rekeninge vir klerewinkels en meubelwinkels weggegooi, want sy koop nie daar nie en het gedink dis foutiewelik aan haar gestuur. Ná die bank se vreemde oproep het sy ’n gratis credit check gedoen en agtergekom sy is duisende rande in die skuld – iemand anders se skuld. “Ek sit met my hande in my hare en weet nie wat om te doen nie,” sug sy moedeloos.

“Ek weet nie watter kant toe nie. Die polisie kan my nie help nie, want ek het geen bewyse dis nie ek wat die skuld gemaak het nie. Ek kan nie ’n prokureur of ’n private investigator bekostig nie. Ek het niks geld oor nie. Ek moes my baas gaan vra om my salaris in kontant te betaal.”

Salome kan saans nie slaap nie, sy is te bekommerd en bang en dit wil lyk asof daar geen lig aan die einde van haar donker tonnel is nie, want sy weet nie waar om vir hulp aan te klop nie. Hoewel hierdie tipe diewe nie noodwendig altyd jou geld steel nie, kan hulle groot skade aanrig. Nog iemand wie se lewe amper totaal en al verwoes is, is Lorenzo Mack* (42) van Port Elizabeth.

’n Paar maande gelede het hy aansoek gedoen vir ’n werk as winkelbestuurder en dit gekry. Hy moes net ’n police clearance certificate kry en ’n mediese toets slaag. Die dag voor sy mediese ondersoek het die werkgewer hom egter laat weet hy hoef nie meer te gaan nie, hy het die werk verloor as gevolg van sy “kriminele rekord”. Lorenzo was tot in sy diepste wese geskok, want hy het nog nooit met die gereg gebots nie.

“Ek het dadelik polisiestasie toe gejaag om te probeer uitvind wat gaan aan. Daar het ek uitgevind ek het blykbaar in 1990, toe ek maar 12 jaar oud was, iets gesteel of ’n cash-in-transit-trok met ’n vuurwapen beroof,” vertel hy, steeds verslae. Lorenzo veg nou verbete om sy naam skoon te kry en kan nie vir werk aansoek doen met sy “kriminele rekord” voordat hy ’n “skoon” sertifikaat het nie. Intussen doen hy los werkies om vir sy gesin te probeer sorg.

Gebruik sterk passwords vir al jou rekeninge en bewaar jou PIN.

Beskerm jouself

Advokaat Jackie Nagtegaal, besturende direkteur van Law for All, verduidelik identiteitsdiefstal in Suid-Afrika is wanneer misdadigers persoonlike inligting van ander steel vir hul eie voordeel.

“Die boef neem die slagoffer se identiteit wederregtelik oor om krediet, lenings of ander voordele in die slagoffer se naam te bekom, wat gereeld tot ’n berg skuld lei. Die nuwe identiteit kan ook gebruik word om social grants te kry, kriminele vervolging vry te spring en lewensversekeringspolisse te laat uitbetaal.

Buitelanders kan dit selfs gebruik om vir werk aansoek te doen. Jackie verduidelik verder hierdie misdadigers kry gewoonlik jou private inligting, soos identiteitsnommers, bank- en kaartdetails, jou adres, telefoonnommers, e-pos-adresse en handtekening.

Algemene metodes vir dié tipe diefstal is onder meer:

  • Onderskepping of omleiding van banktransaksies.
  • Verkryging van persoonlike inligting via sosiale media.
  • Kraking (hacking) van persoonlike rekenaars of e-pos-adresse.
  • Diefstal van ID’s en bankkaarte uit jou handsak of beursie.
  • Diefstal van rekeningstate en ander vertroulike inligting in die pos.
  • Telefoongesprekke wat jou aanmoedig om inligting op te dateer of uit te lap.

Volgens Jackie is ’n groot probleem dat nege uit 10 mense salig onbewus is daarvan dat hulle hul persoonlik inligting kwesbaar gemaak het.

“Dikwels kom dit eers jare later aan die lig wanneer die slagoffer se kredietaansoek afgekeur word, ’n woedende onderneming rekenings en aanmanings begin stuur of ’n hofsaak aanhangig gemaak word,” sê sy.

Jeannine Naudé Viljoen van TransUnion-kredietburo verduidelik daar is ’n paar maniere hoe jy jouself kan beskerm teen identiteitsdiefstal.

  • Hou altyd jou ID en bankkaarte in ’n veilige plek en moenie dit by jou hou as jy dit nie nodig het nie.
  • Bewaar jou PIN wanneer jy geld trek of betaal.
  • Koop net by betroubare websites. Maak seker die webadres begin met ’n “https” en nie net “http” nie. Die “s” staan vir secure. Maak ook seker die naam in die webadres is dieselfde as die organisasie waarby jy koop.
  • Gebruik sterk passwords vir al jou rekeninge om te keer dat dit maklik gehack kan word.
  • Maak seker jou bank stuur ’n SMS wanneer daar aktiwiteit in jou rekening plaasvind.
  • Vernietig vertroulike dokumente.
  • Moenie sommer persoonlike inligting verskaf op die internet of sosiale media nie.
  • Moet nooit persoonlike inligting soos jou kredietkaartbesonderhede telefonies of per e-pos deel nie.
  • Kry jaarliks ’n gratis kredietverslag.
  • Moenie dit glo as jy boodskappe ontvang van erfporsies of geldpryse nie.

Die meeste mense vind eers ná ’n tyd uit hul identiteite is gesteel. Jeannine stel voor jy gaan gereeld jou bankstate na vir aankope of transaksies wat jy nie kan verduidelik nie.

Moet dit ook nie net daar laat as jy kredietkaarte of state ontvang vir rekeninge waarvoor jy nooit aansoek gedoen het nie of as jy afgekeur word vir krediet al is jou kredietrekord (volgens jou) skoon. Volgens Jeannine het amper die helfte van Suid-Afrikaanse verbruikers al deurgeloop onder identiteitsdiefstal of ken hulle iemand wat het. “Jy moet vinnig spring om groter skade te voorkom,” waarsku sy.

Jeannine se raad as jy vermoed jou identiteit is gesteel, is om:

  • Meld onmiddellik die diefstal aan by die polisie, SAFPS en die onderneming of bank waar die bedrog gepleeg is.
  • Vries al jou rekeninge en kry nuwe rekeninge, wagwoorde en PINs vir alles.
  • Monitor jou identiteit en kry gereeld kredietverslae.

Jackie raai jou aan om soveel moontlik bewyse en inligting te versamel. Vra die ondernemings waar jou ID gebruik is vir ’n afskrif van die dokumente wat die dief ingehandig het. Wanneer jy jou saak by die polisie en SAFPS aangemeld het, vra vir ’n saaknommer en ’n afskrif van die verslag.

Die bank of ander instansies sal dit dalk benodig. Dit is ook ’n goeie idee om die naam en kontakbesonderhede van die polisiebeampte te kry. Laat weet ook die kredietburo’s van die bedrog en kry ’n kredietverslag om te sien watter krediteure jou naam beswadder.

Om jou identiteit terug te kry en jou rekord te herstel, is ’n lang en moeilike proses. Dit is juis hoekom jy jouself daarteen moet beskerm.

Suid-Afrika het tans geen spesifieke wetgewing ingevolge waarvan ’n misdadiger vir identiteitsdiefstal aangekla kan word nie. “Diewe word gewoonlik vervolg vir algemene misdade soos bedrog of vervalsing en eerste oortreders kan tot 15 jaar tronkstraf kry waar die betrokke bedrae meer as R500 000 is.

Tweede oortreders kan tronkstraf van tot 20 jaar of langer in die gesig staar,” verduidelik Jackie. “Om jou identiteit terug te kry en jou rekord te herstel, is ’n lang en moeilike proses. Dit is juis hoekom jy jouself daarteen moet beskerm. Hoe vinniger jy uitvind en dit stopsit, hoe beter kans het jy om jou identiteit in ere te herstel,” meen Jeannine. Identiteitsdiefstal in Suid-Afrika is beslis kommerwekkend, veral omdat mense al hoe meer op die internet lewe. Wees elke dag versigtig en oplettend sodat jy jouself kan beskerm teen hierdie onsigbare gevaar.

*Skuilnaam

Meer oor:  Kuier  |  Identiteitsdiefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.