Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Reis van passie
19 September 2018

Ná 20 jaar vat hy haar steeds elke dag werk toe, stap saam met haar in, dra haar handsak en bid eers vir haar in haar kantoor voordat hy self met sy werksdag begin – dié lang, stil man en sy borrelende vrou.

Gérard Filies (45) en sy vrou, Sylnita Swartz-Filies (47), van Kuilsrivier in die Kaap se noordelike voorstede, se storie van liefde en respek vir mekaar, maar ook hul passie om lewenslank aan te hou leer, is genoeg om enigiemand te inspireer.

Selfs ná al die jare is die liefde ooglopend. Dié paartjie is steeds dolverlief en giggel soos twee tieners tydens ons fotosessie. Die vroeë lente-oggend is snerpend koud, maar die liefde in die lug is warm.

“Twintig jaar is in ’n oogwink verby en ons doen steeds alles saam,” borrel sy.

Maar hul spesiale verhouding is nie al wat dié twee anders maak nie. Op 27 Augustus het hulle altwee by dieselfde seremonie hul doktorsgrade by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ontvang – ’n eerste op baie vlakke. Gérard in kinder- en familiestudies, terwyl Sylnita se fokus op opvoedkundige sielkunde, maar veral vroulike psigiese gesondheid geval het.

Sylnita het grootgeword op Ceres. Haar ma was ’n onderwyser en later skoolhoof terwyl haar pa ’n ongeskoolde bouer was wat skool op 14 verlaat het om die pot aan die kook te hou by die huis. Peter Swartz het sy hande stompies gewerk sodat sy kinders al die geleenthede kon kry wat hy nooit gehad het nie – veral om verder te studeer.

Hy het hulle grootgemaak met die ingesteldheid dat hulle enigiets kan doen wat ander mense kan doen en dat hulle altyd goeie morele waardes moet handhaaf. Haar pa het ook vas geglo ’n mens gaan studeer iets waaroor jy passievol is en juis daarom het Sylnita op arbeidsterapie besluit – omdat sy haar lewe daaraan wou wy om ander mense te help.

Haar pa se verhouding met haar ma het Sylnita weer geïnspireer om dieselfde hegte band in haar eie huwelik te kweek. En tot vandag toe woon Sylnita en Gé-
r­ard in die huis wat haar pa vir hulle gebou het.

“My studie vir my PhD het gegaan oor women’s mental health, maar toe ek die eerste keer op kampus kom, omdat ek so beskermd grootgemaak is, was ek verskriklik angstig. Dit het my nogal geaffekteer. As ek dit daai tyd besef het, kon ek terapie of ondersteuning gekry het,” onthou sy.

Sy vertel toe sy haar loopbaan as arbeidsterapeut by Lentegeur-hospitaal in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte begin het, het sy begin besef hoe belangrik psigiese gesondheid is en om raak te sien as jy angstig voel of as ander mense rondom jou dalk bietjie depressief voel.

“Ek dink mense skram baie weg hiervan, want as jou gees nie gesond is nie, moet daar ’n groot of dramatiese diagnose wees. Hulle weet nie net angstigheid byvoorbeeld kan jou lewe affekteer nie.”

KYK NA VROUE

Deesdae werk sy vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement in die Spesiale Skole-sisteem. Hier het sy baie vroue teëgekom wat met haar gesels het oor hul probleme en dít het haar geïnspireer om haar doktorale studie te doen oor veral bruin vroulike onderwysers in die agtergeblewe spesiale skole. Sy voel vroue is die pilare van die samelewing en as vroue nie gesond voel nie, sal die hele samelewing daaronder ly.

“Ons moet na vroue begin kyk op ’n ander vlak as net skoonmaak en kosmaak en huismaak. Ons moet kyk na wat die vrou nodig het as ons ’n verskil wil maak, al is dit net ’n oor om te luister,” meen sy.

Gérard is gebore en getoë in Kaapstad. Sy ouers is nie geleerd nie, maar sy pa, as broodwinner, het ook homself opgewerk en sy bes gedoen omdat hy geglo het elke kind moet ’n geleentheid kry om te studeer. Sy ouers was ook onafskeidbaar en die voorbeeld het hy in sy eie huwelik nagestreef.

Gérard het nooit regtig geweet wat hy wil gaan studeer nie, tot nadat studente van die Universiteit van Kaapstad sy skool kom vertel het van arbeidsterapie. Amper onmiddellik het Gérard geweet dít is wat hy wil doen en dit was al waarvoor hy ingeskryf het.

Deesdae is hy ’n dosent aan die interdissiplinêre eenheid in die fakulteit van gemeenskapsgesondheid en reis hy wêreldwyd om ander universiteite en instansies te leer hoe die verskillende gesondheidsafdelings (byvoorbeeld arbeidsterapeute, verpleegsters, fisioterapeute en dokters) saam kan en moet werk om beter te funksioneer.

Toe Sylnita in haar derde jaar vir Gérard op kampus ontmoet, het hy vinnig ’n standvastige, ondersteunende pilaar in haar wêreld geword. Vir ’n lang ruk was hulle net vriende, maar hy was altyd ’n konstante in haar lewe. “Ek dink ook daai vriendskap was ’n baie goeie basis vir ’n ’n goeie huwelik,” meen sy.

Omdat sy twee jaar voor hom was, was Sylnita Gérard se groepleier.

“Ek het myself altyd beskou as ’n introvert. Skaam. En hier kom Sylnita – baie uitgesproke – en terg my konstant. Ek het nie geweet wat om te maak of te sê nie. Maar so het die vriendskap ontwikkel,” vertel hy met ’n sprankel in sy oë.

Aan die begin was daar glad nie ’n spark tussen dié twee nie. Gérard was soms eintlik geïrriteerd met al die ge­tergery. Maar soos die tyd verloop het, het hulle meer en meer tyd saam begin spandeer.

DOLVERLIEF

“Ek dink dit was ons gedeelde waardes wat ons na mekaar toe aangetrek het en ons vriendskap gesmee het,” meen Sylnita.

In ’n stadium het Gérard begin dink aan meer. “Ek het haar gevra om uit te gaan, maar haar reaksie was glad nie wat ek verwag het nie. Sy het gesê sy moet eers daaroor dink,” onthou hy. Nadat sy daaroor gebid het, het sy ingestem om die verhouding ’n kans te gee.

Daardie Desember het hy vir haar ’n baie duur, goue horlosie gegee vir hul drie maande herdenking.

“Toe vra ek vir hom hoekom bring hy vir my so ’n duur present. Sy antwoord was omdat hy eendag met my gaan trou. Ek het uitgebars van die lag!” giggel sy. Hy het daarna elke maand vir ’n jaar lank, op die 24ste vir haar ’n blom of ’n sjokolade gebring om hierdie blye dag te herdenk.

’n Paar maande nadat Gérard klaar gestudeer het, het hy ’n pos gekry by UWK, waar hy vandag nog werk. Kort daarna, in 1998, is die paartjie getroud. Sylnita het besluit om haar nooiensvan te behou uit eerbied vir haar familie en van waar sy kom, maar om ook ’n Filies te word, om haar verbintenis aan haar man te vier. “Maar die geheim is, God moet in die middel van jul verhouding staan,” sê Sylnita ernstig.

Tydens hul studies was dit vir hulle baie belangrik om nie hul kinders af te skeep nie en hulle het moeite gedoen om steeds kwaliteittyd as gesin te spandeer en het saans, ná werk en ete, op hul studies gefokus. Dit was nie maklik nie, maar hulle het mekaar gemotiveer. Hoewel geleerdheid vir hulle so belangrik is, plaas die paartjie geen druk op hul kinders, Arian (18) en Gemma (13), om te gaan leer nie, maar eerder om hul passies na te streef, met goeie morele waardes.

“Ons het ons PhD’s gedoen waaroor ons passievol is. Dít maak die verskil. Almal is ’n mens, almal wil goed voel. Maar jy kan ook net ’n verskil in ander se lewens maak as jy nederig is. Just be true to yourself,” verduidelik Gérard.

Die paartjie voel stomgeslaan en nederig oor al die aandag wat hulle deesdae kry, want vreemd genoeg is hulle PhD’s nie dit waarop hulle die trotsste is nie, maar dat hul verhouding ná 25 jaar, net sterker en sterker word.

Maar die geheim is, God moet in die middel van jul verhouding staan
Sylnita Swartz-Filies

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.