Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Poep is ’n móét!
poep, wind


Poep, wind laat, stink maak, ’n bom laat bars...Wat ook al jy dit wil noem, ons het dit al almal beleef wanneer jou liggaam jou op die mees onverwagte en onvanpaste oomblik “in die steek laat” en jy ewe skielik ’n klipharde bom los!

So ontydig soos in die middel van ’n gebed of terwyl jy vir daardie pen buk. Dalk is jy die verleentheid gespaar van ’n harde bom, maar ’n sagte poep kan net so erg wees veral as iemand naby is en jy die hele vertrek vergas. Niemand het dit gehoor nie, maar daardie reuk volg jou en klóú!

Jy weet nooit waar, wanneer en hoe die nood gaan druk nie, maar al is dit heeltemal normaal om ’n windjie te laat, is dit iets waaroor min wil praat en die meeste mense oor skaam voel.

Selfs in die buitelug is mense bang om te poep, want hulle weet nie hoe hard of hoe sag dit gaan wees nie. En as dit meer as net ’n windjie is wat jy laat gaan, is dinge natuurlik duisend keer erger! Ja, die meeste van ons raak maar benoud wanneer hulle daai draai in hul maag voel en weet hulle sal nie meer kán knyp nie...

Kry lekker

Tamaryn George (47) van Kuilsrivier in die noordelike voorstede van Kaapstad sê sy weet dis natuurlik om te poep, maar sy het nog nooit daarvan gehou as mense voor haar ’n stink wind laat nie. Sy voel mense behoort toilet toe te gaan of iewers weg van ander af te staan wanneer hulle ’n windjie laat.

Dit is vir haar ’n ongemaklike ding en sy voel skaam selfs wanneer sy ’n glipsie maak. Maar volgens haar kry jy ook mense vir wie dit min pla. Sy sê haar man, Charles (49), kry amper plesier daaruit om te poep.

“Ek weet nie of ‘lekkerkry’ die regte manier is om dit te verduidelik nie, maar wanneer jy soos my man poep, glo ek dit moet vir jou een of ander soort plesier gee. Soms dink ek iets gaan bars soos hy dit uitdruk. Ons kan besig wees om TV te kyk, in die kombuis staan of self in die bed wees, as iets hom druk, dan laat waai hy,” sê sy.

“Maar hy poep nie soos ’n normale mens nie. Dit is amper asof hy doelbewus kliphard druk om dit so te laat ‘uitval’. Soms skrik hy self en dan klink dit ook nog asof hy iets gaan skeur. Ek dink nie dit is normaal nie, maar vir hom is dit lekker, terwyl ek kwaad of skaam raak.”

Moenie inhou nie

Eloise Josephs (32) van Stellenbosch sê in die agt jaar wat sy en haar man saam is, het sy nog nooit voor hom gepoep nie.

“Ek het nog nooit en sal ook nooit nie. Die enigste mense wat my al hoor poep het, is my ouers en my suster. Ek weet jy behoort gemaklik rondom jou lewensmaat te wees en dat julle alles moet deel, maar ek wil nie en sal ook nooit my poep met hom wil deel nie. Ek is te bang dit stink en dat hy my nie aantreklik sal vind nie. Ek is ook net te skaam, want ek het al ’n paar glipsies in my lewe gehad op skool en universiteit en mense laat jou altyd sleg voel daaroor. Nadat ek kliphard op pad altaar toe by ’n vriendin se begrafnis gepoep het toe ek die Skriflesing moes gaan doen, het dit my heeltemal te bewus gemaak. Nou maak ek seker dat ek badkamer toe gaan, in die kar gaan sit of buite gaan loop wanneer ek wil poep,” sê sy skaam.

“My man het my eendag gevra of ek oukei voel, want volgens hom het ek ’n bietjie bleek gelyk en hy was bang ek is besig om siek te word. Maar dit was aand en ons was op die langpad en daar was nie ’n garage om by te stop nie, maar ek het ’n groot poep gehad. Ek het net geweet ek kan nie nou in die kar poep nie en het dit maar ingehou, maar dit was die eerste keer dat ek gevoel het asof ek dalk kan flou word. Al waaraan ek kon dink, is poep en hoe dit asseblief nie in die kar moet gebeur nie!”

Jy moet poep anders kan jy infeksie kry of kan daar ongesonde gifstowwe in jou liggaam ophoop.
Dr. Marais van Wyk

Maar wat presies is ’n poep en hoeveel keer per dag is ’n “normale kwota” poep per dag? ’n Mens sou dink dat twee of drie poepe genoeg sou wees vir een dag, maar volgens dr. Marias van Wyk, ’n gastroënteroloog, behoort ’n gesonde mens gewoonlik 14 tot 25 keer per dag te poep.

Volgens hom is dit baie belangrik om nie jou poep in te hou nie en om seker te maak jou liggaam raak ontslae van al die gifstowwe wat jou derms druk.

Van Wyk sê ’n poep vorm wanneer jou derms van gifstowwe probeer ontslae raak wat vorm wanneer jou kos in jou liggaam verteer. Dit word ook veroorsaak wanneer jy te vinnig geëet en te veel lug gesluk het. Hierdie gas en gifstowwe kan in enige deel van jou spysverteringstelsel, soos jou maag, kolon, derms of rektum, gevind word.

“Almal het gifstowwe en gas wat deur hul liggaam moet beweeg, sommige het net meer as ander en dit het direk te doen moet hoe en wat jy eet. As jy meer ongesonde kos of kos wat jou derm irriteer, eet, gaan jy natuurlik meer gas het. As jy minder dinge eet wat moeilik verteer of wat jou derm irriteer, gaan jy minder gas het en gaan jou liggaam makliker die kos kan verteer,” sê hy.

“Maar dit beteken nie dit is ongesond of abnormaal nie. Jy moet poep anders kan jy infeksie kry of kan daar ongesonde gifstowwe in jou liggaam ophoop.”

Andrea Jacobs, ’n dieetkundige, sê suiker en koolhidrate is die grootste oorsake van poep. Jou liggaam sukkel om dit te verteer en dit vat ook langer om te verteer. As jy baie van dié twee groepe eet, sal jy outomaties meer poep.

“As mense vinnig eet, sal hulle ook meer poep. Eet stadig sodat jou liggaam die kleiner stukkies kan verteer en moet ook nie groot stukke (op ’n slag) eet nie. As jy stadig eet, sal jy ook minder wind sluk en dit help om minder te poep. As jy ook minder bubblegum kou, sal jy minder poep. Dit is ook belangrik om seker te maak dat jy gereeld water drink,” sê sy.

“As jy meer groen groente eet, help dit om jou derms gesond te hou en wanneer jou derm gesond is, sal jou poep nie so erg stink nie.” 

Of jy nou daarvan hou of nie, om te poep is natuurlik en moet gereeld plaasvind om jou liggaam gesond te hou. Dit is dalk nie ’n gemaklike saak nie, maar definitief ’n noodsaaklike een! 

Meer oor:  Winde  |  Poep  |  Kuier  |  Gifstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.