Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Red die onnies!
6 Maart 2019
Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Die onlangse voorval waar ’n onderwyser ’n leerder geklap het, het soos ’n veldbrand versprei. Elkeen het sy eie mening gehad oor wie se skuld dit nou eintlik is. Maar dat die departement van onderwys weereens die klem verskuif na opvoeders deur te suggereer dat ons onsself beter moet toerus om ongedissiplineerde leerders in die klas te beheer, is so verregaande!

Dit is vir my ’n figuurlike klap in ons stresbelaaide onderwysstelsel se gesig waar ongelykheid steeds koning kraai. Die aantal leerders wat opvoeders verbaal mishandel en fisies aanval, is ver meer as die enkele opvoeder wat soms breekpunt bereik soos in die bogenoemde situasie.

Daar is baie kwessies wat ons nog moet uitsorteer. Die gaping tussen die sogenaamde model C-skole wat bekendstaan as “hoërskole” en die sogenaamde agtergeblewe skole wat as “sekondêr” gebrandmerk is, is steeds groot, selfs ná 25 jaar van demokrasie. Die meeste hoërskole se argitektuur is goed beplan en die gebied waar dit opgerig is, dra by tot die leeratmosfeer vir ’n entoesiastiese opvoeder en leerder. Die sportfasiliteite en kultuuraspekte soos ’n ouditorium vir teaterproduksies is in plek.

Skoolfooie van die meeste bevoordeelde skole is so buitensporig hoog vir sommige ouers dat die meeste hul kinders na skole stuur waar skool­fooie min is.

Skole met min of geen skoolfooie nie is óf in ’n onaangename buurt met oorvol klaskamers óf het geen of min kultuurbedrywighede wat plaasvind nie. En opvoeders moet maar inval en die onderwysdepartement verroer nie ’n vinger om die haglike omstandighede te verbeter nie. Maar hulle is gou om koppe te laat rol.

Behalwe sosiale euwels in ons gemeenskappe moet kinders dus ook nog na skole gaan waar die speelvelde nie gelyk is nie. Hulle moet altyd ekstra harder werk as hul eweknieë om dieselfde te bereik.

Opvoeders moet self ook klagtes indien by die polisiestasie.
Ernest Loth

Opvoeders in hierdie skole is self ook ouers en is dikwels onder druk by die huis en moet ook nog die druk van ongeskikte leerders by hul werk trotseer. Buitestanders kan maklik praat en die betrokke opvoeder beskuldig van aanranding, maar is hulle teenwoordig om die situasies in klaskamers te ervaar en sommige leerders se eindelose antagonisme te beleef?

Van die eenvoudigste opdragte tot berisping word deesdae as verbale mishandeling gesien. Lyfstraf is verban op skole – met logiese verklarings daarvoor. Al wat opvoeders nog het om orde in ’n klaskamer te handhaaf, is hul woorde. Maar deesdae word selfs hul woorde van hulle ontneem, want ouers luister graag na opgedisde stories van hul “onskuldige bloedjies” met net een perspektief en aanvaar dit as die volle waarheid.

Menslikheid, respek en dissipline is nie meer fokusareas nie, want alles geskied op ’n vinnige pas en opvoeders kan nie byhou nie. Opvoeders is ook net mense met emosies en wat net dinge kan vat tot op ’n sekere punt – veral met uittartende leerders. Hulle kan ook breekpunt bereik. Opvoeders moet dus maar in die toekoms leer om hul woede te beheer, want die onderwysstelsel stap nie ’n pad saam met diegene “wat kop verloor” nie, want die kind word altyd gesien as die slagoffer.

Opvoeders moet self ook klagtes indien by die polisiestasie indien leerders hulle verbaal of fisies mishandel en dit selfs in ’n hof uitwoed as dit moet. Leerders moenie onder die vaandel van kinderregte en kindermishandeling wegkom met wangedrag in klaskamers en dink hulle kan wegkom met moord nie!

Dan is daar ook die gebruik van selfone in ’n klas. Dit het sy voordele, maar ook sy nadele Z hang af hoe skole hul beleid rondom die gebruik van selfone toepas. Ons leef in ’n tegnologiese era en moet vinnig leer om aan te pas. Kinders moet op skool en in die samelewing opgevoed word hoe om selfone meer doeltreffend te gebruik. Ons onderwysstelsel sal ook hier hul deel moet doen; dalk deur jong mense aan te stel om een keer per maand klasse oor doeltreffende selfoongebruik aan te bied. Almal moet leer dat selfone vir ons moet werk in plaas van teen ons.

Meer oor:  Onderwysers  |  Kuier  |  Opvoeders  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.