Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Praat saam: 'n Openlike gesprek oor rassisme (deel 2)
23 Julie 2020


Ivor Price

Beantwoord eers die volgende vrae met ’n oop gemoed voor jy die tydskrif neersmyt en sê: “Daar begin hulle alweer met die apartheidnonsens.” Hierdie is nie vrae wat ligtelik opgeneem behoort te word nie, want dit beskryf die kanker van wit bevoorregting wat bruin mense, soos ek, nog elke dag in die gesig staar.

So goed, hier is die vrae: Word jy redelik gereeld in ’n winkel agtervolg of selfs geteister omdat jy verdag sou lyk? Wanneer jy opsies op ’n winkelrak oorweeg, is daar ’n goeie kans dat ’n wit mens jou sal vra of jy eintlik daar werk en die hemp op die boonste rak kan afhaal? As jy deur ’n Afrikaanse tydskrif of koerant (buiten Kuier en Son) blaai, gaan jy ’n redelike verteenwoordiging van jou eie rasgroep sien?

En as jy na kykNET op kanaal 144 kyk, kan jy dieselfde sê? Maak die vrae jou bors warm? Vasbyt, daar is nog drie wat jy in die oë moet kyk. As jy ’n graad vang, is daar ’n kans dat iemand sal sê jy het dit gekoop of die universiteit het jou deurgesit? As jy sukses in die werkplek behaal, gaan iemand sê dis net omdat jy by regstellende aksie baat gevind het? En as jy vir jou meisiekind ’n pop wil koop, kan jy gou by ’n speelgoedwinkel instap en een kry wat nie blou oë en blonde hare het nie? Kan jy by enige haarsalon instap en vir ’n feit weet dat hulle sal weet hoe om met jou “draad” te werk?

Slegs as jy op elk van dié agt vrae “ja” geantwoord het, weet jy regtig hoe dit voel om vandag nog die ongewillige slagoffer te wees van ’n oeroue stelsel wat steeds wittes bevoordeel – selfs wanneer julle van dieselfde sosiale, politieke of ekonomiese omstandighede is. Ongewillig, want dis nie ’n posisie wat ons gekies het nie. En ja, ek weet dit is al 26 jaar ná apartheid en ons moet nou vorentoe kyk, maar ons kan dit net doen as die speelveld werklik gelyk gemaak word.

Dr. Brianne Hastie, ’n Australiese navorser, sê mense vergeet wanneer ons van wit bevoorregting praat, het ons eintlik met 200 jaar se “wit regstellende aksie” te doen. Met ander woorde, dit is nie ’n ding wat oornag afgebreek kan word nie – nevermaaind in 26 jaar en selfs met die beste bedoelings. In haar studie, wat in die joernaal Discourse & Society gepubliseer is, word bevind dat swart mense nie vir ’n onregverdige voordeel bo enige ander rasgroep vra nie. Hulle soek bloot geleent-hede en regte wat presies gelyk is.

In die nadraai van George Floyd se polisiedood in Mei vanjaar in Amerika het mense oral begin selfondersoek doen oor hoe wit bevoorregting en selfs rassisme eens en vir altyd uitmekaargebreek kan word. In my akademiese omswerwinge ontdek ek toe navorsing van dr. Francis Kendall, wat haar vir die skep van inklusiewe gemeenskappe bewyer. Haar bevindings slaan my vir ’n ses, veral toe sy sê: “Wit mense se voorregte is prenataal (voor geboorte) toegeken. Ons kan dit nie nié kry nie, en ons kan dit nie weggee nie, maak nie saak hoe erg ons dit nie wil hê nie.” Met ander woorde, as jy met ’n wit vel gebore is, is dit eenvoudig die kaarte wat die lewe aan jou uitgedeel het .

Gemeenskappe regoor Kaapstad het opgetrek in protes teen swak dienslewering.

Almal dra skuld

Die skrywer en prokureur Bettina Wyngaard waarsku reeds in ’n 2016-rubriek op LitNet dat wit bevoorregting ’n polities- en emosioneel belaaide frase geword het wat mense in hul onderskeie kampies injaag.

Sy skryf: “Vir swart mense is dit ’n troefkaart, saam met rassisme, waarmee enige argument vinnig beëindig word. Vir wit mense is dit ’n beskuldiging oor iets waaraan hulle voel hulle niks kan doen nie, wat magteloosheid, frustrasie en woede veroorsaak. Dis ’n oorwerkte frase wat soms doelbewus verkeerd verstaan word.”

In haar ontleding merk sy op dat wit mense dikwels niks van dié frase wil weet nie, veral wanneer hulle nie uiterlike tekens van welvaart het nie. Jy weet – die huis, die kar, die swembad, die oorsese vakansie, die bestuurspos. En dan Bettina se uitklophou: “Wit bevoorregting beteken dat jou woord makliker aanvaar word omdat jy ’n wit vel het. Dis makliker vir mense om aan te neem dat jy natuurlik die gesag het om iets te doen of sê, sonder dat jy bevraagteken word.”

Hiermee kan ek goed identifiseer as ’n mens wie se bruin vel baie gemaklik aan sy lyf sit, maar ook as ’n media-eienaar. Vanweë my TV-werk sal wit mense my dikwels in vergaderings op die hande dra totdat daar rand en sent gepraat moet word. Dán sal hulle eerder my (wit) vennoot of selfs van my personeel in die oë kyk, al is ek die een wat die kitaar slaan.

En die Here weet, niks word afgeteken totdat ek daarmee gemaklik is nie. Jare gelede, toe ek al ’n bestuurspos by ’n koerant beklee het, het ’n pas afgestudeerde joernalistiekstudent met redelike selfvertroue aangebied om my te leer om ’n berig te skryf. (Kom ons noem hom Gerjo. Dit klink na ’n perfekte naam vir ’n krielhaantjie.)

En dan is daar al die sake-etes waar almal behalwe my vennoot swart is. Ons lag al, want selfs die swart kelners sal vanweë ingeboude wit bevoorregting reguit na my vennoot met die rekening stap. Want sien, selfs nie-wittes is jare lank geïndoktrineer deur die sielkundige vieslikhede van onverdiende rassevoordele. Malcolm Stuart, ’n rekenmeester van Johannesburg, sê juis wit bevoorregting kan net afgebreek word as bruin en swart mense hand in eie boesem steek. “Ek hoor dan in my eie familie hoe hulle nie na ’n swart huisdokter wil gaan nie, want hulle glo nog dat ’n wit praktisyn meer bekwaam is.

My 12-jarige dogtertjie dink soms dis ’n prestasie wanneer ’n wit skoolvriendin by haar huis kom oorslaap. Maar dan, in dieselfde asem, beweer sy dat sy nie kleur raaksien nie . . .” Dít is ’n ding wat volgens Malcolm veral sy vrou, Lisa, klontjies kan laat kry. “Moenie ’n fout maak nie. Ons vriendekring is baie gemeng, maar wanneer jy sê jy sien nie my kleur raak nie, dra dit eintlik by tot rassevooroordeel. Ons leer dus eerder ons kinders hoe velkleur nog in die samelewing saak maak, en dat sogenaamde kleurblindheid ’n bespotting daarvan maak.” Kom ons kyk na ander voorbeelde in die media.

Selfs Floyd se dood is, ironies genoeg, ’n sprekende voorbeeld van hoe dit steeds prakties toegepas word. Die nuusmedia praat ná sy dood met honderde gemeenskapsleiers, akademici en politici wat (met reg) die sweer oor wit bevoorregting wil oopsteek. Maar hulle vergeet van die swart mense wat dit elke dag aan hulle lywe voel, en in ’n oomblik word die ware slagoffers vergete.

Dit bevorder dan die rassistiese mite dat swart mense te emosioneel is om vir hulself te praat. Dit ontneem hulle van ’n eie stem en speel dus paradoksaal in die sistemiese rassisme waaroor die media juis probeer berig. En dan is daar elke nou en dan berigte oor ’n massaskietery in Amerika, genadiglik ’n probleem wat ons nie ook hier in Suid-Afrika ervaar nie. Navorsing van verskeie top-akademici bewys wanneer die skieters wit is, is daar ’n goeie kans dat die media ’n meer simpatieke beeld van hulle sal skep as mense met geestesgesondheidafwykings.

As jy egter swart is, sê die Ohio-universiteit-sosioloog prof. Scott Duxbury, word jy makliker uitgebeeld as ’n “gewelddadige bedreiging vir die publiek”. Dié bevinding is gegrond op ’n ontleding van die mediadekking van 219 tragedies. Massamoord is massamoord, maar as jy wit is, word jy as ’n ontstelde siel uitgebeeld, terwyl swart moordenaars eerder wrede misdadigers is.

Duxbury sê: “Algemene frases in sulke dekking (oor wit skieters) sluit in: ‘Hy het baie deurgemaak’, ‘Hy is as kind mishandel’ en selfs ‘Hy het nie regtig vriende gehad nie’. Die kans dat wit skieters as mense met geesgesondheidsprobleme uitgebeeld sal word, is 19 keer groter as dié van swart skieters.”

In Suid-Afrika is daar juis onlangs navorsing gepubliseer oor hoe wit bevoorregting in die letterkunde uitspeel. Lorraine van der Westhuizen en Jacomien van Niekerk skryf in die Tydskrif vir Literêre Kritiek, Vergelykende Taalkunde en Literatuurwetenskap dat selfs in Afrikaanse jeugromans is daar bewyse vir dié tendens. Die outeurs sê: Danksy hul velkleur geniet wit karakters sekere geleenthede, besittings, ensovoorts ten spyte van hul armoede. Die karakters se witheid verleen ook aan hulle die illusie dat hulle, in sommige van die romans, tot die swart karakters se redding moet kom.”

Die jeugromans wat die navorsers as deel van hul meestersgraadstudies bestudeer het, sluit in Iewers vlieg daar fairy dust van Marisa Haasbroek, Vaselinetjie van Anoeschka von Meck en Droomwa van Barrie Hough. Oor Droomwa is bevind “dat die gesin deur hul witheid verseker is van ’n sekere lewenstandaard wat nie vir swart karakters beskikbaar is nie”.

Lede van die First Nation-gemeenskappe neem deel aan ’n protesoptog in Johannesburg oor onder meer terme soos “Kleurling” wat in apartheidsjare gebruik is vir bruin mense.

Is dit rassisme?

Kenners is dit egter eens dat daar ’n groot verskil tussen rassisme en wit bevoorregting is. Dit is dus nie rassisties om jou wit bevoorregting te erken nie en dit is ook nog nie rassisties om ’n rassevooroordeel te hê nie. ’n Goeie voorbeeld van ’n rassevooroordeel is as jy ’n vreemdeling in jou buurt oplet en dan onbewustelik of bewustelik glo net oor hulle swart is, is hulle meer geneig om misdaad te pleeg of gevaarlik te wees. Dit werk anderkant toe ook: as jy as ’n bruin of swart mens ’n plaasboer sien en onbewustelik of bewustelik glo dat net omdat hulle wit is, behandel hy sy werkers sleg. “’n Wit mens kan (byvoorbeeld) angstig raak as hy sien dat ’n swart mens kwaad is. Dit spruit uit ’n vooroordeel.

Hierdie soort tekens was die norm tydens apartheid in Suid-Afrika.

Hierdie vooroordele kan rassisme word deur ’n aantal aksies wat wissel in grade van erns,” sê Cory Collins, ’n navorser by Teaching Tolerance. “En hoewel nie alle wit mense regstreeks (geskiedkundig) aan die mishandeling (van swart mense) deelgeneem het nie, het hul aangeleerde vooroordele en hul veiligheid teen sulke behandeling daartoe gelei dat baie van hulle ’n kragtige keuse uitoefen: stilte.

En só het die trauma, verplasing, wrede behandeling en diskriminasie van swart mense onvermydelik wit bevoorregting tot gevolg gehad.” Verlede jaar, ná sy gesin se omswerwinge tydens die Desember-vakansie, sê dr. Oscar van Heerden, ’n politieke kommentator en skrywer, dat hy van twee dinge oortuig is: wit mense deel nou die narratief dat hulle deesdae aan die ontvangkant van rassisme in Suid-Afrika is en dat hulle ook meer arrogant word. Hy sê: “Strukturele en institusionele rassisme leef in alle aspekte van ons samelewing.

Totdat wit Suid-Afrikaners dié werklikheid aanvaar, in plaas daarvan om voortdurend vir ons te sê: ‘Waarom moet julle altyd apartheid opbring?’, kan ons nie aanbeweeg van die apartheidsargument nie.” Hy glo wit bevoorregting steek op plekke uit waar jy dit nooit sal verwag nie: in als van eiendomsregte tot selfs arbeidswetgewing wat plaaswerkers moet beskerm.

In “Die nasionale vraagstuk vir die bruin gemeenskap”, wat as deel van die ANC se politieke skool gepubliseer is, skryf Van Heerden: “Soos Joe Slovo eens opgemerk het, kan die basiese doelstellings van bevryding nie bereik word sonder om die opgehoopte politieke, sosiale, kulturele en ekonomiese wit voorregte te ondermyn nie. Die vorming van ons nasie sal in direkte verhouding tot die opheffing van hierdie opgehoopte voorregte bevorder moet word. As bruin mense sien hoe regstelling op ekonomiese gebied plaasvind, voel hulle uitgesluit.”

Hoe lyk dit vorentoe?

Die joernalis en skrywer Rian Malan sê op Good Governance Africa die grootste stryd van sy lewe was om sy eie witheid te aanvaar en, indien moontlik, die gevolge daarvan te ontsnap. “Die behoefte is natuurlik veral akkuut vir ’n wit Suid-Afrikaner wat deur voorouersondes van apartheid en kolonialisme belas is, maar dit lyk my my eweknieë in die Weste is nie immuun nie. Kyk byvoorbeeld na al die ernstige wit jongmense wat nou op Amerikaanse kampusse hulself wil skoonmaak en aansluit by ‘veilige ruimtes’ waarin swartes hul pyn kan uitspreek terwyl wittes in die hoek sit en verskoning vra.”

Dit laat die vraag ontstaan: hoe nou gemaak? Hoe lyk die pad vorentoe, want só kan ons nie nog 200 jaar aankarring nie? Onthou, die punt is tog dat selfs diegene wat wit bevoorregting takel ’n gelyke samelewing nastreef. Hieroor sê Riaan, “Daar gaan skaars ’n dag verby sonder dat Suid-Afrikaners meegedeel word dat hul samelewing een van die ongelykstes op die planeet is danksy die onheilspellende bewerkings van ‘wit monopoliekapitaal’. Dus is dit waar dat wit huishoudings ses keer meer verdien as swart huishoudings. Maar dit is ook waar dat die gemiddelde wit mens 38 jaar oud is en daarom waar-skynlik dekades lank gewerk en verdien het, terwyl die gemiddelde swart persoon 21 is en waarskynlik werkloos is.”

Maar, sê hy, laat ons nie onnodig redeneer nie: die ekonomie is steeds in wit hande en raai wat? “Wit mense voel sleg daaroor en het probeer om dit reg te stel. In die formele sektor, die enigste waar wit kapitaal besig is om te swaai, is die inkomstegaping tussen (meestal wit) base en (meestal swart) werknemers verbasend klein. Dit is slegs wanneer jy na die landelike gebiede kyk dat Suid-Afrika soos ’n slaweplantasie begin lyk. Is dit moontlik vir kapitalisme om genoeg werk te skep om swart pyn te vergemaklik? Teoreties ja, maar beleggers is versigtig vir die wyse waarop die Suid-Afrikaanse staat se swartbemagtigingsmaneuvers private ondernemings verwurg.”

Dit is alles goed en wel, maar wat dan nou van Van Heerden se argument dat daar nog te veel wit mense is wat nie hul bevoorregting wil erken nie? Mikhail Petersen, wat aan die Instituut vir Justisie en Versoening verbonde was, vra ook: “Hoe kan ons as Suid-Afrikaners vorentoe beweeg wanneer die meerderheid wit Suid-Afrikaners weier om die nalatenskap van apartheid en kolonialisme te aanvaar en te erken, en hoe dit die huidige realiteite in die land beïnvloed?” Gaan kyk na die werk van Amerikaanse navorser dr. Robin DiAngelo.

Sy maak ’n paar interessante voorstelle oor hoe wit mense kan help om gesonde dialoog oor die nalatenskappe van apartheid te bevorder. Dit sluit in die aanvaarding van wit mense dat hulle nie bevoeg is om te bepaal of swart mense se persoonlike ervarings wettig is nie; dat hul nabyheid aan swart mense hulle nie vry maak van rassisme nie; en dat swart mense rasioneel is deur weens ons verlede nog wit mense te wantrou. Wit bevoorregting moet gebruik word om wit bevoorregting te beëindig, glo Steve Miller, die uitvoerende hoof van Save the Children South Africa.

“Eenvoudig gestel, jy moet ’n goeie taak vir jou organisasie doen en talentvolle mense geleenthede gee om te slaag deur ruimte en verantwoordelikhede te deel. Stel dan ’n opvolgplan en gee iemand anders ’n kans. Om jou werksekuriteit te verloor, kan skrikwekkend wees, maar dit is ook uiters bemagtigend. Uiteindelik, behandel almal dieselfde en moenie van mense verwag om aan te pas by jou manier van dink of optree nie. Dit is wat ek by my ouers geleer het.”


Meer oor:  Kuier  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.