Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Reg of weg met rook?
5 September 2018
rook, sigaret


Rokers voel deesdae soos uitgeworpenes, letterlik ’n dying breed, wat soos misdadigers amper skelm ’n skuif moet trek. En as die minister van gesondheid sy sin kry, is rokers se dae dalk binnekort getel.

Maar rook was nie altyd so verbode of ongewild nie. Trouens, as jy na sigaretadvertensies van die sewentigs en tagtigs kyk, was dit juis die koelste mense met die glansrykste lewens wat gerook het.

Die boodskap was duidelik: as jy ’n opwindende lewe wil lei, vol weelde en avontuur, is daar net een pad – steek ’n sigaret aan.

Só wou die sigaretmaatskappye jou wysmaak – jy kan daar in jou huis met jou entjie in die hand deel word van die wêreld se elite.

Met slagspreuke soos “ná aksie, satisfaksie” en “die sportman se sigaret” is dit nie verbasend dat ’n groot gros mense hierdie gewoonte aangegryp het nie. En tot in die sestigs het tot medici in sigaret-advertensies verskyn om mense gerus te stel. Toe die wêreld uiteindelik agterkom hoe skadelik (en selfs dodelik) sigaretrook kan wees, was dit vir baie al te laat, want hulle was hopeloos verslaaf.

En sedertdien het die gewildheid van rook oral afgeneem en word dit wêreldwyd as een van die slegste gewoontes vir jou gesondheid beskou.

Met net oor die 10% van sterftes in Suid-Afrika wat veroorsaak word deur rookverwante siektes, is gesondheidsminister Aaron Motsoaledi op die oorlogspad oor rook.

Volgens hom rook meer as 55 000 Suid-Afrikaanse kinders tussen 10 en 14, met meer as 6 miljoen volwassenes wat gereeld ’n sigaret aansteek. Wat geslag en ras van rokers in Suid-Afrika betref, rook mans die meeste, maar onder die Evasgeslag is bruin vroue loshande voor.

Dr. Pali Lehohla, statistieke-generaal van Suid-Afrika, verduidelik die rook-situasie só: “Op 65 geniet ou ‘Mevrou Dlamini’ steeds elke nou en dan ’n entjie. Maar, haar rookgewoontes is nie ’n match op dié van ou ‘Mevrou van Zyl’ en haar vriendinne wat vyf keer soveel (15%) rook as swart en Indiese vroue (3%) nie. Maar bruin vroue is die uitskieters met ongeveer 38% van hulle wat gereeld na ’n sigaret gryp. Dit is in teenstelling met mans, wat nie regtig enige rasseverskille in rookgewoontes toon nie,” sê hy.

Die rookwette wat sedert Januarie vanjaar in Suid-Afrika van krag is, verbied rook in ’n kar (ja, selfs jou eie tjor). Só mag jy nie rook as daar ’n kind onder 12 saamry nie. Net 25% van ’n openbare plek mag ’n aangewese rookarea wees. Restauranteienaars en werkgewers kan tot R50 000 beboet word indien hulle die rookwette oortree en jy as roker kan self R500 moet opdok indien jy in ’n nie-rookarea ’n entjie opsteek.

Baie mense se oë het al oor die jare vir die gevare van sigaretrook oopgegaan.

STRENGER WETTE

Niemand onder 18 mag tabakprodukte koop of verkoop nie. Lekkergoed en speelgoed wat lyk soos tabakprodukte is verbied. Rook is ook onwettig in gedeeltelik-bedekte areas soos ’n patio, stoep of parkeerarea. Jy mag ook nie by enige plek met kindersorg-aktiwiteite, soos ’n skool of crèche, rook nie. Die tabakbedryf mag ook al lankal nie meer hul produkte adverteer nie en mag nie met partytjies of bemarking die jeug teiken nie.

Motsoaledi en die departement van gesondheid poog nou om met strenger rookwette veral ons kinders nog meer te beskerm deur dit vir hulle moeilik te maak om sigarette in die hande te kry. Met sy nuwe wet wil die minister poog om rookgewoontes in die kiem te smoor.

Ingevolge die voorgestelde Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Leweringstelsels (e-sigarette) – ook bekend as die tobacco bill – gaan baie strenger maatreëls geld as met die vorige rookwette.

In ’n neutedop word die volgende voorgestel:

  • Geen rook meer in binnenshuise open-bare plekke nie. Dit sluit restaurante in. (Dit beteken selfs die 25% gaan mee weggedoen word.)
  • Wanneer jy buite rook, moet dit ten minste 10 meter weg van openbare ingange wees.
  • Sigaretpakkies mag voorts net die naam en waarskuwing op ’n wit agtergrond hê. Daar is ook sprake daarvan om, soos in ander lande, grafiese beelde te hê van byvoorbeeld siek longe of vrot tande om mense af te skrik.
  • Sigarette mag nie meer in die openbaar deur winkels vertoon word nie.
  • E-sigarette en okkapype word by die wetgewing ingesluit en sigarette-outo­matiese verkoopmasjiene (vending ma­chines) sal ook iets van die verlede raak.
  • Nuwe voorgestelde strafmaatreëls sluit onder meer in swaarder boetes en selfs tronkstraf.

Motsoaledi voer aan die strenger rookwette is nodig, want Suid-Afrika het van die meeste rokers op die vasteland en daar word voorspel dié syfer gaan net toeneem oor die volgende 15 jaar.

Suid-Afrikaners is egter baie verdeeld oor die kwessie.

“Dis omtrent hoogtyd. Ek kan nie vir jou sê hoe ek rook haat nie. Dis walglik,” meen Ben du Pisani* (50) van Bloemfontein. Hy het homself sommer aangestel as die rook-polisie en sê die regering kan enige tyd aan sy deur kom klop vir hulp en raad. “Nee kyk, as iemand een van daai walglike kankerstokkies naby my opsteek, maak ek my stem dik. Veral as dit in ’n openbare plek is, of naby kinders. Ek sal skreeu en baklei totdat hulle sommer alle tabakprodukte heeltemal onwettig maak en mense wat dit gebruik of verkoop, toegesluit word. Jy is net een van twee dinge as jy rook – simpel of onnosel!”

James Abrahams (42) van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, voel egter heeltemal anders oor die saak en dink dit is ’n skelmstreek van die regering om meer beheer op Suid-Afrikaners uit te oefen.

“Nou wil hulle ons tronk toe stuur omdat ons rook? Nooit gesien nie! Hulle probeer ons net bangmaak sodat ons alles doen wat hulle sê. Wat het dit met die regering te doen wat ons mense met hul longe en geld aanvang?” wonder hy.

Nog iemand wat ongelukkig is oor die voorgestelde wetgewing, is Francine Seryne (58) van Centurion, maar sy glo nie dit sal enige verskil aan haar maak nie.

“Hulle kan doen wat hulle wil, maar rook sal ek rook. Dis my lekkerte in die lewe. Dit maak nie saak of hulle die pakkies vol lelike prentjies maak of vir my sê waar en wanneer ek ’n entjie mag opsteek nie, rook sal ek rook. Hoe gaan hulle dit in anyway police?” lag sy.

Sigarette is ook groot geld en die nuwe rookwette hou ook finansiële implikasies in.

DIT RAAK JOU SAK

Volgens Tobacco Atlas, ’n organisasie wat alle issues rondom rook navors, was die gekombineerde inkomste van die wêreld se ses grootste tabakmaatskappye in 2016 meer as $346 biljoen – dit is 20% meer as Suid-Afrika se hele bruto nasionale inkomste!

Maar soos die sigaretmaatskappye se beursies voller raak, so raak die roker s’n leër. Indien jy 10 sigarette per dag rook, sal dit jou omtrent R6 388 per jaar uit die sak jaag. Indien jy begin rook het op 16 en sterf op 60, is dit R101 348 oor ’n leeftyd (sonder inflasie). En as dit nie skokkend genoeg is nie, is meer as 40% daarvan sondebelasting, met ander woorde as jy R35 per pakkie betaal, gaan R14 reguit regering toe.

Dié stygende belasting is ook ’n reaksie op ’n toename in nie-oordraagbare siektes soos kanker, hartsiektes en beroertes.

Volgens Tobacco Atlas is die ekonomiese las van rook in Suid-Afrika R59 128 miljoen. Dit sluit direkte gesondheidsorg kostes en indirekte kostes as gevolg van verlore produktiwiteit in (weens vroeë sterftes).

In die tweede helfte van die 20ste eeu, is daar 60 miljoen mense dood aan rook-verwante siektes. Daar word voorspel dat dit teen 2025 10 miljoen mense per jaar se dood sal veroorsaak.

Een groep mense wat hard geslaan sal word deur dié nuwe wetgewing, is informele handelaars soos straatverkopers en spaza-eienaars. Nie net sal hulle nie meer los sigarette kan verkoop nie (jy kan tot vyf jaar tronkstraf kry daarvoor) – iets wat ’n groot deel uitmaak van hul inkomste, maar hulle sal ook nie mag tabakprodukte uitstal nie.

Die South African Spaza and Tuckshop Association (SASTA) meen dit sal ’n katastrofiese impak hê op klein besighede. Daar is ook die vrees dat handelsnaamvrye verpakking onwettige sigaretverkope en vervalsing sal laat toeneem.

Om te rook kan jou lewe met 25 jaar kortknip – en dit kan ’n langsame, pynlike dood wees. Indien niks anders nie, behoort dié statistiek jou darem twee keer te laat dink voordat jy jou volgende entjie opsteek.

Die nuwe wetsontwerp is in Mei vanjaar in die Staatskoerant aangeteken, waarna die publiek drie maande (tot
9 Augustus) kans gehad het om hul sê te sê. Nou wag Suid-Afrika op hete kole om uit te vind of dit deur die staat bekragtig gaan word.

*Skuilnaam

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou mening.

Meer oor:  Kuier  |  Nuus  |  Rook  |  Gesondheid  |  Rookgewoontes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.