Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Petrol tap ons leeg
8 Augustues 2018


Die petrolprys het pas tot rekordhoogtes gestyg. Behalwe dat dié styging elke keer jou beursie leër tap, beteken dit ook verhoogde kostes elders wat jou nog meer van ’n knou gee. Volgens die departement van energie (DoE) gaan dié prysverhogings veral die armstes onder die armes raak wat die grootste deel van hul inkomste aan vervoer spandeer.

Ofentse Mokwena, dosent in vervoer ekonomie aan die Noordwes Universiteit se Mafikengkampus, sê Suid-Afrikaners gaan binnekort stygings in goedere sien wat met die pad vervoer word (en dít, sê hy, is byna alles wat jy van ’n winkelrak kan koop). “Ons kan net nie presies voorspel met hoeveel en wanneer hierdie verhogings gaan intree nie, maar dit sal binnekort wees. Goed soos somerklere kom in die winter in Suid-Afrika aan en daardie pryse gaan ook geraak word deur die onlangse petrolprysstyging, sê hy. “Mense sal vooruit moet begin dink aan brandstofverhogings en dit in hul begrotings inwerk.”

Volgens die DoE gaan die prys om landbouprodukte te produseer en te vervoer beslis onder druk kom, want 80% van die land se graan word op die pad vervoer. Hierdie kostes gaan uiteindelik jóú sak raak. Graan word tans geoes en vervoer na die silos en die verhoogde brandstofprys word nou hierby gevoeg. Jy gaan duurder betaal vir brood, meel, énigiets wat van graan gemaak word.

Volgens kenners gaan dié klomp verhogings ’n impak op jou sak en die land se ekonomie hê. Dit gaan verbruikers se besteebare inkomste en uiteindelik die BBP (bruto binnelandse produk) beïnvloed. (Die BBP is die finale waarde van goedere en dienste wat binne die grense van ’n land geproduseer word gedurende ’n spesifieke tydperk, gewoonlik ’n jaar. ’n Land se BBP- groeikoers is ’n belangrike aanduiding van die ekonomiese gesondheid van ’n land.)

Minder geld vir almal

As Suid-Afrikaners ’n laer besteebare inkomste het (die geld wat hulle oor het om op goedere te bestee), sal dit uiteindelik ’n negatiewe effek hê op dit wat hulle op kleinhandelgoedere (kos, klere, tydskrifte, skoene, juweliersware) kan spandeer.

“Jy gaan minder geld oorhê om op dié dinge te spandeer,” sê Ofentse. Ofentse verduidelik daar is ’n teorie oor waarom daar die een verhoging ná die ander is en dit eenvoudig voel asof die petrolprys nooit weer gaan daal nie.

Hy verduidelik die idee word peak oil genoem. “Dit beteken dat ons die spits van die olie wat op aarde beskikbaar is, bereik het. Nou is ons in ’n situasie waar ons waarskynlik minder en minder petroleum kan kry (ons praat nou van dit wat die aarde nog beskikbaar het). Ja, daar is nog brandstof beskikbaar, maar ontdekkingsgewys is dit besig om ’n skaars bron te word. Onthou ook dat die groot oliemaatskappye ’n geweldige klomp geld in infrastruktuur belê het om olie te ontgin.

Hulle wil nou soveel moont-lik geld terughê vir dit wat hulle ingesit het voordat hierdie infrastruktuur onbruikbaar word.” Volgens Layton Beard, openbare betrekkingebestuurder van die AA, is die rits brandstofstygings die gevolg van ’n verswakte rand teen die Amerikaanse dollar. Hy sê dit is moeilik om te voorspel wanneer daar weer ’n styging gaan wees.

Die AA maak twee keer per maand vooruitskattings oor brandstofstygings, een in die middel van die maand en teen maand-einde. Ten tye van sy onderhoud met Kuier het hy gesê dit lyk of daar dalk ’n 20c- of 30c-styging kan wees, maar, sê hy, dit kan binne ’n dag verander en dalk styg die petrolprys glad nie. Ofentse raai mense aan om te kyk hoe hulle die koste van brandstof per passasier in hul motors kan verlaag. Hoe meer mense jy het wat saam met jou ry, hoe goedkoper gaan jou brandstof wees. Dink aan ryklubs vir trips skool toe en terug. As jy enigsins kan, moet jy probeer om glad nie jou motor te gebruik nie.

Volgens hom gaan ma’s die petrolprysverhoging die seerste voel, want hulle is die mense wat die meeste trips per dag doen. “Beplan jou trips. Probeer by jou winkels uitvind op watter dae hul goedere arriveer sodat jy die vars goedere kan kry en een trip vir die apteek, grocery winkel en skool trips kan doen,” sê hy. Nóg ’n tip is om nie om en om in ’n parkeerarea te ry totdat jy ’n parkeerplek voor die deur kry nie. “Vat die eerste en beste plek en loop daardie ekstra paar tree tot by die deur,” sê hy.

Tips van Kuier-lesers

• Ons doen saamryklubs vir die meeste van die kinders se aktiwiteite – van skool toe gaan in die oggend tot rugby en ballet ná skool. Dit beteken dat jy nie elke week (of in sommige gevalle elke dag) vir ’n aktiwiteit hoef te ry nie. En face dit, dis dié aktiwiteite wat jou tenk leegtap (nie grocery shopping nie!) – Melissa Foord, tuisblyma, Vereeniging

• Maak jou tenk in die oggend vol. Só kry jy meer petrol in, want hoe laer die petrol (of diesel) se temperatuur hoe hoër die digtheid. Jy kry daarom bietjie meer brandstof vir jou geld. – Terrence Brand, onderwyser, Pretoria

• Laat diens jou kar gereeld en moenie dienste oorslaan nie. ’n Diens vir jou kar is vir jou soos ’n jaarlikse mediese check-up. Goed soos stukkende spark plugs, brieke wat vervang moet word en vuil lugfilters is alles redes vir jou kar se enjin om harder te werk en meer petrol te verbruik as wat hy moet. – Terrence Brand

• Probeer om jou kar se aircon so min moontlik te gebruik. Ek het agtergekom dit het ’n impak om my kar se brandstofverbruik wanneer ek dit aanmekaar gebruik. – Leigh Rough, bemarkingskonsultant, Vanderbijlpark

• Beplan al jou shopping sodat jy nie van een plek na ’n volgende hoef te ry nie, of sodat jy al jou goed sommer so na as moontlik aan mekaar, op een dag, kan kry. Dit spaar mos ’n hele paar kilometer se petrol – Cheryll Venter, tuisblyma, Johannesburg

• Hou by die spoedgrens. Hoe vinniger jy ry, hoe meer petrol gebruik jy. – Jamie le Roux, Johannesburg

• Hou die local verkeersverslae dop, jy kan oor die radio luister of op jou gunstelingradiokanaal se website kry. As jy sien verkeer in jou omgewing of die roete wat jy moet huis toe ry is erg, ry eerder later. Dit spaar brandstof, en ook die wear en tear op jou kar se brieke en transmission. – Garreth Smith, IT-Tegnikus, Centurion

• Laat check jou kar se wielsporing (wheel alignment). As dit nie reg is nie veroorsaak dit meer friksie, wat meer krag van die kar vra en lei tot hoër brandstofverbruik. – Jacques Strydom, mechanic, Pretoria

• Ry teen die laagste spoed in die hoogste rat wat verkeersvloei jou toelaat, sonder om die enjin te oorlaai. – Jacques Strydom

• Check gereeld jou kar se tyre pressure. As dit te pap is, verhoog dit die rolafstand tussen jou kar en die pad. As dit te pap is, gebruik jou kar meer brandstof om vir hierdie ekstra ‘drag’ en friksie op te maak. Navorsing het bewys as jou kar se bande korrek gepomp is, kan dit die kilometers wat jy op ’n liter petrol kry met soveel as 3,3% verhoog. – www.timeslive.co.za

Foto: Gallo Images/Getty Images


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Petrolprys  |  Kuier  |  Begroting  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.