Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Power Duo: Craig Lucas en Paxton
Craig Lucas, Paxton Fielies


Hulle is jonk en die wêreld lê aan hul voete. Enigiets is moontlik vir Paxton Fielies (18) en Craig Lucas (26), albei Kapenaars wat in 2017 onderskeidelik Idols SA en The Voice SA gewen het.

Hulle het gegaan van “normale” jong mense van die Kaapse Vlakte wie se ongelooflike sangtalent hulle oornag beroemd gemaak het met duisende fans. Maar hul nuutgevonde roem en sukses vrywaar hulle nie van daaglikse struggles óf afbrekende kommentaar van die publiek nie.

Inteendeel, dit plaas hulle in die “ideale” arena waar mense pyle na hulle kan skiet. Cyber-boelies het Paxton oënskynlik sonder rede begin aanval.

Sommige mense het gevoel hulle het die reg om haar te oordeel oor haar voorkoms, lewenskeuses, omstandighede en het ook haar ma daarby betrek – iets wat haar tot breekpunt gedryf het.

Craig aan die anderkant ly aan depressie en sy droom was nooit om beroemd te wees nie. Hy wou net liedjies skryf en vervaardig. Maar toe hy The Voice wen, het die kitsroem gekom. Hy was dankbaar vir die platform wat The Voice hom gebied het om sy musiek aan ’n groter gehoor bekend te stel. Sy roemstatus het hom egter laat voel asof hy die heeltyd ’n masker moet dra en iemand moet wees wat ander verwag hy moet wees. Dié druk het hom in so ’n diep gat gedompel dat hy hom aan drank vergryp het.

Maar Paxton en Craig het geleer om in hierdie uitdagende tye meer as ooit op familie en op mekaar te steun, en om ten spyte van alles op hul musiek gefokus te bly, want daardeur kan hulle hul ware self uitleef. En hulle weet al is dinge donker op ’n bepaalde tyd, sal die son weer skyn.

“Mense is geneig om te dink jy sal gelukkiger wees when you reach the top, when you have it all. Maar dit raak eintlik net moeiliker. Jy moet werklik emosioneel, fisies, maar veral ook geestelik gereed wees. Ek is nou ’n public figure, so mense gaan baie hê om te sê,” verduidelik Paxton en klink baie ryper as haar brose 18 jaar. Op 16 was sy tot op hede die jongste Idols SA-wenner. (Laasjaar se wenner, Yanga Sobetwa, was 17.)

Was gewone tiener

Voordat sy ingeskryf het vir Idols in 2017, was Paxton ’n gewone tiener van Bishop Lavis. Sy was altyd te senuweeagtig om op ’n verhoog te sing, maar die show het haar gedwing om uit haar dop te kruip. “Ek is steeds nervous elke keer as ek op ’n stage klim,” verklap sy giggelend. Sy het nie ingeskryf om te wen nie, maar om te groei as ’n kunstenaar en as ’n mens. Na afloop van die kompetisie het sang haar brood en botter geword en moes sy, op 16-jarige ouderdom, groot besluite oor haar toekoms begin maak. “Dit was life changing!”

Sy moes leer musiek skryf, besluit watter tipe musiek sy wil sing en watter beeld sy na die publiek wil uitstraal.

“Ek is steeds verras elke keer as mense my herken, veral as hulle sê ek het hulle inspireer om hul drome te volg. Dis malligheid, maar dis so ’n blessing,” sê sy. Dit laat haar voel asof sy iets reg doen, want vir haar gaan dit oor meer as net sing. Aan-vanklik het sy dit oorweeg om ’n “stage persona” te skep – ’n tipe masker vir optredes, juis omdat sy so op haar senuwees was. Gelukkig het sy gou besef as sy sang haar loopbaan wil maak, dié idee nie volhoubaar is nie. Deesdae is sy net wie sy is – op en af van die verhoog af.

Maar kort ná haar Idols-oorwinning, het cyber-boelies hul kloue begin skerpmaak vir Paxton. Aanvanklik het sy haar nie veel daaraan gesteur nie, maar die kommentaar het al hoe meer persoonlik begin raak.

“Ek het selfs doodsdreigemente begin kry. Mense het nare goed gesê soos ‘jy moes doodgegaan het in jou ma se baarmoeder’. Ek was stil daaroor, want ek het gedog dis maar deel van die nuwe leefstyl,” vertel sy. Maar ná ’n rukkie het sy besef al die negatiewe aandag is nie goed vir haar siel nie, dit het haar begin afbreek. “Party dae het ek net nie gereed gevoel vir werk nie. Ek was soms te bang om gigs te doen. Ek wou niemand sien nie. Ek was onseker van myself. Ek het dit toegelaat om my binneste aan te tas.”

Die oomblik wat Paxton besef het sy laat vreemdelinge toe om haar vreugde te steel, het sy begin uitpraat daaroor. “Ek het geweet ek is sterk en kan enigiets hanteer. Maar wat van die volgende mens? Mense maak hulself dood oor al hierdie memes, cyber-boelies en vieslike kommentaar. Dis emosioneel vreeslik afbrekend.”

Volgens haar is social media so ’n groot platform waar elke Jan Rap en sy maat hul opinies kan rondslinger, ongeag die gevolge. Daar was een kalant met sy eie Facebook page wat die vieslikste memes en kommentaar oor Paxton gemaak het.

Ek het selfs doodsdreigemente begin kry. Mense het nare goed gesê soos 'jy moes doodgegaan het in jou ma se baarmoeder'.
Paxton Fielies

Die blad is sedertdien toegemaak, maar wat haar seerder gemaak het, was die ander mense wat daaroor gelag, dit geshare het en genot geput het uit haar pyn. Dit is juis hoekom sy besluit het om haar storie te deel, sodat sy ander mense kan inspireer om nie hierdie boelies toe te laat om ’n invloed op hul lewens te hê nie. “Ek wil hê mense moet hul waarde besef, hulle is groter en beter as enige negatiewe kommentaar wat rondgegooi word.”

Paxton het sedertdien betrokke geraak by die Wes-Kaapse onderwysdepartement se “Raise your voice, not your phone”-anti-boelieveldtog saam met DJ Carl Wastie (van KFM) waar sy by skole gaan praat oor die gevare daarvan om te boelie en hoekom kinders nie boelie-video’s op sosiale media moet deel nie. “Dis al so algemeen kinders besef nie eens meer hulle word geboelie nie. Hulle dink dis normaal. Hulle moet herinner word dis nie oukei nie, en hulle het die reg om te sê ‘nee’,?” sê Paxton passievol. Die veldtog, en om haar storie met ander te deel, het haar ook gehelp om haar eie struggle te verwerk.

Deesdae kry Paxton steeds soms vreemde kommentaar en kritiek, maar sedert sy oopgemaak het oor haar pynlike ervaring, is dit asof sy nie meer omgee wat die haters dink nie. Hoewel sy ander se opinies oor haar respekteer, verkies sy om op die positiewe te fokus en gelukkig is daar baie daarvan! Vir Paxton gaan die lewe nou oor haar musiek en haar toekoms, en om haar ma se huis op te knap soos sy dit nog altyd wou hê. Sy bid gedurig en hou haar geliefdes en vriende baie na aan haar, veral wanneer dinge begin moeilik raak.

Net vriende

Craig en Paxton is baie goeie vriende en ondersteun mekaar deur moeilike tye.

Craig is ’n goeie vriend en ondersteun haar deurentyd. Craig het uitgereik na Paxton terwyl sy besig was met Idols nadat hy reeds gewen het. “Ons bly baie naby aan mekaar – sy in Bishop Lavis en ek in Elsiesrivier. Ek het gedink sy is incredible en het haar gekontak om haar sterkte toe te wens,” onthou hy. In daardie tyd is Craig se liedjie, “Smother”, vrygestel en Paxton wou graag ’n cover daarvan doen. Craig het egter iets beters in gedagte gehad – ’n duet. Fans van oraloor het vir lank (miskien steeds) gehoop en gedroom oor ’n romanse tussen hierdie twee – ons eie Beyoncé en Jay-Z! Sulke gerugte laat die twee giggel, maar daar steek geen waarheid daarin nie. Craig en Paxton is net goeie vriende.

“Ons het in dieselfde omstandighede grootgeword en ons is altwee deur hierdie crazy realiteitskompetisies. Ons is ook jonk en vars in die bedryf, dis intimiderend, so ons help mekaar staande bly. Dis lekker om iemand te hê wat weet presies waardeur jy gaan,” verduidelik hy.

Craig weet self hoe die belowende liggies van beroemdheid, nie alles is wat dit belowe om te wees nie. Hy het nooit gedink hy sal wegstap as die wenner van The Voice SA nie.

“Ek het altyd in my agterkop gedink, sodra hierdie kompetisie eindig, gaan ek my musiek skryf en ek gaan vir almal wys dís wat ek kan doen,” onthou hy. Hy wou nooit eens ’n sanger wees nie, maar ’n liedjieskrywer en vervaardiger. “Ek het aan ernstige stage fright gely. Ek kon glad nie op ’n verhoog staan nie, wat nog te sê van sing! The Voice was die eerste keer wat ek dit ooit gewaag het,” erken hy.

Dit het nie vir hom daaroor gegaan om die beste sanger te wees of die kompetisie te wen nie. Vir hom gaan dit alles net oor sy musiek – om eerlik en met integriteit sy hart en sy lewe daarin te sit, en hy het nou die platform om dit met ander te deel. Baie van sy nuwe musiek handel oor sy stryd met depressie en onsekerheid en die boodskap wat hy daarmee wil oordra, is mense is nie alleen nie.

Baie moeilike tyd

Craig Lucas, Paxton Fielies
Paxton en Craig tree gereeld saam op en 'n mens kan nie die chemistry tussen hulle op die verhoog miskyk nie.

In 2018, een van Craig se moeilikste jare nóg, het hy die waarde van ware vriend-skap en familie geleer, asook al gaan dinge nou rof, dit sal weer beter gaan. “Ek verkies om by die huis te bly. Ek hou nie daarvan om na al die fancy partytjies toe te gaan nie. My song ‘Anti-social’ gaan hieroor – dis oukei om ’n bietjie weird, skaam en ’n introvert te wees. Ek is amper die teenoorgestelde van die beeld wat mense het van ’n pop of rockstar,” verduidelik hy.

Vir al die kere wat hy homself ontstel het oor wat ander van hom dink of sê, was sy gemoedstoestand heeltyd op ’n wipplank-rit. “Daar is steeds dae wanneer ek wakker word en steeds nie van sekere goed van myself hou nie, maar jy moet sit, daaroor gaan dink en vir jouself sê jy gaan oukei wees. Dis ’n interne dialoog, iets wat jy self kan en moet beheer. Dis eintlik die enigste plek waar jy in beheer is – jy het beheer oor dit wat jý in die wêreld sit, en oor dit wat jy in jouself toelaat.”

Hierdie nuwe, volwasse manier van sy innerlike worsteling hanteer, is egter baie anders as in die verlede. “Ek kon nooit praat oor hoe ek voel nie. Ek het alles opgekrop. Dis hoe ek grootgeword het. Jy kon sien mense om jou gaan deur goed, maar niemand het ooit daaroor gepraat nie. Ek het gedog dis normaal. Maar om só te lewe vreet aan jou, dit verander jou menswees. En ek is maar ’n groot softie.”

Om van sy gevoelens te ontsnap, het hy baie begin drink. In hierdie tyd het hy bedags in Kaapstad gewerk as ’n junior ekonoom en na-ure finansiële bestuur studeer en daarna aan projekte gewerk.

“Van omtrent Donderdag tot Sondag het ek aan die drink gegaan. Ek het dit gedoen omdat ek besig moes bly, sodat ek nie tyd kon hê vir introspeksie nie.”

Nadat hy The Voice gewen en sy werk opgegee het, het hy egter baie tyd gehad om te dink omdat hy meesal net oor naweke opgetree het. “Ek het by die huis gesit, met geen rede om uit die bed op te staan nie. En wanneer jy by events en partytjies is, word jy omring deur mense, maar dit voel asof jy alleen is. As jy reis vir optredes, is jy ook die meeste van die tyd eensaam. Dit het gevoel asof ek float sonder ’n doel,” erken hy.

Nadat hy die kompetisie gewen het, het hy gevoel mense verwag van hom om ’n sekere tipe mens te wees en hy het gevoel hy moet homself, wie hy werklik is, wegsteek. Dit het begin voel hy lewe ’n leuen.

“Stadig maar seker het ek begin bitter en kwaad word en al hoe meer gedrink. Ek het een aand ’n bottel whiskey uitgedrink in ’n Uber van die een partytjie tot die ander en in ’n groot fight beland met van my beste vriende. Ek kan dit skaars onthou.”

Die volgende dag het hy net inmekaargesak en – soos hy dit stel – gebreek. Hy kon net nie meer só aangaan nie. “Dit was nie ’n lekker ding om deur te maak nie, maar dit was nodig. Anders was ek nou nog op daai selfde plek,” erken hy. Craig het besluit om ’n ope brief te skryf, waarin hy erken hy ly aan depressie en is nie heteroseksueel nie en hoewel dit sy hele loopbaan kon kelder, was hy nog nie vir ’n oomblik spyt daaroor nie. Nie net het dit sy loopbaan wondere gedoen nie, maar sy verhouding met sy ma, Jenny, het veelvoudig verbeter. “Ons gesels nou oor alles en nog wat. Ek gaan kuier maklik sommer vier keer ’n week by haar!” vertel hy trots. Hoewel daar party mense na aan hom was, wat hom verwerp het en dit hom baie seergemaak het, voel hy die brief het amper sy lewe gered.

“Ek dink dit was in die eerste plek ’n noodkreet, maar dit was ook my manier om dit as ’n werklikheid te aanvaar. Só word ek geforseer om daarmee te deal.” Die positiewe terugvoer was oorweldigend. Ewe skielik kon sy familie en vriende hom beter verstaan en vreemdelinge word steeds deur sy moedigheid geïnspireer. Vir Craig self beteken dit die wêreld om te weet hy is nie alleen nie, dit is nie sy skuld nie, daar is baie ander mense wat, soos hy, met depressie worstel. “Om die blaam te verwyder, was vir my ’n groot deel van beter word,” verduidelik hy.

“Ek het gegroei en geleer om myself as mens te waardeer vir al die goeie goed binne-in my en niks wat enigiemand anders kan sê oor my, gaan werklik meer ’n invloed op my hê nie. Ek kan nie beheer wat jy dink of sê nie, so ek gaan nie dit toelaat om my te beïnvloed nie,” sê hy.

Juis daarom is een van Craig se lewensmotto’s deesdae, “ek sal nooit weer iemand toelaat om my te laat voel ek is ‘minder as’ of daar is iets verkeerd met my en dat ek nie liefde en geluk verdien nie. Nooit!”.

As jy lief is vir hom, sal jy hom aanvaar soos hy is, en as jy nie is nie, maak jy nie saak nie. Sy depressie het nie oornag verdwyn nie, maar dit is minder intens omdat hy nie meer homself wegsteek en onderdruk nie, maar hy kies om gelukkig te wees en om elke dag daarna te strewe. Hy het geleer om te praat oor dit wat binne-in aangaan, eerder as om dit op te krop. Sy musiek is nog ’n uitlaatklep vir sy emosies. En hy maak die beste daarvan, omdat hy glo die beste, mooiste musiek, kom van ’n plek van hartseer.

Tyd sal leer wat voorlê vir hierdie twee jong sterre, maar een ding is seker – niks gaan hulle terughou nie! 

Meer oor:  Kuier  |  The Voice Sa  |  Paxton Fielies  |  Idols Sa  |  Craig Lucas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.