Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Resepte: Blink planne met blikkieskos
18 Maart 2020

Groenboontjiefritters

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

Smoortjie

  • 1 ui, grofgekap
  • 2 eetlepels olie
  • 1 blik tamatie- en uiesmoor
  • 1 teelepel suiker
  • ’n Knippie gemengde kruie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Fritters

  • 1 blikkie groenbone
  • ¼ teelepel fyn knoffel
  • 1 teelepel sout en peper
  • 1 eier, geklits
  • ½ koppie karringmelk (buttermilk)
  • 1 koppie bruismeel (self-raising flour)
  • ½ teelepel bakpoeier
  • Olie vir vlakbraai

METODE

Smoortjie:

Soteer die ui in die olie tot sag. Voeg die blik smoortjie, suiker, gemengde speserye, sout en peper by. Bedek en prut tot dik. Hou eenkant tot opdiening.

Fritters:

Dreineer die groenbone en giet in ’n mengbak. Geur met die knoffel, sout en peper. Voeg die eier, karringmelk, meel en bakpoeier by en roer deur om ’n dik beslag te vorm. Verhit olie in ’n pan.

Skep lepelsvol van die beslag in die warm olie en vlakbraai tot goudbruin aan albei kante. Maak seker die fritters is deurgaar. Herhaal met die res van die beslag. Dien warm of teen kamertemperatuur op met die smoortjie.

Dis ’n lekker bykos, maar ook ’n peuselhappie op sy eie.


Mince-en-groentepastei

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Slapdeeg

  • 1 eier
  • ½ koppie melk
  • ½ koppie olie
  • ¾ koppie koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • ’n Knippie sout

Pastei

  • 2 eetlepels kookolie
  • 300 g beef mince
  • 1 x 410 g-blikkie gemengde groente
  • 1 x 410 g-blikkie mild chakalaka
  • 1 ui in ringe gesny
  • en ’n takkie roosmaryn vir versiering

METODE

Slapdeeg:

Klits die eier, melk en olie saam.

Meng die koekmeel, bakpoeier en sout in ’n mengbak.

Voeg die eiermengsel by en klits goed tot daar geen klonte is nie. Jy kan ook al die bestanddele glad pols in ’n voedselverwerker.

Pastei:

Verhit die olie oor matige hitte en braai die mince tot gaar. Maak seker dat jy groot klonte opbreek. Dreineer die groente en voeg by die mince, tesame met die chakalaka.

Bedek en prut vir 5 – 10 minute. Skep die vulsel in ’n pasteibak en gooi die slapdeeg bo-oor. Versier met die gesnyde uieringe en roosmaryn. Bak in voorverhitte oond by 180 °C vir 35 – 40 minute.

Die korsie moet mooi bruin en deurgaar wees. Laat staan vir 10 minute en bedien dan warm.

WENK:

Hoender of steak sal net so lekker wees hierin. Speel ook gerus rond met groente van jou keuse. Vir ’n vegetarian-opsie kan jy eenvoudig net die mince uitlaat.


/

Spaanse rys met viskoekies

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

Rys

  • 1 ui, grofgekap
  • 1 groen soetrissie, opgesny
  • 1 teelepel knoffel, fyngekap
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 koppie rou witrys
  • 205 g (helfte van 410 g-blik) kersietamaties, dreineer
  • ½ teelepel gedroogde origanum
  • ’n Knippie rissievlokkies
  • 1½ koppies hoenderaftreksel
  • 2 eetlepels pietersielie, gekap
  • Sout en peper na smaak

Viskoekies

  • 1 x 410 g-blik middlecut-vis, haal die graat uit
  • 1 koppie vars broodkrummels
  • 1 eier
  • ½ ui, gerasper
  • 1 eetlepel grasuie (chives), gekap
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel growwe swartpeper
  • Basil pesto (opsioneel)

METODE

Rys:

Braai die uie, soetrissie en knoffel in olyfolie tot goudbruin. Voeg die rys by en roer deur om al die olie te absorbeer.

Roer die tamaties, origanum, rissievlokkies en aftreksel by en prut bedek tot die rys gaar, maar nie pap is nie, en al die kookvloeistof geabsorbeer is. Haal van die hitte af en laat staan om deur te trek.

Roer net voor opdiening die pietersielie deur en geur met sout en peper na smaak as dit nodig is.

Viskoekies:

Voeg al die bestanddele vir die viskoekies, behalwe die pesto, in ’n bak en meng goed deur met jou vingers of ’n vurk. Vorm gholfballetjies en druk liggies plat. Vlakbraai in warm olie tot deurgaar en goudbruin.

Bedien met die Spaanse rys en ’n smeersel basil pesto.


/

Gemengde boontjiekerrie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 1 ui, grofgekap
  • 2 eetlepels olie
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • ½ teelepel rissiepoeier
  • ½ teelepel fyn komyn (jeera)
  • ½ teelepel fyn koljander
  • ½ teelepel paprika
  • ’n Knippie rissievlokkies
  • 1 teelepel vars knoffel
  • 1 teelepel vars gemmer
  • 6 kerrieblare (opsioneel)
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • ½ koppie kookwater
  • 1 x 400 g-blik gemengde bone
  • 1 x 400 g-blik groenbone
  • Sout na smaak
  • Vars koljander vir versiering

METODE

Braai die uie in die olie tot sag. Roer die speserye, knoffel, gemmer, kerrieblare en tamatiepasta by en braai saam.

Voeg ½ koppie kookwater by en kook saam vir ’n minuut of twee.

Dreineer die bone en gooi by die kerriemengsel.

Geur met sout na smaak, bedek en prut vir 10 – 15 minute of totdat die sous verdik. Versier met vars koljander en bedien met rys van jou keuse.

WENK:

Met dié resep kan jy lekker rondspeel, want geblikte bone kom in ’n groot verskeidenheid geure en kombinasies.


/

Oondgeroosterde stokvis met ertjiekors

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 4 mediumgrootte stokvisfilette, ontvries en met sout gegeur
  • 1 x 400 g-blik groenertjies
  • ½ teelepel vars knoffel
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 2 eetlepels basil pesto
  • ½ koppie broodkrummels
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel varsgemaalde peper

METODE

Pak die vis op ’n gesmeerde bakplaat. Dreineer die ertjies en gooi dit in ’n mengbak en druk liggies fyn met ’n vurk. Voeg die knoffel, olyfolie, pesto, broodkrummels, sout en peper by en meng liggies deur.

Verdeel die smeer tussen die filette en smeer oraloor die vis. Grill die filette teen 190 °C vir 15 minute tot goudbruin. Maak seker die vis is gaar, maar nie droog nie. Sny die vis kleiner en bedien met groenslaai of mashed potatoes.

WENK:

Jy kan die stokvis met enige ferm wit vis vervang.

Vir ’n ander smaak, vervang die basil pesto met rissiepasta of soetrissiepesto.
/

Ham-en-sampioenpasta

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 250 g rou tagliatelle-pasta
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 x 200 g-blik sampioene, gesny
  • 1 x 200 g-blik sampioensous
  • Volroommelk, afgemeet in die sampioensousblikkie
  • 1 x 300 g-blik piekniekham, gesny
  • Sout en peper na smaak
  • Grasuie (chives) vir versiering, gekap

METODE

Kook die pasta tot sag, maar ferm, dreineer en drizzle olyfolie oor. Gooi die pasta terug in die pot. Dreineer die sampioene en voeg by die pasta. Roer die sampioensous by.

Meet ’n koppie melk af in dieselfde blikkie en roer dit by die pasta. Sny die ham in dun skyfies en voeg by die pot. Prut vir 5 minute. Geur met sout en peper en versier met grasuie.


Mielie-en-koljanderkoekies

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Rissie-en-soja-doopsous

  • ¼ koppie ligte sojasous
  • 1 eetlepel olie
  • 1 teelepel gemmer, gerasper
  • 1 teelepel knoffel, gerasper
  • 1 eetlepel koljander, gekap
  • 1 teelepel vars brandrissie, gesny
  • 1 eetlepel rysasyn
  • 1 teelepel heuning

Mielie-en-koljanderkoekies

  • ½ x 400 g-blik geroomde mielies
  • 1 x 400 g-blik pitmielies, gedreineer
  • 1 eier, geklits
  • 1 koppie bruismeel (self-raising flour), plus ekstra as die beslag te loperig is
  • 1 teelepel bakpoeier
  • 2 eetlepels vars koljander, gekap
  • 1 teelepel brandrissie, opgesny

METODE

Rissie-en-soja-doopsous:

Gooi al die bestanddele vir die sous in ’n lugdigte flessie en skud goed. Hou in die yskas totdat jy dit gaan gebruik wanneer jy die gereg bedien.

Mieliekoekies:

Voeg al die bestanddele in ’n mengbak en roer deur tot net-net gemeng. Maak seker daar is nie klonte in die meel nie. Verhit genoeg olie vir diepbraai in ’n pot. Sodra die olie warm genoeg is, drup lepelsvol van die beslag in die warm olie.

Draai die koekies halfpad deur die baktyd om as hulle nie vanself omdop nie. Braai tot deurgaar, skep uit en dreineer op kombuispapier. Bedien warm met die doopsous.


Plaatkoek met perskes

Maak 2 mediumgrootte koeke

BESTANDDELE

  • 1 x 410 g-blik perskeskywe
  • 4 eiers
  • 1¼ koppies suiker
  • 1 eetlepel suurlemoenskil, gerasper
  • 2 koppies bruismeel (self-raising flour)
  • 1 teelepel bakpoeier
  • ½ teelepel sout
  • ¾ koppie warm water
  • ¾ koppie olie

METODE

Meng die warm water en olie en laat dit effens afkoel. Klop die eiers en suiker saam tot lig en donsig. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg die meelmengsel en water-en-oliemengsel en suurlemoenskil by die eiers en vou liggies deur.

Pak die perskes in ’n gesmeerde koekpan of tertbak. Gooi die beslag in die koekpan of tertbak sodat al die vrugte bedek is. Hierdie beslag is genoeg vir twee koeke.

Bak by 180 °C tot gaar en ’n toetspen skoon uitkom. Haal die koek uit die oond en laat effens afkoel. Keer die uit op ’n opdienbord met die perskes na bo. Bedien met geklopte room of roomys.

WENK:

Nog ’n lekker kombinasie vir hierdie koek is pere en sjokolade. Voeg ½ koppie kakao by die droë bestanddele van die koek en vervang die perskes met pere.

* Foto’s en stilering: Dale Fourie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.