Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rekmerke: Wat jy wil en moet weet
19 Februarie 2020


Mooi was nog nooit lelik nie, lui die gesegde. Maar oor die jare moes (veral vroue) hoor hulle is nié mooi as hulle nie aan sekere standaarde voldoen nie. Só het baie meisies se selfbeelde vroeg ’n knou weg omdat hul hare nie reguit, hul lyfies nie rietskraal of hul velle nie vlekkeloos was nie.

Dié verwronge beeld van skoonheid is oor die jare deur die vermaak- en modewêreld versterk en jy het destyds weinig ’n stewig geboude meisie met natuurlike hare op die kassie of op tydskrifvoorblaaie gesien.

Gelukkig is die wêreld aan die verander. Danksy byvoorbeeld die natural hair movement (wat vroue aanmoedig om hul natuurlike hare te embrace) en diegene wat hulle beywer vir ’n positiewe houding oor jou lyf (die body positivity movement) wat weer vroue aanmoedig om hul kurwes te aanvaar en gemaklik te wees in hul eie vel, is vroue deesdae vryer as ooit om net hulself in hul eie lywe te wees.

Maar dit lyk asof daar een onderwerp in die debat oor selfaanvaarding en skoonheid is wat maar net nie wil aanbeweeg nie – rekmerke. Vir baie vroue (én mans) is hul stretch marks lelik en onooglik en sal hulle alles in hul vermoë doen om dit weg te steek of daarvan ontslae te raak. Bitter min sal byvoorbeeld hul rekmerke met trots in ’n bikini op die strand vertoon, want hulle weet hulle gaan ’n paar skewe kyke kry! Dít terwyl rekmerke eintlik baie algemeen is.

Raak jou emosioneel

Farah Majiet, ’n estetiese tegnikus en eienaar van die Skin Studio in Kaapstad, werk al vir 20 jaar in die estetiese bedryf en sê sy sien daagliks mans en vroue wat vir behandelings kom om hul rekmerke minder sigbaar te maak en dit het beslis te doen met die emosionele uitwerking daarvan op hulle. “Rekmerke is iets wat baie persoonlik is en mense diep raak, veral wanneer hulle daaroor gespot word of minder aantreklik voel as gevolg daarvan. Dit het dalk nie ’n fisiese uitwerking op mense nie, maar emosioneel kan dit baie skade doen.

Wanneer iemand vir behandeling kom, gaan dit gewoonlik oor meer as net die feit dat hulle ‘mooier’ wil lyk,” sê sy. Reggie Arendse (28) van Blackheath in die Kaap, is iemand met eerstehandse ondervinding van hoe rekmerke jou selfbeeld en selfvertroue kan afbreek. “Dit is maklik vir mense om ander te judge, maar as jy nooit skaam gevoel het om na jouself in die spieël te kyk nie, sal jy nooit verstaan nie,” meen hy.

“Toe ek ouer word, het my stretch marks my liefdeslewe begin beïnvloed. Ek het rekmerke op my agterstewe en boude en wou nooit hê my meisies moes dit sien nie. Dit het my selfvertroue geknak en al het ek baie room en olies probeer, het dit nie ’n groot genoeg verskil gemaak nie.”

Toe hy desperaat word om sy selfvertroue te verbeter, het hy dit oorweeg om ’n tattoo te laat doen, maar die area was te groot en dit sou dus nie net ’n klein een kon wees nie. Hy het van laser en micro-needling gehoor, maar het nie eens moeite gedoen om meer daaroor uit te vind nie, want hy het net aanvaar dat dit te duur is.

Eers toe hy ’n vrou ontmoet wat hom sexy laat voel en sy selfvertroue ’n hupstoot gegee het, het hy stadigaan minder oor sy rekmerke begin dink en meer dinge begin doen. Nicola Berko (27) van Table View was weer vir jare behep met haar gewig en voorkoms. As jy vir haar as tiener of pasgetroude moes vra hoe sy sou reageer indien sy rekmerke tydens swangerskap ontwikkel, erken sy sy sou sy baie angstig daaroor gewees het. Maar sedert haar eersteling se geboorte 18 maande gelede, het sy soveel meer respek vir haar liggaam en wat dit alles kan doen.

Voor haar swangerskap het Nicola rekmerke gehad, maar jy kon dit amper nie sien nie en dit was meer deurskynend as rooi. Toe sy swanger word, het sy onmiddellik room aangesmeer om die vorming van rekmerke te verhoed, want dis wat aanbeveel word. Maar omdat haar ma en ander vroue in haar familie eers ná geboorte rekmerke ontwikkel het, het haar dokter haar daarop voorberei dat dieselfde ook met haar kan gebeur. “Ná my seun se geboorte het ek pers merke gesien. Ek het onmiddellik olie begin gebruik en dit het al hoe ligter raak.”

Nicola sê behalwe genetika het gewigs-veranderinge ook ’n rol gespeel in haar rekmerke. Sy kon vir haar eerste trimester niks behalwe brood, aartappels en chips eet nie. Dit het veroorsaak dat sy in ’n kort tydperk meer as 20 kg opgetel het, wat ook bygedra het tot haar rekmerke.

Ongelukkig is Reggie en Nicola se erva-rings nie uniek nie. Volgens navorsing deur The Cadogan Clinic in Engeland sal ongeveer 80% van mense rekmerke in hul leeftyd ontwikkel. In ’n poging om ook die persepsies oor stretch marks (veral in die modebedryf) te verander, het die plaaslike handelaar Ackermans verlede jaar as deel van ’n advertensieveldtog vir onderklere, vroue probeer aanmoedig om hul lywe (rekmerke en al) te aanvaar en vet en maer vroue met rekmerke in hul veldtog gebruik.

Nog nie gereed

Die plaaslike winkelgroep Ackermans het verlede jaar as deel van ’n advertensieveldtog vroue met rekmerke as modelle gebruik.

Maar selfs Ackermans het vinnig agtergekom nie almal is gereed om hul persepsie oor wat mooi en aanvaarbaar is, te verander nie. Want al het baie die veldtog geprys, het net so baie laat weet hulle wil nie mense met rekmerke op plakkate of in onderklere sien nie.

Tanya Ruiters, ’n woordvoerder vir Ackermans, sê dit was vir die winkelgroep belangrik om vroue van alle vorms te ondersteun en te wys dat hulle nie skaam vir hul lywe hoef te wees nie. “Ons wil hê alle vroue moet goed en sexy voel wanneer sy in die winkel stap, veral as sy onderklere gaan koop. Maar as ons net een soort vrou uitbeeld, hoe kan ons daarop aanspraak maak dat enige vrou by ons welkom is? Ons wou alle vroue verteenwoordig sonder retouching om te wys almal kan trots wees op hul rekmerke, kurwes en bumps,” sê sy.

Daar gaan altyd mense wees wat iets negatiefs te sê het en jy sal nooit almal gelukkig kan maak nie, maar Tanya glo dit is belangrik om hierdie soort gesprekke te begin sodat al die samelewing se ste-reotipes afgebreek kan word. Al sê mense negatiewe goed, gee dit vir ander die geleentheid om dalk vir hulle op te voed en hul denkwyse te verander.

Wat is rekmerke?

Rekmerke is fyn lyne wat op die vel vorm. Dit gebeur wanneer jou vel skielik rek, soos tydens swangerskap, as jy gewig optel of verloor en dis baie algemeen. Dit begin as rooi of pers lyne en soos dit ouer word, verander die kleur na wit of silwer, omdat daardie selle heeltemal verouder het of sterf. Die verskil in kleur sal vir jou dokter kan aandui hoe oud die rekmerke is.

Enigiemand kan rekmerke kry, maar oor die algemeen is dit meer by vroue as mans. Dit kan op verskillende plekke op jou lyf vorm, veral op jou maag, boude, heupe, bo-arms en lae rug. Voor dit sigbaar raak, kan jou vel dun en pienk voorkom. Dit kan ook geïrriteerd en jeukerig voel. Jou vel bestaan uit drie lae. Rekmerke vorm in die dermis of middellaag wanneer die vel te ver gerek word.

Soos jy groei, strek die vesels in die dermis stadig en geleidelik. As jy vinnig groei, rek dit te ver en die dermis skeur, wat dieper lae vel ontbloot. Dít kan rekmerke veroorsaak en dra by tot hoe dit lyk. Rekmerke is littekens en is glad nie gevaarlik vir jou gesondheid nie. Jy kan dit probeer vermy deur ’n gesonde gewig te handhaaf, nie te yo-yo-dieet nie, gesond te eet en minstens ses glase water per dag te drink. Hoewel rekmerke nooit permanent verdwyn nie, kan behandelinge soos olie, room, tattoos of micro-needling help om dit ligter te laat lyk.

Wat veroorsaak rekmerke?

Rekmerke
LINKS: Só lyk gesonde vel met gesonde kollageen. REGS: Daar is 'n breek in kollageen wat die rekmerke (die skeurtjie in die vel) veroorsaak.

Oorsake

Van die algemeenste oorsake sluit in swangerskap, strawwe oefeninge en sekere medikasie.

Tussen 50% en 90% van swanger vroue kry rekmerke tydens of ná geboorte. Gewigsverandering veroorsaak rekmerke wanneer jy te vinnige gewig optel of verloor.

Die vinnige strek-en-trekaksie veroorsaak ’n breek in die liggaam se kollageen (hoofbestanddeel van die bindweefsel in jou vel) en elastisiteit. Waar daardie breek plaasvind, is waar die lyn sal vorm. Daar is nie sekere vereistes vir die vorming van rekmerke nie en dit kom ook nie net in vet mense voor nie. Sekere medikasie soos kortikosteroïed (corticosteroid) velroom en pille wat steroïde bevat, kan ook rekmerke veroorsaak omdat dit die vel se vermoë om te rek, verminder. So lees gereeld die bestanddele en waarskuwings op jou velroompakkie.

Sekere mediese toestande soos Cushing-sindroom wat ’n hormoontoestand is, kan rekmerke veroorsaak as dit die hoeveelheid kortisoon in jou liggaam te veel en vinnig opstoot, omdat gewigsverandering gewoonlik plaasvind. Marfan-sindroom wat ’n genetiese afwyking van die bindweefsel is, kan ook rekmerke veroorsaak omdat mense se liggaam te vinnig groei en die vel te vinnig moet rek.

Volgens dr. Steve Geldenhuys, ’n Kaapse plastiese chirurg, is vroue meer geneig om rekmerke te ontwikkel as gevolg van die manier hoe hul liggame vinniger as gewoonlik verander tydens swangerskap of wanneer hulle ’n hormoonwanbalans ontwikkel, maar dit beteken nie dat mans nie rekmerke kry nie.

“Hormone speel ook ’n groot rol in die ontwikkeling van rekmerke, want as daar ’n wanbalans in jou hormone is, beïnvloed dit die kollageen en ander vlakke in jou vel en dit het ’n direkte invloed op die ontwikkeling van rekmerke. Want rekmerke vorm wanneer daar ’n breek in die elastiese weefsel en ’n tekort aan kollageen is.”

Dit is juis hoekom mense wat ’n goeie vlak van kollageen in hul liggaam het, minder geneig is om rekmerke te kry. Daar waar die kollageen en elastiese weefsels breek of uitmekaardryf, is waar die rekmerke hulself tuismaak en hoewel daar maniere is om die sigbaarheid van rekmerke te verminder, is dit permanent en sal dit nooit heeltemal weggaan nie. Daar is ’n hele aantal risikofaktore wanneer dit kom by rekmerke, insluitend familiegeskiedenis en kroniese siektes, jou gewig voor swangerskap en jou kind se gewig tydens geboorte.

Behandeling

Micro-needling

Met behulp van die Skin Studio in Kaapstad se middestad, het ons micro-needling uitgetoets, wat ’n meer permanente manier is om van rekmerke ontslae te raak. As jy nie van naalde hou nie, baie min pyn kan verduur en nie baie toegewyd is wanneer dit by jou voorkoms kom nie, is dit dalk nie die opsie vir jou nie.

• Micro-needling is ’n spesiale behandeling en word slegs by sekere skoonheidsalonne gedoen.

• Tydens ’n sessie word die area waarop gewerk gaan word, eers verdoof en daarna word naalde tot 1,5 mm in jou vel gesteek totdat dit bloei, om kollageenvrystelling aan te moedig.

• Elke sessie is twee tot ses ure lank, afhangend van waar die area is en hoe diep die rekmerke is.

• Die koste wissel tussen R1 800 en R2 000 per sessie. Hoe ouer die rekmerke, hoe meer sessies, maar gewoonlik sal jy drie tot vier sessies nodig het. Volgens Farah is dit die oplossing vir mense wat nie net van rekmerke wil ontslae raak nie, maar enige letsel of selfs as hulle die merke van aknee wil verbeter.

Dis hoe lig Kuier-joernalis, Tarren-Lee Habelgaarn, se rekmerke gelyk het ná net twee sessies.
Farah maak die vel skoon en behandel dit voor die micro-needling.
Naalde word 1,5 mm diep in die vel gedruk sodat kollageen vrygestel kan word en die vel herstel.

Vir meer inligting oor micro-needling, kontak The Skin Studio in Kaapstad by 021 422 0387 of info@theskinstudio.co.za.

Tattoos

Die tattoo is oor van die rekmerke gedoen om dit weg te steek.

Lucian Dalton (36) is vir die afgelope 10 jaar ’n professionele tatoeëerkuns-tenaar. Hy is die eienaar van Afterlife Ink Tattoos in Goodwood, Kaapstad. Lucian se kliënte kom nie gereeld in om hul rekmerke te bedek nie, maar hy het al ’n paar mense gehad wat wel daarvoor gekom het.

Hy sê al is ’n tattoo ’n baie effektiewe opsie, kan nie alle rekmerke met ’n tattoo bedek word nie. “Afhangend van hoe diep die lacerations van die stretch marks is, kan dit bepaal of jy daaroor kan werk of nie. As die stretch marks te diep is, kan dit veroorsaak dat die tattoo

oneweredig lyk en voel,” sê Lucian.

Jy kan die tattoo laat strek sover as wat die stretch marks gaan en sodoende is dit minder sigbaar en in party gevalle glad nie eens sigbaar nie. Tattoos kos vanaf R400, maar kan tot duisende rande kos afhangend van hoe groot en ingewikkeld dit is. Dit kan van twee tot vyf ure neem of selfs langer as dit ’n groot area is.

Vir tattoos, kontak Afterlife Ink Tattoos in Goodwood by 078 743 7712.

Rome en olies

Daar is ’n verskeidenheid rome en olies op die mark vir teen R99 tot R720. Baie produkte belowe om rekmerke te verwyder as jy dit vroeg genoeg gebruik terwyl die rekmerke nog rooi is, maar nie almal werk effektief nie. Jy kan dié produkte by enige apteek, skoonheidswinkel of supermark koop. Drie Kuier-spanlede het ’n paar van dié produkte uitgetoets.

Dit het nie hul rekmerke laat verdwyn nie, maar wel ’n bietjie ligter laat lyk ná twee weke. Chrislynn, wat ook ’n bekende rekmerkolie probeer het, sê die olie het ’n verskil gemaak, maar was nie so effektief as beloof nie. “Ek kon wel ’n verskil sien aan die arm waarop ek die olie gebruik het.”

* Foto: Ryan carolisen, Peter Abrahams/Son en verskaf

* Illustrasies: Ryan Carolisen

Meer oor:  Gesondheid  |  Rekmerke  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.