Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Propvol skole: Kinders trek aan die kortste end
12 Junie 2019


Dis al die middel van die jaar en teen dié tyd het die meeste skoolkinders ook al hul Junie-eksamen geskryf. Maar in die Wes-Kaap skarrel die ouers van amper 500 leerders glo nog rond om hulle in skole te kry.

Maar dis net die een kant van die storie, want daar is ook ouers wat woedend is vir die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) omdat hul kinders in oorvol klasse sit – tot 69 leerders per klaskamer.

Onderwys in die Wes-Kaapse skole gaan gebuk onder die invloei van leerders uit ander provinsies. Hierdie jaar alleen het die aantal leerders gestyg van 16 285 tot 18 285. Bonita Visagie van Bellville buite Kaapstad sit al die hele jaar met haar hande in die hare omdat nie haar dogter (12) óf haar seun (7) nog nie plek in ’n skool het nie.

“Ek word op en af gestuur na elke skool, maar tevergeefs. Ek is so ongelukkig en gespanne,” sug sy moedeloos. Sy het al tientalle e-posse gestuur en hoewel Lance Abrahams van die WKOD se hoofkantoor probeer help het, sit haar kinders nog by die huis. Bonita is tans werkloos omdat sy dag in en dag uit na haar kinders moet kyk.

Volgens die skole is daar eenvoudig net nie plek nie. “Ek moes Bellville toe trek van Kraaifontein af al het ons oorkant die skool gebly. Nou gee hulle my hier dieselfde storie.” Al is sy raadop, probeer Bonita haar kinders besig hou met opvoedkundige aktiwiteite terwyl sy op hete kole wag vir die oproep dat haar kinders hul sakke kan pak en skoolklere kan aantrek.

Maar is dit net in die Wes-Kaap waar die plekdilemma in skole so ’n kopseer is? Greg Titus van die Nasionale Profes-sionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa) verduidelik oorvol klasse is ’n landwye probleem en daar is skole in die Vrystaat wat meer as 60 leerders in ’n klas moet probeer inprop. Volgens hom het die onderwyser-leerlingratio onlangs opgegaan tot gemiddeld een onderwyser vir 45 leerders.

“Onderwysers sukkel om die leerlinge te bereik wat nie kan cope nie. Daar is eenvoudig net nie ruimte vir individuele aandag nie. Verder is dit moeilik om tussen die lessenaars te beweeg, want daar is net nie spasie vir onderwysers nie,” sê hy raadop. Hy voeg by party onderwysers stap die ekstra myl om te improvise terwyl ander dit baie uitdagend vind. “Daar is selfs ’n paar onderwysers wat professionele hulp moet ontvang. Baie onderwysers van wie ek weet, bedank of tree vroeg af want hulle kan net nie meer nie . . .”

Groot onreg

Kuier-lesers wat ons oor die onderwerp gepols het, het ook sterk oor die saak gevoel. Johanna Scholtz van Mosselbaai meen die Wes-Kaap steier onder die toenemende druk wat die uittog uit die Oos-Kaap veroorsaak op alle vlakke: onderwys, gesondheid, behuising. “Die probleem behoort na my mening op nasionale vlak aangespreek te word. Dis polities van aard. En die regering van die Wes-Kaap skep die indruk dat ons ’n taxi is – altyd plek vir nog een!”

Die hele saak ontstel Eldehlia Louw van Porterville. “Shame, dit breek my hart om te dink daar is kinders wat nie wil skool toe gaan nie. Haal hulle uit wat soos gangstertjies operate en sit die wat wíl skoolgaan en wil leer in die skool.” Op haar beurt wens Desire Banks van die Port Elizabeth die regering wil meer skole bou en minder tronke.

“Gevangenes lewe in weelde terwyl kinders nie skole het nie. Prop die tronke voller. Geleerdheid is ’n kind se reg. Die misdadigers in tronke het meer regte en kan daar studeer terwyl kinders geleerdheid ontneem word.” Sy voel voller klasse is nie ’n oplossing nie, want dan gaan gehalteonderrig bloot net kwantiteit-onderrig word.

Deborah Reynolds van Kaapstad meen skole moet gebou en nie afgebreek word om die staat se koffers vol te hou nie. “Die onderwyser is die een wat daaronder ly. Hulle is nie pakdonkies nie! “Die regering moet nog klasse by skole voeg en nog onderwysers aanstel. Klasse is reeds te oorvol soos dit is.

Regerings- amptenare kan so maklik vir onderwysers sê om aan die kinders te dink asof dit jou eie is, maar nou wil ek vir hulle terugsê: ‘dink asof dit jou kinders is wat in ’n klas met 40 tot 70 kinders sit’. Geld kan so maklik begroot word vir ander, nie-noodsaaklike dinge soos inhuldigingsfunksies. Dít terwyl ons kinders daaronder moet ly,” meen Rowena Klaase van Kaapstad.

Bronagh Hammond, woordvoerder en direkteur van kommunikasie vir die WKOD, sê hulle vermoed baie minder leerders in die provinsie sit sonder ’n skool as die 450 waarna in die media verwys is. “Die getal is beduidend minder omdat sommige skole nog nie hul toelatingstatistieke hersien het nie. Dit is ook ’n bewegende teiken omdat ons konstant leerders plaas, terwyl daar ook heeltyd nuwe leerders inkom soos wat ouers trek of leerders skuif van provinsie na provinsie.”

Daar is selfs ’n paar onderwysers wat professionele hulp moet ontvang. Baie onderwysers van wie ek weet, bedank of tree vroeg af want hulle kan net nie meer nie .
Greg Titus

Doen wat hulle kan

Volgens haar is die meeste van die leerders wat nie plek gekry het nie, kinders wat onlangs Wes-Kaap toe getrek het en nie noodwendig leerders wat al van die begin van die jaar af vir ’n plek in die skool wag nie.

Bronagh sê verder die departement vermoed ook baie van hierdie leerders het reeds weer verhuis na ’n ander provinsie aangesien hulle nie met die ouers kontak kan maak nie. “In baie gevalle kan ons nie die ouers se versoeke vir ’n spesifieke skool in hul area akkommodeer nie omdat daardie skole reeds vol is.

Verder, as ’n sekere area baie leerders het, kry ons in samewerking met die skool ’n mobiele klaskamer om die druk te verlig. Die departement is tans besig om dosyne van hierdie mobiele klaskamers op en in te rig sodat die leerders wat nie plek in skole het nie, geholpe kan raak.”

Volgens Bronagh het die departement dit die laaste paar jaar benadruk dat hulle nie oor die begroting beskik om die toenemende aanvraag en leerders te akkommodeer nie, veral dié van ander provinsies (meer as 20 000 arriveer jaarliks uit die Oos-Kaap alleen).

Daarmee saam moet hulle ook nog skole vervang wat uit ongeskikte materiale gebou is, so die beursie is baie naby aan leeg. “Die WKOD spandeer meer as R500 miljoen jaarliks aan onderhoud en R600 miljoen aan nuwe skole,” verduidelik sy. Hulle prioritiseer skole vir vervanging in terme van die behoeftes van die huidige struktuur, maar kan nie alles op een slag doen nie.

Tans spandeer hulle jaarliks ongeveer R400 miljoen hierop. “Ons is baie bewus van die akkommodasie-behoeftes, maar ons het eenvoudig net nie die fondse of die mannekrag om dit so vinnig as wat mense in sekere areas dit wil hê, te doen nie,” sê Bronagh. Die departement beplan lank vooruit, maar nuwe areas ontwikkel soos wat leerders en ouers van ander provinsies af kom, maar ook binne die provinsie self rondbeweeg.

Die WKOD moedig skole aan om leerders se kennis te toets wanneer hulle by ’n skool begin en die nodige catch-up-programme en aandag daar te stel om te help. Dit geld vir laatkommers sowel as nuwelinge. Bronagh se advies aan ouers is om nie ’n kind te de-registreer by ’n skool tot en met jy bevestig het daar is beslis plek vir jou kind in ’n ander skool nie. “Natuurlik is daar omstandighede waar ouers moet trek vir werksgeleenthede.

In hierdie geval vra ons dat hulle so gou as moontlik die departement laat weet hulle gaan trek en dit nie los tot op die nippertjie nie.” ’n Mens kan verstaan die departement van onderwys doen wat hulle kan om leerders te akkommodeer, maar dit help nie juis die honderde kinders wat daagliks skoolklere aantrek, maar nêrens het om heen te gaan nie.

Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.