Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Resepte: Smullekker disse met sampioene
13 November 2019

Sampioenrol

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Rol

  • 500 g bruin sampioene
  • 1 eetlepel water
  • 2 eetlepels botter
  • 2 eetlepels koekmeel
  • 1 teelepel tamatiepuree
  • 1 teelepel Worcestershiresous
  • ’n Knippie neutmuskaat (nutmeg), gerasper
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 4 eiers, geskei

Vulsel

  • 4 eetlepels ongegeurde volroomjogurt
  • 1 x 230 g-houer roomkaas
  • 4 middelslag-stingeluie (spring onion), fyngekap
  • 1 eetlepel pietersielie, fyngekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Rol:

Plaas die sampioene saam met die eetlepel water in ’n voedselverwerker en pulseer tot baie fyn. Smelt die botter in ’n groterige kastrol en roer die koekmeel by.

Braai só saam vir ’n minuut of twee voordat jy die sampioenmengsel byroer. Kook die mengsel, terwyl jy af en toe roer, totdat lyk asof die meeste van die vloeistof weggekook het. Dit neem ongeveer 15 – 20 minute.

Voer ’n rolkoekpan met ’n dubbele laag bakpapier sodat dit effens oor die kante hang. Haal die sampioenmengsel van die stoofplaat af en voeg die tamatiepuree, Worcestershiresous, neutmuskaat en sout en peper by. Klits die eiergele effens en roer by.

Klits die eierwitte in ’n aparte bakkie styf en vou dit in die sampioenmengsel. Skep dit in die voorbereide pan en gebruik ’n platlemmes om dit egalig te versprei. Bak vir ongeveer 12 minute in ’n voorverhitte oond by 200 °C.

Vulsel:

Roer eers die jogurt by die roomkaas totdat die mengsel glad is en geen klonte vorm nie.

Voeg die res van die bestanddele by en meng goed.

Samestelling:

Wanneer die rol gaar is, smeer die vulsel versigtig bo-op en gebruik die bakpapier om dit op te rol. Laat die rol op die soomkant rus en draai dit styf toe in die bakpapier. Plaas dit in die yskas vir minstens ’n uur of tot heeltemal afgekoel.

Sny in skywe en rangskik op ’n bord. Bedien saam met ’n lekker slaai en varsgebakte brood.

/

Frikkadel-en-sampioenpastei

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Frikkadelle

  • 750 g maalvleis
  • 250 g sampioene, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • ½ rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en fyngekap
  • 1 teelepel droë origanum
  • 1 sny brood, verkrummel
  • 1 eier, effens geklits
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Sous

  • 2 eetlepels botter
  • 1 ui, in dun ringe gesny
  • ½ rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repe gesny
  • 250 g sampioene, in skywe gesny
  • 1 eetlepel vars origanum, gekap
  • 2 eetlepels koekmeel
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 koppie beesvleisaftreksel

Deeg

  • 4 eiers
  • 3 eetlepels botter, gesmelt
  • 1½ koppie melk
  • 1½ koppies koekmeel
  • 1½ teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel sout

METODE

Frikkadelle:

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Meng al die bestanddele. Gebruik jou hande om dit deeglik te meng en min of meer 24 frikkadelle, so groot soos tafeltennisballetjies, te vorm.

Plaas op ’n bord en hou eenkant.

Sous:

Smelt die botter in ’n swaarboompan en braai die uieringe, soetrissierepies en sampioenskywe tot sag. Roer die origanum en koekmeel by. Geur met sout en peper.

Giet die aftreksel by en roer totdat die sous lekker dik is. Kook nog ’n paar minute. Skep die sous in ’n vlakkerige, gesmeerde oondvaste bak en rangskik die frikkadelle bo-op.

Deeg:

Klits die eiers tot lig en skuimerig. Voeg die melk en botter by.

Sif die droë bestanddele saam en voeg gelyk by die eiermengsel. Klits goed totdat die mengsel glad is en giet oor die frikkadelle.

Bak vir 50 – 60 minute. Bedien met gestoomde groente of ’n mengselslaai.

WENK:

As jy nie vars origanum kry nie, kan jy 1 teelepel droë origanum in die sous gebruik.

Hierdie frikkadelpastei sal jou sommer laat terugverlang na Ouma se kombuis.
/

Pangebraaide sampioene

Genoeg vir 2

Dié dis is ’n spesiale liefdesmaal vir twee. Skink net ’n glasie vonkelwyn om dit af te rond en die aand is gemáák.

BESTANDDELE

  • 150 g eksotiese sampioenmengsel (shiitake, oester en shimeji)
  • 3 eetlepels botter
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 eetlepel roosmaryn, gekap
  • Gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 2 snye suurdeegbrood

METODE

Sny die sampioene in happie-grootte-stukkies. Verhit die botter in ’n pan oor matige tot hoë hitte en verbruin totdat die botter neuterig begin ruik. Wees versigtig vir aanbrand. Dit gebeur vinniger as wat jy dink.

Gooi die sampioene in die pan, geur met sout en peper en braai vinnig tot sag en gaar. Haal die pan van die stoofplaat af en sprinkel die roosmaryn en suurlemoenskil oor. Smeer die snye brood met botter en verhit ’n riffelpan.

Braai die brood alkant sodat die riffels van die pan op die brood is. Bedien die brood saam met die sampioene vir ’n heerlike bederfmaal.

WENK:

Jy kan ’n bietjie knoffel saam met die sampioene in die pan braai vir ekstra genot. As jy vonkelwyn gaan bedien, gooi ’n skeutjie daarvan by die sampioene terwyl jy dit gaarmaak. 

Gemarineerde sampioene

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • ¼ koppie olie
  • 3 eetlepels suurlemoensap
  • 2 vars tiemiespriete
  • 1 vinkelstingel (fennel), fyngekap
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • 1 selderystingel, fyngekap
  • 5 swartpeperkorrels
  • 1 lourierblaar (bay leaf)
  • ¼ koppie water
  • 250 g wit knopiesampioene
  • 1 suurlemoen, gehalveer

METODE

Plaas die olie, suurlemoensap, tiemie, vinkel, knoffel, seldery, peperkorrels, lourierblaar en water in ’n kastrol en bring tot kookpunt oor matige hitte. Bedek die kastrol, verlaag die hitte en laat saggies prut vir ongeveer 5 minute of tot die seldery begin sag word.

Sny die stingels van die sampioene af. Smeer die suurlemoenhelfte oor die sampioendoppies en plaas die sampioene in die pruttende pot en kook vir 5 minute.

Skep die sampioene uit met ’n gaatjieslepel en plaas in ’n opdienbak. Kook die vloeistofmengsel in die pot totdat dit heelwat afgekook het en begin dik word.

Giet dit oor die sampioene en laat staan om heeltemal af te koel. Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas vir ten minste ’n uur voordat jy dit opdien. Dis heerlik as bygereg of slaai saam met enige hoofgereg.

/

Sampioen-en-krulkoolskottel

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1 eetlepel olie
  • 1 x 200 g-pak swoerdlose strepie-spek, in stukkies gesny
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • 250 g sampioene, in skywe gesny
  • 1 x 180 g-pakkie krulkool (kale), in kleiner stukkies gesnipper
  • 4 eiers
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Verhit die olie in ’n groot swaarboompan. Braai die spek daarin totdat dit begin bros word.

Voeg die knoffel en sampioene by en braai totdat die sampioene begin sag word. Voeg die krulkool by, eers een helfte totdat dié verwelk het en daar plek in die pan vir die res is.

Maak vier holtes in die mengsel en breek die eiers daarin. Geur met sout en peper na smaak. Bedek die pan met ’n deksel en bak die eiers totdat die wit gestol en die geel nog effens loperig is.

WENK:

Jy kan die krulkool vervang met spinasie.

Die gesondheidsbewustes het so op loop gegaan oor krulkool dat jy sou dink dit kan net sleg wees. Maar dis regtig lekker groente en saam met die sampioene ’n heerlike kombinasie.
/

Sampioen-en-aartappel-oondskottel

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 6 middelslag-aartappels, geskil en in baie dun skywe gesny
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 250 g sampioene, in dun skywe gesny
  • 300 ml room
  • 3 eetlepels parmesaan, gerasper
  • 1 koppie vars broodkrummels
  • ’n Handvol pietersielie, gekap
  • 1 eetlepel botter, gesmelt

METODE

Plaas die aartappelskywe vir 2 minute in ’n kastrol kokende water en spoel onmiddellik in yskoue water af. Smeer ’n vlakkerige oondbak van ongeveer 25 x 20 cm met botter en sprinkel die knoffel oor die bodem.

Pak die helfte van die aartappels op die boom van die bak en geur met sout en peper. Strooi die sampioene bo-oor en geur met sout en peper. Pak die ander helfte van die aartappelskywe bo-op en geur met sout en peper.

Verhit die room in ’n klein kastrol totdat dit byna kookpunt bereik en giet oor die aartappels. Meng die parmesaan en broodkrummels met die pietersielie en gesmelte botter en sprinkel oor die aartappellaag. Bak vir ongeveer ’n uur in ’n voorverhitte oond van 180 °C.

WENK:

Plaas die oondbak op ’n bakplaat met ’n effense randjie voordat jy dit in die oond sit. Die vetinhoud van room is hoog en as dit begin warm word, borrel en oor die rand stort, is dit geneig om die oond aan die brand te laat slaan. Glo my, ek praat uit dure ondervinding

/

Klapper-brownies met roomys

Lewer 16 brownies

BESTANDDELE

Roomysbolletjies

  • 2 koppies klapper (coconut)
  • 500 ml vanilla-roomys

Brownies

  • 150 g donkersjokolade
  • 150 g melksjokolade
  • 1 x 400 g-blik klapperroom
  • 1½ koppies suiker
  • 3 eiers, geklits
  • 2 teelepels vanilla essence
  • 1 eetlepel donker rum (opsioneel)
  • 1½ koppies koekmeel
  • ½ teelepel fyn kaneel
  • ’n Knippie fyn naeltjies
  • 1 teelepel bakpoeier

METODE

Bolletjies:

Giet die klapper uit op ’n bakplaat wat ’n effense randjie het en sprei dit egalig uit. Bak vir ongeveer 5 – 8 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C totdat dit liggerooster, maar nie donkerbruin is nie.

Giet dit uit in ’n bak en laat dit heeltemal afkoel. Skep ’n bietjie van die klapper uit op ’n vlak bord. Gebruik ’n roomysskeplepel en vorm roomysbolletjies. Rol die bolletjies in die klapper.

Skep nog klapper uit op die bord en herhaal die proses totdat jy genoeg bolletjies het. Plaas die bolletjie op ’n bakplaat in die vrieskas tot net voor opdiening.

Brownies:

Smelt al die sjokolade saam met die klapperroom in ’n dubbelkastrol of ’n hittebestande bak oor ’n kastrol kokende water. Meng die suiker, eiers, vanilla essence en rum in ’n groot mengbak en klits tot glad en goed gemeng. Klits die sjokolademengsel by. Sif die koekmeel, speserye en bakpoeier in die mengsel in en klits dit tot net-net gemeng.

Giet die mengsel in ’n gesmeerde vierkantige pan van ongeveer 20 cm. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 35 minute. Sit die pan op ’n draadrak en laat die brownies heeltemal in die pan afkoel voordat jy dit versigtig uit die pan haal en in blokke sny wat almal dieselfde grootte is. Haal die roomys uit die yskas en bedien die brownies met ’n bolletjie of twee bo-op.

Jy kan die rum met brandewyn of Van der Hum-likeur vervang of heeltemal weglaat.
Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Sampioene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.