Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Resepte: Rek só jou rande
22 Januarie 2020

In Janu-worry hoef jy nie vaal en vervelige kos te eet nie. Dié eenvoudige resepte kos min en sal jou mense se monde laat water!  

Grondboontjiebotterhoender

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 4 hoenderborsies, in happie-groottestukkies gesny
  • 1 knoffeltoontjie
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 2 teelepels vars gemmer, gerasper
  • 2 teelepels matige kerriepoeier
  • ½ koppie gladde grondboontjiebotter
  • 1 x 400 g-blik tamaties, geskil en gekap
  • 1 x 400 g-blik klappermelk
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ’n Handvol vars koljanderblare, gekap
  • Geroosterde en gesoute grondboontjies vir versiering, gekap

METODE

Verhit die olie in ’n groot pan en braai die hoenderstukkies in sarsies tot alkant goudbruin. Braai die knoffeltoontjie, rissie en gemmer in dieselfde pan vir ’n minuut of so.

Voeg die kerriepoeier by en meng goed. Roer die grondboontjiebotter, tamaties en klappermelk by en bring tot kookpunt. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.

Verlaag die hitte en kook vir 20 minute of totdat die sous begin dik raak.

Roer die hoenderstukke en koljander by en kook vir nog 10 minute saam. Skep in ’n mooi opdienbak en sprinkel die grondboontjies en nog vars koljander bo-oor.

WENK: Bedien met lekker basmati- of jasmynrys, of sommer net gewone witrys.
/

Spenspizza

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Bolaag

  • 1 blik tamaties, geskil en gekap
  • 2 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 klein ui, fyngekap
  • ½ teelepel droë basiliekruid (basil)
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 x 120 g-blikkie sardientjies, gedreineer, graatjies verwyder en in klein stukkies gebreek
  • 1¾ koppies cheddarkaas, gerasper

Basis

  • 2 koppies bruismeel (self-raising flour)
  • ’n Knippie sout
  • 3 eetlepels olie
  • Genoeg water om ’n deeg te vorm

Samestelling

Olie om die basis te verf 2 eetlepels parmesaankaas, gerasper 12 ontpitte swart olywe

METODE

Bolaag

Meng al die bestanddele vir die bolaag saam en laat staan vir 15 minute.

Basis

Sif die bruismeel en sout saam in ’n groterige bak. Roer die olie en net genoeg water by om ’n sagte, hanteerbare deeg te vorm.

Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit in ’n groot ronde sirkel en sit dit in ’n pizzapan of op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is.

Knyp die deeg tussen jou vingers om ’n effense randjie reg rondom te vorm (dit keer dat die sous nie afloop nie).

Samestelling

Verf die basis met olie. Skep die bolaag bo-op die basis en versprei egalig.

Sprinkel die parmesaan oor en rangskik die olywe bo-op. Bak vir 15 minute in ’n voorverhitte oond van 230 °C. Verlaag die hitte tot 190 °C en bak vir nog 20 – 25 minute.

/

Eiervrugburgers

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Eiervrugskywe

  • ¼ koppie koekmeel
  • 2 eiers
  • ½ koppie mieliemeel
  • 1 teelepel paprika
  • 1 groterige eiervrug (groot genoeg om in 8 groterige skywe te sny)
  • Olie vir braai
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Samestelling

  • 4 skywe cheddarkaas
  • 4 Portugese rolls, in die helfte deurgesny en gebotter
  • Blaarslaai van jou keuse
  • ’n Handvol mintblare 4 eetlepels soetrissiesous

METODE

Eiervrugskywe

Giet die koekmeel in ’n vlak bakkie. Klits die eiers en giet in ’n vlak bakkie. Meng die mieliemeel met die paprika en giet op ’n platbord uit.

Druk die eiervrugskywe een vir een in die meel sodat dit alkant bedek is voordat jy dit in die eier doop en dan in die mieliemeel druk. Pak die skywe op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is.

Verhit die olie in ’n pan en braai die skywe in sarsies tot alkant goudbruin. Dreineer die skywe op handdoekpapier, geur met sout en peper en sit twee-twee, randjies effens op mekaar, op die bakplaat.

Samestelling

Drapeer ’n skyf cheddarkaas oor elk van die eiervrugpaartjies en sit vinnig onder die roosteroond, wat tot die maksimum verhit is. Doen dit vir ’n minuut of twee totdat die kaas net-net gesmelt is.

Pak die rolls op ’n bakplaat en rooster vir ’n paar minute onder die roosteroond. Rangskik die blaarslaai op die onderste helfte van elke roll. Pak die eiervrugskywe bo-op, sprinkel mintblare oor en skep ’n eetlepel soetrissiesous oor elkeen voordat jy die boonste helfte van elke roll bo-op sit en bedien.

WENK: Jy kan enige soort roll van jou keuse gebruik.
/

Tuna-en-spinasie-gereg

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Tunamengsel

  • 3 eetlepels botter
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 150 g jong spinasieblare
  • ’n Handvol vars pietersielie, gekap
  • Gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • ½ koppie hoenderaftreksel
  • 2 blikkies tuna in water, gedreineer
  • ½ koppie room
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Samestelling

  • 8 – 12 snye witbrood, korsies afgesny en eenkant gehou
  • 6 eiers
  • 2 koppies melk
  • Sout en peper na smaak

Bolaag

  • 2 eetlepels cheddarkaas, gerasper
  • 3 eetlepels botter, gesmelt
  • Broodkorsies, verkrummel

METODE

Tunamengsel

Smelt die botter in ’n groot pan en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut saam.

Voeg die spinasie, pietersielie, suurlemoenskil en aftreksel by en braai vir ’n minuut of twee saam totdat die spinasie begin verwelk.

Roer die tuna en room by en geur met sout en peper na smaak. Kook vir ’n paar minute saam. Haal van die stoof af en hou eenkant.

Samestelling

Pak ’n laag brood in ’n oondbak wat met botter gesmeer is. Skep die helfte van die tunamengsel bo-op. Pak nog ’n laag brood bo-op en skep die res van die mengsel daarop. Maak gelyk. Klits die eiers en melk saam en giet bo-oor. Wag totdat dit goed ingetrek het voordat jy aangaan. Geur na smaak.

Bolaag

Meng die kaas en botter met die verkrummelde korsies wat jy vroeër afgesny het en sprinkel bo-oor die boonste spinasielaag. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 30 – 40 minute of totdat die eiermengsel gestol het en die krummellaag goudbruin is.

/

Frankfurter-en-swartbek-boontjieskottel

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1 koppie swartbekboontjies (black-eyed beans)
  • 3 eetlepels olie 200 g spek, in stukkies gesny
  • 3 groterige uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 makkerige rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 3 selderystingels, fyngekap
  • 1 van elk rooi, groen en geel soet-rissies, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repe gesny
  • 1 tamatie, grofweggekap
  • 1 teelepel hoenderspeserye
  • ½ koppie droë witwyn
  • 1 koppie hoenderaftreksel
  • Gerasperde skil van 1 lemoen
  • ½ koppie vars pietersielie, gekap
  • 1 x 250 g-pak frankfurters, in happiegroottestukkies gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Week die boontjies oornag in genoeg koue water. Spoel goed af en kook volgens die aanwysings op die pakkie tot gaar en sag, maar effens ferm. Spoel goed af, dreineer en hou eenkant.

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die spek daarin tot gaar. Skep die spek met ’n gaatjieslepel uit op ’n bord en hou eenkant. Braai die uie in dieselfde olie tot sag en deur-skynend.

Voeg die knoffel en die rissie by en braai vir nog ’n minuut of twee saam.

Roer die seldery, soetrissierepe, tamatie en hoenderspeserye by en meng goed met die inhoud van die kastrol. Giet die wyn en aftreksel in die pot en voeg die lemoenskil en pietersielie by.

Roer die gaar bone, spek en frankfurters by. Geur met sout en peper. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat liggies prut vir ongeveer 10 – 15 minute of totdat die vloeistof geabsorbeer is.

/

Spaghetti met sardientjies

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 x 400 g-blik sardientjies in tamatiesous
  • 12 ontpitte swart olywe (opsioneel)
  • ’n Handvol vars pietersielie, gekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 g spaghetti

METODE

Verhit die olie in ’n groot pan en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel en brandrissie by en braai nog ’n minuut of twee saam. Roer die tamatiepasta by.

Verwyder die sardientjies se graatjies en gooi die vis met sous en al in die pan. Breek die sardientjies met ’n hout-lepel.

Kook vir ’n paar minute totdat alles deurwarm is en voeg die olywe en pietersielie by.

Geur met sout en swartpeper. Kook die spaghetti volgens die instruksies op die pakkie. Dreineer die pasta maar hou 3 eetlepels van die kookvloeistof. Voeg die pasta saam met die 3 eetlepels kookvloeistof by die sardienmengsel in die pan en meng goed. Bedien warm.

WENK: Bedien met gerasperde parmesaankaas en varsgekapte tamatie vir versiering.
/

Ierse suurlemoenpoeding

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 125 g botter
  • ¾ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 4 eiers, geskei
  • Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 3 eetlepels koekmeel
  • 300 ml melk
  • 1 eetlepel versiersuiker (icing sugar)

METODE

Klits die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiergele by en klits goed. Voeg die suurlemoenskil en -sap by. Roer die meel en dan die melk by.

Klits die eierwitte styf en vou in die mengsel.

Giet die mengsel in ’n dieperige oondbak en sif die versiersuiker oor.

Sit die bak in ’n oondroosterpan met kookwater van ongeveer 3 cm diep en bak vir 40 – 50 minute in ’n voorverhitte oond van 200 °C totdat die poeding uitgerys en ’n goudkleur is. Bedien warm of koud. Sit voor met room en aarbeie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.