Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Pleisters vir Paasfees
11 Julie 2018

Bronwen lag uit haar keel vir al Keenan se pittige sêgoed. Sy skud net haar kop. “Waar kom jy aan al die goed?” Watter 17-jarige seun sal op ‘n Saterdagmiddag met sy ma staan en pickled fish maak vir Paasfees? Haar hart swel van trots en liefde as sy so na sy vrolike geselsery luister.

“Keshia! Keshia!” skree hy spottend af in die gang vir sy tweelingsuster.

“Wat? Ek kom!” skree sy terug.

“Keenie,” Bronwen hou die bottel met die bietjie olie in omhoog. “Ek dink nie die olie gaan genoeg wees nie.”

Hy skud sy kop. “Hu-uh, dis te min. Daar’s nog baie vis oor. Moenie worry nie, ek sal sommer gou gaan koop.”

“Asseblief, Boeta, ry gou met die bike.”

Toe sy enkele minute later die skreeuende remme en die dowwe slag in die straat hoor, raak sy yskoud. Die glasbak met die gaar vis in, val kletterend uit haar hand in duisend skerwe. Nes haar lewe.

Op Goeie Vrydag lig die dokters hulle in dat Keenan breindood is en op Paasmaandag skakel hulle die masjiene af... 

Dit was vyf jaar gelede. Bronwen het eenvoudig net nie die krag om opgewonde te raak oor Paasfees nie. Die verlange en seer is nog te rou. Keshia en Doug, haar man, het alleen die kerkdiens bygewoon. Bronwen was nog in slaapklere toe hulle terugkom van die kerk af.

“Doug, jy moet maar gaar vis en hot cross buns gaan koop. Ek’s in elk geval nie honger nie,” sê Bronwen.

Doug knik net. Hy kom nader en druk haar styf teen sy bors vas. Dit is egter net die katalisator vir die trane wat al die hele oggend vlak in haar bors sit. Hulle hou mekaar styf vas terwyl trane oor albei se wange stroom. Doug hou sy ander arm na Keshia uit. Sy loop in hul omhelsing in en vir ’n lang ruk staan hulle drie só, gebind deur hul verlange en seer.

“Dis oukei, Ma Bronnie. Gaan shower solank. Keshia, kom ons gaan winkel toe.”

Voordat Doug en Keshia terug is, lui die voordeurklokkie. Die hele familie daag op, elk met hul ingelegde vis, hot cross buns en warm glimlagte.

“Ons kon jou nie alleen los op ‘n dag soos vandag nie,” sê haar ma en pa, die eerstes wat opdaag. Haar niggie en beste vriendin kom ook in en sit langs Bronwen. Sy sit haar arm om haar. “Ek wens ek kon jou pyn ligter maak.”

Bronwen lag flou. “Ag Libby, dit raak darem beter. Maar Easter gaan net nooit weer dieselfde vir my wees nie.”

Libby se vyfjarige kom klouter op haar skoot. Libby sug. “Ek’s so moeg.” Sy wys met haar oë na haar woelwater.

Bronwen lag. “Haai, Rowan, jong, maar jy is ‘n grootman,” maak sy geselsies.

Hy kyk hulle met groot oë aan. “Antie, hoekom is julle so sad?” Bronwen is onkant gevang. Libby sien Bronwen se ongemak en antwoord: “Boeta, Antie se seun, Keenan, is voor hul huis omgestamp. Hy het gesterf. Hy was op sy fiets.

“Wat is gesterf, Mammie?”

“Onthou jy Dominee het vanoggend vertel van Liewe Jesus wat op die kruis gesterf het?” Hy knik.

“Wel, dit beteken jy gaan hemel toe en dan bly jy nie meer hier by ons nie.”

“Maar Keenan het op sy fiets gesterf en liewe Jesus op ’n kruis, nè?”

Vir die eerste keer raak Bronwen bewus van haar omgewing. Sy was so vasgevang in Rowan en Libby se gesprek, dat alles om haar stil gaan staan het. Sy besef almal is doodstil en luister nou aandagtig na Libby en Rowan se gesprek.

“Dis hoekom ons Easter vier, Boeta. Liewe Jesus het ook Easter gesterf om alle mense se sondes te vergewe en sodat almal daarna ’n beter lewe kan lei.”

“Oooh. So, Keenan het ook Easter gesterwe, soos liewe Jesus?” Dit lyk of ’n liggie in sy oë aangaan. Hy glimlag breed.

“Ja,” antwoord Libby, nie seker waarheen die gesprek lei nie.

“Sodat onse sondes ook vergewe kan word en sodat ons ook beter kan lewe? Cool! Is Keenan ook my neef?”

“Ja, Hy’s jou neef, maar...”

Rowan onderbreek haar. “Antie Bronnie, ek like my neef! Hy spring van sy ma se skoot af en hardloop in die rigting van die boublokkies.

Libby skud maar net haar kop en lag.

“Libby, ek’t skoon vergeet om te vra, wat was Dominee se Paasboodskap?”

“Johannes 3 vers 16. Want so lief het God die wêreld gehad...”

Die dae ná Easter knaag en knaag Rowan en sy ma se gesprek aan Bronwen.

Ná nagte se rondrol, maak alles uiteindelik vir haar sin. Keenan se dood hoef nie verniet te wees nie. Sy dood kan ander mense se lewens beter maak, soos Rowan gesê het. Sy bespreek haar plan met Doug en Keshia en hulle is entoesiasties as sy verduidelik wat sy beplan.

Die maande daarna sit Bronwen-hulle elke maand ’n klein bedrag weg. Hul familie en vriende raak betrokke.

Die volgende Paasfees sit hulle al hul spaargeld bymekaar en koop genoeg vis en lê dit in. Op Goeie Vrydag, ná kerk, koop hulle genoeg hot cross buns en daarna gaan die hele familie en deel vis en hot cross buns uit aan elke hawelose wat hulle teëkom. Die res laai hulle by die weeshuis af.

Ná die tyd kom almal weer by Bronwen se huis bymekaar en geniet ’n ete. En sesjarige Rowan verstaan nie waarom hy so baie soentjies kry nie.

En so groei die tradisie. Die kerk kom ook te hore van die Peters-familie se Paasfees-welwillendheidsgebaar en raak betrokke. Later daardie jaar word daar ’n Trustfonds onder die kerk se vaandel gestig, die Keenan Peters Easter Drive, wat elke Paasfees vis en hot cross buns regoor die dorp aan alle minderbevoorregtes uitdeel. Bronwen bly aan die stuur van alles en die hele familie is nog steeds aktief betrokke.

Sewe jaar ná Keenan se sterfte, die Donderdag voor Goeie Vrydag, is Bronwen vroeg en hard besig om die vis en hot cross buns in pakkies te sit. Die res van die familie is op pad. Sy mis haar kind steeds baie, maar die seer is nie meer so erg nie. Deur sy dood kan sy iets vir ander beteken.

Doug laai haar en Keshia by die kerksaal af waar alreeds so twintig vrywillige vroue wag om haar te help. Sy voel vir ’n wyle ’n skielike lighoofdigheid, maar ignoreer dit. Die atmosfeer is lig en vrolik in die kerkkombuis. Bronwen tree vorentoe om die lig aan te skakel, sy reik na die skakelaar, maar word oorval deur ’n donkerte. Sy hoor nie die angstige gille toe sy neerval en duisternis haar omvou nie.

Bronwen skrik wakker en is verward.

“Waar’s ek?” Trane rol oor haar wange.

“Ek’s hier, Mammie,” sê Keshia.

“Wat gaan aan?”

“Mammie het gecollapse by die kerksaal. Die dokter sê Mammie is oorwerk en Mammie se bloeddruk is sky-high. So Mammie moet relax. Alles is onder beheer. Die pickled fish is gepak, so slaap.”

Op Goeie Vrydag word Bronwen uit die hospitaal ontslaan. Sy is baie tranerig.

“Mammie, alles is onder beheer. Mammie moet rustig wees,” sê Keshia. “Ek dink Keenan se nagedagtenis sal vir altyd voortleef, met alles wat Mammie sover gedoen het met die Keenan Easter Drive. Maar ons as gesin, ons maak nie meer herinneringe nie. Wat van ons, Mammie? Ons is nog hier. En ons het vir Mammie ook nodig.”

Bronwen sit regop. “Maar ek is mos hier vir julle...”

En in een helder oomblik besef sy die waarheid. Sy was nie. Sy het vir jare in haar verdriet in haar seun se dood gebaai. En die Keenan Easter Drive het daarna alles anders oorheers. En Keshia en Doug was elke tree daar vir haar. Maar sy het hulle vergeet, hulle verdriet en seer het by haar verbygegaan in die aangesig van haar eie verdriet.

Haar gesig frommel in trane, maar twee stelle arms omhels haar. Keenan sal altyd met hulle wees, maar dis tyd dat hulle as gesin weer regtig saam is.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.