Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Resepte: Heerlike maaltye met kaas
19 Februarie 2020

Van cheddar tot mozzarella – kaas is só veelsydig jy kan dit in soet en sout geregte gebruik en dit gee nuwe lewe aan eenvoudige disse.

Mini-kaas-soufflés

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 100 g cheddarkaas
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 4 eetlepels botter
  • Sout en peper na smaak
  • ½ koppie volroommelk
  • 2 eiergele
  • 4 eierwitte

METODE

Voorverhit eerste die oond tot 180 °C. Spuit die binnekant van vier ramekins met kleefvrye kossproei en hou eenkant.

Verhit ’n koppie water in ’n potjie. Meng die kaas, koekmeel, botter, sout en peper in ’n hittebestande bak. Voeg die melk by, roer dit en sit die bak oor die potjie met pruttende water. Roer die mengsel tot stomend warm en die kaas gesmelt is.

Meng ’n klein bietjie van die kaassous by die eiergele en roer deur. Voeg dit nou by die res van die kaassous en meng goed. Klits die eierwitte tot styf en vou in drie dele by die kaasmengsel.

Verdeel die mengsel tussen die ramekins en pak dit op ’n bakplaat. Bak vir 15 minute tot gestol en goed uitgerys. Bedien die soufflé dadelik met slaai van jou keuse. Onthou soufflé val plat ná ’n tydjie.


/

Romerige driekaaspasta

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 250 g pasta van jou keuse
  • 2 eetlepels botter
  • ’n Knippie neutmuskaat (nutmeg)
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel peper
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 2 koppies lou volroommelk
  • ½ koppie cheddarkaas, gerasper
  • ¼ koppie pecorinokaas, gerasper
  • 1 koppie mozzarellakaas, gerasper

METODE

Kook die pasta volgens die instruksies op die pakkie en hou eenkant. Smelt die botter in ’n groot pot en voeg die neutmuskaat, sout en peper by. Roer die meel daarby en kook vir 1 minuut.

Voeg die melk by die meelmengsel en klits sodat dit nie klonte maak nie. Bring tot kookpunt oor matige hitte terwyl jy heeltyd roer. Haal die sous van die hitte af en roer die cheddar, pecorino en helfte van die mozzarella daarby.

Roer volgende die pasta by die kaassous en skep dit dan uit in ’n oondvaste bak. Sprinkel die res van die mozzarella bo-oor die pasta en bak by 180 °C vir 15 minute of tot deurwarm en goudbruin bo-op. Bedien dadelik met bykos van jou keuse terwyl die kaas nog lekker warm is.


/

Kaas-en-murgpampoentjie-oondskottel

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • ½ ui, gekap
  • 4 koppies murgpampoentjies, opgesny
  • 2 eetlepels botter
  • ½ teelepel sout
  • ½ teelepel witpeper
  • 3 eiers
  • ¼ koppie room
  • 1½ koppies cheddarkaas, gerasper
  • ¼ koppie pecorinokaas, gerasper
  • ½ koppie brosgebraaide bacon, gekap

METODE

Soteer die uie en murgpampoentjies in die botter tot sag en geur met sout en peper na smaak. Gooi dit in ’n gesmeerde oondbak. In ’n mengbak, meng die eiers en room en voeg die helfte van die cheddar by.

Giet die mengsel oor die murgpampoentjies. Sprinkel die res van die cheddar, pecorino en bacon bo-oor. Bak in ’n voorverhitte oond by 180 °C vir 30 – 35 minute tot die randjies lekker bruin en bros begin raak. Bedien met ’n vleis- of visgereg.


/

Ekstra kaserige lasagne

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • Vulsel 500 g maalvleis
  • 3 eetlepels olyfolie
  • 2 groot uie, fyngekap
  • 1 blik tamaties, gekap
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel growwe swartpeper
  • 2 eetlepels suiker
  • 1 teelepel gedroogde origanum
  • 1 koppie hoenderaftreksel (1 aftrekselblokkie + 1 koppie kookwater)

Witsous

  • 2 eetlepels botter
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 2 koppies warm melk

Samestelling

  • Rou lasagne-velle (soveel soos nodig)
  • 2 koppies mozzarella, gerasper (Moenie die soort gebruik wat reeds gerasper is nie, want dit smelt nie altyd so lekker nie.)
  • ½ koppie goudakaas, gerasper

METODE

Braai die maalvleis oor hoë hitte in die olyfolie tot bruin, skep uit en hou eenkant. Soteer die uie in dieselfde pot tot sag en voeg die tamaties, sout, peper, suiker, origanum, hoenderaftreksel en die maalvleis daarby. Prut totdat die sous begin verdik.

Witsous:

Smelt die botter en roer die koekmeel by. Hou aan roer vir so 1 minuut en voeg die melk by. Bring tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer. Haal die pot van die plaat af sodra die sous verdik.

Samestelling:

Smeer ’n dun laag witsous op die bodem van ’n oondvaste bak, gevolg deur ’n laag lasagne-velle, maalvleis, witsous en die helfte van die mozzarella en gouda. Herhaal die lae en eindig met witsous. Sprinkel die res van die kaas oor en bak by 180 °C tot goudbruin (omtrent 1 uur).


/

Sampioen-en-kaastertjies

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

  • 1 rol blaardeeg (puff pastry), ontvries
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 2 eetlepels botter
  • 500 g gemengde sampioene
  • Sout en peper na smaak
  • 1 teelepel knoffel, fyngekap
  • 1 teelepel vars tiemieblaartjies
  • 1 eetlepel pietersielie, gekap
  • 200 g roomkaas
  • ¼ koppie pecorinokaas, gerasper
  • 1 eier, geklits
  • Vars kruie vir versiering

METODE

Sny die deeg in 8 reghoeke en pak dit op ’n bakplaat. Los genoeg spasie tussen die deeg sodat dit effens kan uitsit. Sny ’n randjie van 1 cm reg rondom elke stuk. Moenie regdeur die deeg sny nie.

Hou in die yskas totdat jy dit gebruik. Verhit die olie en botter in ’n braaipan en soteer die sampioene tot gaar. Geur liggies met sout en peper, voeg die knoffel, tiemie en pietersielie by en soteer vir nog 1 minuut.

Haal dit van die plaat af en hou eenkant. Geur die roomkaas liggies met sout en peper en meng die pecorino by. Smeer die kaasmengsel in die middel van die deegstukke. Moenie oor die 1 cm-randjie smeer nie.

Skep die sampioene bo-op die kaas, smeer die randjies van die tertjies met geklitste eier en bak in ’n voorverhitte oond by 180 °C vir 20 – 25 minute. Versier met vars kruie (opsioneel) en bedien louwarm met slaai van jou keuse.


/

Kaserige hoender-enchiladas

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Hoender

  • 3 heel hoenderborsies
  • 1 koppie kookwater
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 eetlepel hoenderspeserye
  • 1 teelepel gerookte paprika
  • 1 eetlepel suiker

Smoortjie

  • 2 uie, gekap
  • 3 eetlepels olyfolie
  • ½ teelepel rissievlokkies
  • 1 blik tamaties (die een met kruie), gekap
  • 1 eetlepel suiker
  • Sout en peper na smaak

Samestelling

  • 8 mediumgrootte meel-tortillas
  • 2 mozzarella-balle (die soort wat in water verkoop word)
  • ½ koppie boerenkaas met peper, gerasper
  • Koljander vir versiering, gekap

METODE

Hoender:

Sit die hoender, water, tamatiepasta, hoenderspeserye, paprika en suiker in ’n potjie. Bring tot kookpunt en prut totdat die hoender sag is. Pluis die hoender uit en sit terug in die pot met die oorblywende sous.

Smoortjie:

Soteer die uie in die olie. Voeg die rissievlokkies, tamaties en suiker by en geur met sout en peper. Prut bedek tot die sous verdik.

Samestelling:

Verdeel die hoender tussen die tortillas. Rol dit toe en pak in ’n oondbak, met die nate na onder. Skep die tamatiesmoor bo-op. Breek die mozzarella en pak bo-op, gevolg deur die boerenkaas. Bak by 190 °C vir 15 – 20 minute. Versier met koljander en bedien warm.


/

Yskas-kaaskoek met vars bessies

Lewer 1 ronde kaaskoek

BESTANDDELE

  • 2 koppies Oreo-koekies, fyngedruk
  • 3 eetlepels botter (nie margarien nie), gesmelt
  • 500 g volroomroomkaas
  • 1½ koppies versiersuiker (icing sugar)
  • 1 teelepel vanilla essence
  • 2 koppies room of Orley Whip
  • Vars bessies vir opdiening

METODE

Meng die koekiekrummels en botter in ’n bak. Druk die koekiekors vas teen die bodem van ’n losboompan wat met bakpapier gevoer is. Verkoel tot stewig. Meng die roomkaas tot sag in ’n menger.

Voeg die versiersuiker ½ koppie op ’n slag by en meng goed ná elke byvoeging. Roer die vanilla essence by en meng. In ’n ander bak, klits die room tot styf. Vou die room bietjie vir bietjie op ’n slag by die roomkaasmengsel. Gooi die vulsel oor die kors.

Bedek die koekpan met kleefplastiek en verkoel die kaaskoek oornag. Haal die koek uit die pan en laat staan vir 10 minute by kamertemperatuur (om dit makliker te sny). Sny in skywe en bedien met hope vars bessies

Meer oor:  Kos  |  Kaas  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.