Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Platteland: Dorpies loop ook deur onder corona
28 Mei 2020


Hoewel Covid-19 (die nuwe corona-virus wat wêreldwyd verwoesting saai) veral in digbevolkte stede toeslaan, beteken dit nie plattelandse gemeenskappe is ongeskonde nie.

In die Wes-Kaap heers daar veral kommer in die Witzenberg-streek nadat die aantal mense wat positief getoets het, onlangs drasties gestyg het. Die Witzenberg-streek waaronder dorpe soos Ceres, Tulbagh, Wolseley en Prince Alfred Hamlet val, was teen druktyd met amper 200 positiewe Covid-19-gevalle ’n “hot spot” van die virus in die Wes-Kaap buite die Kaapse metropool.

Dié provinsie het teen druktyd meer as 7 000 positiewe gevalle gehad met die hoogste sterftesyfer (amper 150) weens Covid-19 in die land. Hoewel die Wes-Kaapse regering dadelik ’n plan gemaak het vir die Witzenberg-area, is die groot vrae tans of landelike gemeenskappe die virus ernstig opneem en genoeg gedoen om hulle in te lig en ook te toets.

Ná die styging in Covid-19-gevalle in die Witzenberg-streek het die Rhodes Food Group (RFG) die produksie by sy vrugteproduksiefabriek op Tulbagh gestaak en die fabriek is tydelik gesluit ná ’n negende positiewe geval by die fabriek. RFG is ’n groot werkgewer in die Tulbagh-streek en bied werk aan meer as 1 500 permanente en seisoenale werkers uit die omliggende gemeenskappe.

Nóg ’n voedselverwerkingsmaatskappy, In2food Group (Pty) Ltd, sê by monde van Eshwin Booysen, die hoof- menslike hulpbronbeampte, die virus het geen invloed op hul voedselproduksieprosesse nie omdat die maatskappy die hoogste wêreldwye voedselveiligheid- en veiligheidstandaarde toepas. So dit het nie hul vermoë beïnvloed om veilige produkte te vervaardig nie.

Maar Covid-19 het wel die aanvraag na sekere voedselprodukte beïnvloed. “Weens die inperkingsreëls het ver-skeie maatskappye gesluit en daarom het produksie aansienlik gedaal.” Hy sê voorts dat die maatskappy in sommige gevalle mense tydelik moes afdank weens laer produksie of sluitings.

Volgens Eshwin is werkers se gesondheid en veiligheid tydens die pandemie ’n prioriteit. “Die vermoë van ons kollegas om aan te hou om vir hul gesinne te werk en geld te verdien, is die sleutelfaktor om die impak van die virus te verlig. Ons voedselvoorsieningstelsel sal funksioneel bly om die land te voorsien.” Thoko Didiza, minister van landbou, het in ’n persverklaring beklemtoon dat die sektor vir landbou en voedselvoorsiening een van die belangrikste stelsels is vir lewensbestaan. “Dit sal dus deurlopend in werking bly.”

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende bestuurder van Agri SA, sê ’n mens sal eers ná ’n paar kwartale kan sien wat die finansiële impak van die pandemie was. “Die droogte het ’n groter impak op die werkgeleenthede as Covid-19,” sê hy. Dit blyk egter uit nuusberigte dat daar inderdaad rede is tot kommer oor sommige plattelanders se attitude teenoor die gevreesde virus.

Koerante in die Oos-Kaap berig daar is ook kommer nadat 200 positiewe Covid-19-gevalle glo uit net drie begrafnisse in die provinsie gespruit het – dít, al word net 50 mense by ’n begrafnis toegelaat. In Port Elizabeth was daar 160 nuwe gevalle uit twee begrafnisse. In Port St. Johns, ’n klein gemeenskappie in die Majola-distrik, was die 40 nuwe gevalle as gevolg van een begrafnis op 21 Maart vanjaar.

TimesLive berig ten spyte hiervan gaan die gemeen-skap aan asof niks gebeur het nie. Nolundi Meji, ’n tradisionele leier, het bevestig po- sitiewe gevalle loop rond in die straat en maak kontak met ander. “Daar is geen wetsbeheer nie. Hierdie is ’n ramp en gaan ons almal uitwis.” Die platteland kan ’n moontlike “corona-tydbom” wees omdat nie almal die erns van die saak besef nie en groot smart gaan waarskynlik die gevolg wees wanneer dit ontplof.

Mense luister nie

Só het Paarl se sakekern gelyk tydens Sassa-week op 4 Mei. Dit was toe nog lockdown level 4.

Dit is ’n bekommerde Charlene Pedro (21) van Ceres wat vertel hoewel dié dorp die meeste positiewe gevalle in die streek het, besef mense steeds nie die erns van die situasie nie. Volgens haar is social distancing ook ’n groot probleem omdat nie almal dit toepas nie. “Voor die virus uitgebreek het, was die dorp elke Vrydag en Saterdag vol mense.

Nou gedurende die pandemie is dit steeds propvol en die dorp bars uit sy nate soos die mense tekere gaan. Met die toename in positiewe gevalle sou ’n mens dink dat hulle bang sal wees en in die huis bly, maar dit is glad nie die geval nie. Dit is ook heel waarskynlik hoekom die gevalle by die dag verdubbel.” Mark Mentor (54), voorsitter van Ceres se polisiëringforum, sê op sy beurt: “Dit is asof die mense eers wil wakker skrik wanneer dit te laat is. Hier is dit vir een of ander rede steeds die geval van ‘dit gaan nie vir my affekteer nie’. Tot dit doen.”

Donnuchea Swart (30) van Caledon wat in ’n bank op die naburige dorpie Grabouw werk, merk selfs op: “Dit lyk vir my toe die president aangekondig het ons gaan na level 4, was dit back to normal vir baie mense.” As voorbeeld noem sy hoe lank die lyne elke dag buite hul bank is soos mense queue.

Sosiale distansiëring is ook ’n distant thought hier. Sy dink omdat baie mense nie Engels so goed verstaan nie, het die president se boodskap oor hoe ernstig die virus is, oor baie inwoners se koppe gegaan. Daarom dat die aankondiging van level 4 vir hulle geklink het dat alles terugkeer na normaal, terwyl dit nie só is nie.

Olga Alexander (26) van Montagu sê op haar dorp besef mense beslis nie die erns van die saak om gehoor te gee aan die lockdown-regulasies nie. Volgens haar raak haar bure kwaad as sy nie wil hê hul kinders moet by hare kom speel nie en mense reël steeds kuiers en partytjies. “Die eerste dag van lockdown het soos ’n vakansiedag gelyk in Montagu.

Die eerste twee weke (saans tussen 18:00 en 19:00) het ons polisiebeamptes met ’n geraas gery en mense rondgejaag, maar hier by week drie toe sien ons nie meer ’n polisie-van nie. Almal soek nog steeds ’n manier om die reëls te breek,” sê Olga. Dit blyk egter of dinge veral in die sakekerns van plattelandse dorpe ’n uitdaging bly. Op Worcester gaan dit erg, vertel Su- zette Willemse (50), ’n inwoner van dié dorp. “Waar ek bly (Worcester-Wes) volg mense die reëls tot op ’n punt. Die oomblik as jy in die Hoogstraat beweeg, is die situasie normaal asof daar nie lockdown is nie. Taxi’s is nog overcrowded, mense staan sonder maskers in bondels voor winkels.”

Helpende hande

Maar dis egter nie alles doom en gloom op die platteland nie. Daar is wel mense wat die reëls nakom en mense wat uitreik na hul medemens. Pietie Engelbrecht, ’n toesighouer op een van die Smuts Broers-plase in die Robertson-distrik, sê die plaasgemeenskappe het goed aangepas by die lockdown-reëls en die toepas van sosiale distansiëring en om gereeld hul hande te sanitize.

Pietie sê voorts ter voorbereiding vir moontlike positiewe gevalle onder werkers op hul plaas, is daar ook reeds ’n lokaal voorberei om mense wat dalk moet isoleer, te huisves. “As gevolg van die inperking, het ons ons plaasmense betaalde verlof gegee en daar is voorsiening gemaak vir die minderbevoorregtes op die dorp in die vorm van (kos)skenkings,” sê Pietie.

Op Bonnievale doen die Bonnievale Emergency Feeding Scheme ongelooflike werk, vertel Bonita Malherbe, ’n inwoner wat werksaam is in die wynbedryf. Maar met ’n sukkelende ekonomie gaan dit nie volhoubaar wees nie, voorspel sy. Maar dan is daar ongelukkig ook plekke waar kospakkies glad nie by mense wat dit die nodigste het, uitkom nie.

Gregory Noble, ’n Son-joernalis van George, sê mense kan nie by die werk uitkom nie en kospakkies wat aan hulle belowe is, kom glad nie by sommige uit nie. Dié wat dit wel kry, kan nie lank daarmee uitkom nie, veral omdat daar dikwels meer as vyf mense in ’n huis is. Intussen sukkel plattelandse ondernemings ook om kop bo water te hou en frustreer dit inwoners dat hulle nie als mag koop wat hulle wil nie, vertel Nellie van Wyngaard (51).

Sy is van Bonnievale, maar werk in ’n winkel op Montagu wat onder meer elektriese toebehore verkoop. “Mense raak geïrriteerd omdat hulle nie als mag koop behalwe kos nie,” sê Nellie. In die wynbedryf wat aan baie mense werk verskaf, is die impak van die lockdown groot. Bonita sê die situasie is kommerwekkend omdat hulle nie tans aan die plaaslike mark mag verkoop nie.

“Die druk op kontantvloei is enorm en dit gaan Junie tot Augustus net erger raak. As dinge só aanhou op die platteland, vrees kenners die ergste. Die feit dat plaaslike gemeenskappe weereens agter in die ry staan vir inligting en toetsing, voorspel ’n ramp van ondenkbare proporsies . . .

Meer oor:  Korona-Virus  |  Kuier  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.