Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Pasop vir polisistiese ovariële sindroom
pcos, ovariële sindroom
Dit lyk wel asof baie meer jong mense nou daarmee gediagnoseer word.

Die hormoonversteuring polisistiese ovariële sindroom (PCOS) kan ’n vrou se hele lewe omkrap en groot ongemak veroorsaak. Met simptome soos ongereelde of geen menstruasie, te veel gesighare en aknee is dit ook geen wonder nie. Dié versteuring kom voor by vroue van voortplantingsouderdom. Kenners raam die sindroom raak minstens 15% van alle vroue. Dit lyk egter asof dit deesdae baie meer voorkom. Die ginekoloog dr. Willie Basson van Kaapstad meen daar is twee moontlike redes vir hierdie persepsie. Volgens hom het PCOS nie onlangs kop uitgesteek nie, maar meer vroue praat net deesdae openlik daaroor.

“Dit lyk wel asof baie meer jong mense nou daarmee gediagnoseer word en ek dink dit het te doen met die moderne leefstyl. Ons leef in tye waar die druk van die lewe meer is as vorige jarige. Stres en leefstyl is van die groot goed wat ’n impak op jou hormone kan hê.” Hy verduidelik as jy met PCOS gediagnoseer word, beteken dit die hormoonversteuring veroorsaak dat jy oortollige vlakke van die manlike hormoon androgeen het. Dit dra by tot ’n ongewone menstruele siklus. Só kan vroue ’n baie lang of kort siklus ervaar.

Basson sê “polisisties” beteken daar is baie klein siste (lugblasies) of knoppies op jou eierstokke. Sommige vroue met PCOS het dié siste, terwyl vroue sonder PCOS net ’n paar knoppies het. Al het jy baie siste, is dit nie noodwendig skadelik nie en hoef dit nie verwyder te word nie. Die lugblasies kan egter veroorsaak dat jy nie gereeld eiers vrystel nie.

Dáárdie tyd van die maand is nooit lekker nie, maar as jy boonop laat is, kan die moontlikheid van ’n swangerskap baie stres veroorsaak. Chantelle du Plessis (27) van Kuilsrivier in die Kaap vertel sy het voor haar diagnose nog nooit eens van PCOS gehoor nie. Sy het bekommerd geraak toe sy vir vier maande nie menstrueer nie. Sy was nie op voorbehoed nie, maar sy en haar kêrel was versigtig, so sy het nie gedink sy kan swanger wees nie. Maar omdat sy nie gemenstrueer het nie, het sy elke maand ’n swangerskaptoets gedoen.

“Ek het geskrik die eerste keer toe ek laat was. Ek was bang ek is swanger. Die swangerskaptoets was negatief en ek was verlig. Ek het gedink dalk is dit stres en dat ek die volgende maand sal menstrueer, maar ek het nie. Die vierde maand kon ek dit nie meer hanteer nie en ek is ginekoloog toe. Hy het vrae gevra en ’n ultrasound gedoen. Hy het gesien daar is siste op my eierstokke en gesê hy vermoed dis PCOS. Bloedtoetse is gedoen en hy was reg,” sê sy.

Niemand in haar onmiddellike familie het PCOS nie, so dit was vreemd vir haar. Sy moes self daaroor oplees en het besef stres by die werk is dalk haar probleem. 

Volgens Basson is die presiese oorsaak van PCOS onbekend. Maar vroeë diagnose en behandeling saam met gewigsverlies kan die risiko van langtermynkomplikasies soos tipe 2-diabetes, hartsiektes en endometriale kanker verminder. Die kanse vir dié toestande is effens groter in jong vroue wat nie gereeld ovuleer nie. Omdat PCOS ’n wanbalans in die hormone (chemiese boodskappers) in jou brein en jou eierstokke is, veroorsaak dit dat die eierstokke ekstra testosteroon maak.

PCOS ontstaan gewoonlik as die luteïniseringshormoon van die pituïtêre klier of vlakke van insulien te hoog is. Dit beteken jou eierstokke kry nie die regte hormonale seine (om te begin ovuleer) van jou pituïtêre klier nie.

“Sonder dié seine sal jy nie ovulasie-eiers maak nie. Jou siklus kan dus abnormaal wees. Die hoë vlakke testosteroon veroorsaak dan meer gesighare, puisies en ander hormoonveranderings.

“Baie vroue met PCOS het hoër vlakke insulien in hul bloed. Hoër vlakke van insulien kan soms donker kolle op die vel van jou rug, nek of onder jou arms veroorsaak. Velselle en haarfollikels kan uiters sensitief wees vir die klein toenames in testosteroon wat in jong vroue met PCOS voorkom en dit veroorsaak die aknee en ekstra hare op jou gesig en liggaam. Sommige meisies word gelyktydig met beide Metformin (’n diabetes-pil) en voorbehoedmiddels behandel.”

Vrugbaarheid

Lauren Gabriels (34) van Kaapstad sê sy was bang sy sou nooit ma word toe sy met PCOS gediagnoseer word nie. Volgens haar is dit die een ding waaroor almal haar gewaarsku het en dit het haar baie hartseer gemaak, omdat sy pasgetroud was toe sy drie jaar gelede met PCOS gediagnoseer is.

“Almal waarsku jou jy sal nooit kinders kan hê wanneer jy PCOS het nie. Die dokter het vir my gesê ons gaan dalk sukkel, maar dit is nie onmoontlik om swanger te word nie. Ek het geweet van twee vriendinne met PCOS wat vir onderskeidelik vyf en agt jaar moes sukkel voordat hulle swanger geword het. Gelukkig vir my en my man, het die dokter my onmiddellik op hormoonbehandeling gesit en ons het glad nie lank gesukkel om swanger te word nie,” sê sy verlig.

“As ek nou dink hoe ek gehuil het toe ek eers uitvind dat ek PCOS het, voel dit soos ’n droom, veral omdat ek vandag my engel in my arms vashou. Dit het soos ’n doodsvonnis gevoel, maar almal verskil en jou liggaam reageer anders as iemand anders s’n.”

Basson stem saam dat baie vroue met PCOS sukkel om swanger te word, maar nie almal nie. As jy bekommerd is oor jou vrugbaarheid raai hy jou aan om met jou dokter te praat. Daar is baie nuwe behandelingsopsies beskikbaar, insluitend medikasie om jou insulienvlakke te verlaag of om jou elke maand met ovulasie te help.

Die belangrikste behandeling vir PCOS is om te verseker dat jy ’n gesonde leefstyl volg wat gesonde eetgewoontes en oefening insluit. Gesonde eetgewoontes kan jou hart gesond hou en jou risiko verminder om diabetes te kry. Kies voedsame, hoë veselkoolhidrate in plaas van suiwer of verfynde koolhidrate. Daar is medikasie om jou te help om ’n onreëlmatige siklus, oormatige haargroei en aknee te beheer.

PCOS is nie die einde nie, daar is hoop vir jou. 

In 'n neutedop

Die toestand begin gewoonlik in puberteit tydens jou eerste menstruele siklus. Soms ontwikkel PCOS later as jy baie gewig optel.

Tekens en simptome verskil (jy moet ten minste twee van die volgende het): onreëlmatige menstruele siklusse, te veel androgeen en polisistiese eierstokke.

Oorsake: te veel insulien, inflammasie, gene en te veel androgeen.

Komplikasies: onvrugbaarheid, diabetes, miskrame, vroegtydige geboorte, lewerinflammasie en metaboliese sindroom.

pcos, ovariële sindroom
'n Hormoonwanbalans veroorsaak dat baie klein siste (lugblasies) of knoppies op jou eierstokke ontwikkel en dat jy nie gereeld 'n eier vrystel nie.
Kuier Foto ter illustrasie
Meer oor:  Pcos  |  Kuier  |  Polisistiese Ovariële Sindroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.