Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Redder: Hy keer daagliks dat mense verdrink
13 November 2019


Baie van ons het grootgeword met die smeulende lywe van Baywatch se lewensredders wat in stadige aksie op die strand hardloop in hul rooi baaibroeke.

Tog is dit nie altyd net son en suntan lotion nie. Het jy al ooit gewonder hoe dit is om werklik die verantwoordelikheid van ander se lewens in jou hande te hê?

Vir Ashley Bess (38) van Ravensmead buite Kaapstad, is lewensredding ’n passie. Hoewel hy kleintyd ’n rekenmeester wou word, kan hy homself nie nou in enige ander beroep sien nie. “Toe ek grootgeword het, het ons maar min see toe gegaan. Ons het eintlik meer by publieke swembaddens uitgehang,” onthou hy met ’n glimlag. Gelukkig vir hom was die Ravensmead-swembad die Kogelbaai-surf-lewensreddingklub se opleidingsbasis.

Hier het hy vriende gemaak met van die lewensredders en kon hy amper nie help om geïnteresseerd te raak in dié beroep nie. Aan die begin van sy graad 11-jaar in 1998, het Ashley sy uitmergelende opleiding en talle fisiese uitdagings en teoretiese eksamen om een van die manne in rooi te wees, suksesvol voltooi.

Dit neem gemiddeld ses maande om die opleiding te voltooi en die kwalifikasie te verwerf. Sedertdien het hy ’n intense liefde vir die see ontwikkel en dit is met ’n glimlag wat hy elke dag sy Speedo aantrek en strand toe gaan. “Vandat ek ’n lewensredder geword het, het ek verlief geraak op die see,” verklap hy.

Sy passie

Ashley Bess is ’n senior lewensredder vir die Stad Kaapstad.

Ashley is deesdae ’n senior strandlewensredder vir Stad Kaapstad in die Kogelbaai- en Strand-area. Hy is verantwoordelik vir sewe strande se lewensredders. “Dis ook nogal ’n besige, rowwe area, veral in die somer,” vertel hy. Tog is dit steeds sy passie, die beste deel van sy werk, om mense wat in die moeilikheid in die water is, te help. Juis daarom moet hy altyd fiks bly.

Verder geniet hy dit ook om nuwe en interessante mense op die strand te ontmoet. Dit is vir hom persoonlik baie lonend om sy lewensreddingskennis te deel, om mense van die strand en see te leer en hoe om veilig te bly. Iets wat vir Ashley baie ontstel, is hoe moeilik en arrogant mense op die strand kan wees as hulle nie wil luister wanneer hy probeer help nie.

“Dronk mense is eintlik die ergste. Hulle is baie keer arrogant en moeilik,” vertel hy. Dít maak dit moeilik om mense veilig te hou. Daar is ’n hele paar reddingspogings in sy loopbaan wat Ashley nooit sal vergeet nie, maar daar is een wat bo die res vir hom uitstaan en steeds by hom spook. “Dit was in 2016 by grotte naby Dappat se Gat tussen Gordonsbaai en Kogelbaai. Ons het van die hoofstrand af gesien daar is omtrent ses mense en hulle is in die moeilikheid.”

Ashley verduidelik daar is ’n paar maniere om mense in die moeilikheid te identifiseer. Een is as hulle swem en swem, maar nie beweeg nie – dis gewoonlik ’n teken dat hulle in ’n trekstroom (rip current) vasgevang is. “Toe ons daar aankom, kon ons net vyf sien. Ons was vier lewensredders. Die strome was daai dag soos ’n wasmasjien. Dit druk jou van die een kant na die ander. Die swemmers was besig om te verdrink en paniekerig, so hulle baklei soms teen jou. Ná ’n groot gespook teen die strome en gety, het ons vyf gered. Toe ons almal veilig uit die see het, het ons uitgevind een van die swemmers – die sesde een – was weg. Dit was regtig ’n heavy een,” erken Ashley met ’n stem wat ná al die tyd steeds effens bewe wanneer hy hierdie herinnering oproep. Tot vandag toe het hulle nog nie die sesde swemmer opgespoor nie.

“Ná ’n verdrinking is dit altyd ’n baie emosionele tyd, nie net vir die lewensredder nie, maar die lewensreddingsgemeenskap as ’n geheel. Ek probeer altyd my span aanmoedig om nie op te gee ná ’n tragedie nie. Dit is belangrik dat ’n mens fokus op die honderde lewens wat jy elke dag red, net deur op te daag by die werk,” verduidelik hy.

Selfs hy wat Ashley is, het oorweeg om die beroep te verlaat nadat hy sy eerste verdrinking beleef het. Alle lewensredders kan trauma-berading ontvang ná só ’n geval. Dit maak dinge moeilik, veral as die strand vol en die see rof is. “As die golwe groot is of daar is trekstrome en baie mense op die strand, raak ’n mens maar bietjie angstig en op jou hoede. Nog ’n ding wat vir Ashley effens op sy senuwees maak, is haaie. “Ons sien so nou en dan haaie. Partykeer sien ons hoe spring hulle hoog uit die water . . . Ons was eendag besig om in die water in te stap toe ’n haai naby ons uitgespring het. Ons het maar net weer daar omgedraai en gaan sit,” lag hy.

Met werksure van 9:30 tot 18:00, is dit ’n lang dag, veral as jy verantwoordelik is vir talle mense se lewens. In die winter moet lewensredders skofte doen by binnenshuise swembaddens. Dit is ook die tyd wat die senior lewensredders en personeel voorberei vir die komende somerseisoen. Dit behels baie vergaderings en administrasiewerk. Vir Ashley is waterveiligheid so ’n passie dat hy ook in die af-seisoen skole besoek om kinders te leer van water, waar en wanneer om te swem en wat om te doen as hulle in die moeilikheid kom soos om in ’n trekstroom te beland. Een manier is om toe te laat dat die stroom jou tot agter in die see in trek.

“Die stroom word gewoonlik swakker, hoe dieper jy gaan. Dan kan jy na ’n sandbank en na veiligheid swem,” verduidelik hy. Die tweede manier is om teen ’n 45° hoek van die stroom te swem en derdens kan jy ’n 90° hoek probeer. Jy gebruik dan die golwe en wit skuimwater om jou verder uit te help. Volgens Ashley dink baie strandgangers lewensredders is 100% verantwoordelik vir hul veiligheid tydens ’n dag in die son. “Maar dis ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen die publiek en ons. Die meeste insidente kan voorkom word as die publiek net die basiese tips vir veiligheid in ag neem.”

Ashley leer verder sy span “prevention is better than cure”. Dit is belangrik dat hulle moeilikheid sien kom en dit voorkom, eerder as om te moet reageer op probleme. “Ons moet heeltyd die strand dophou en mense help om terug te kom in die aangewese swem-area, uitkyk vir mense wat dalk te veel gedrink het en ouers aanmoedig om mooi na hul kinders te kyk.” Dit vat ’n spesiale mens, met baie deursettingsvermoë en dapperheid om dag ná dag sy lewe op die spel te plaas vir wildvreemdelinge, veral dié wat soms willens en wetens hul eie lewe in gevaar stel vir ’n bietjie pret.

Strandveiligheid

• Wees bewus van jou omgewing – kyk waar is die lewensredders en aangewese swem-areas en kyk of jy sterk strome kan identifiseer.

• Moenie drink en swem nie. Alkohol en water meng nie. Dis net so gevaarlik soos drink en bestuur.

• Pas jou kinders goed op. Registreer hulle by die veiligheidsareas en maak seker jy weet altyd waar hulle is.

• Luister na die lewensredders. Hulle is nie daar om jou te irriteer nie, maar om jou lewe te red.

* Besoek gerus www.lifesaving.co.za vir meer inligting, stuur ’n e-pos na headoffice@lifesaving.co.za of skakel die lewensreddinghoofkantoor by 031 312 9251.

WORD SÓ ’N LEWENSREDDER

1. Sluit aan by ’n lewensreddingsklub. Vat ’n kopie van jou ID saam en as jy jonger as 21 is, moet een van jou ouers toestemming gee.

2. Raak gekwalifiseerd. Tussen 8 en 14 sal jy ’n “nipper” wees. Jy moet ’n toelatingseksamen skryf om opleiding te begin. As jy 14 of ouer is, sluit jy aan as ’n lewensredder. Jy moet jou Lifeguard Award of kwalifiseringsertifikaat verwerf voordat jy op die strand mag werk.

3. As jy 30 of ouer is, kan jy deel word as ’n master.

4. As jy gekwalifiseerd is, kan jy ’n vry- williger word of aansoek doen om ’n permanente pos. As jy oor 16 is, kan jy opleiding begin om ’n bootwerker te word of by die First Aid-span aansluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.