Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Resepte: Toor met eiers
8 Januarie 2020


Met ’n eier kan jy ver kom – dis so ongelooflik veelsydig. Of jy nou kook of bak, soet of sout – dis ’n regte staatmaker. Jy kan die ongelooflikste disse met dié eenvoudige bestanddeel optower.

Aspersie-en-ham-eierkelkies

Lewer 8 klein tertjies

BESTANDDELE

  • 3 groot velle filodeeg
  • 5 eetlepels botter, gesmelt
  • 1 x 100 g-pakkie aspersiepunte, stammetjies in stukkies gesny, punte heel gehou
  • 100 g hamstukkies
  • 3 eetlepels sprietuie (spring onion), versnipper
  • 3 eiers
  • 150 ml room
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Verf elke vel filodeeg met botter en sny elkeen in 8 vierkante.

Sit 3 vierkante op mekaar in elk van die 8 gate van ’n muffinpan. Knip die punte wat oorhang effens korter.

Verdeel die aspersiestammetjies, ham en sprietuie tussen die 8 filo-nessies. Klits die eiers en room saam en geur met sout en peper. Giet dié mengsel bo-op die vulsel in elk van die nessies.

Rangskik die aspersiepunte bo-op elke nessie en bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 20 minute of tot geset en goud van kleur.


/

Hoender-en- eier-Kedgeree

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Rys

  • 3 eetlepels olie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 koppies rou rys
  • 1 eetlepel vars pietersielie, gekap
  • 3 koppies hoenderaftreksel, kokend warm
  • Sout en varsgemaalde peper na smaak

Kerriesous

  • 3 eetlepels olie
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 1 brandrissie, pitjies verwyder en fyngekap
  • 2 wortels, geskil en fyngekap
  • 2 selderystingels, fyngekap
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 1 teelepel droë gemengde kruie
  • 1 koppie hoenderaftreksel
  • 2 tamaties, geskil, pitjies verwyder en gekap

Samestelling

  • 2 koppies gaar hoender, ontbeen, vel verwyder en in stukkies gebreek
  • Vars koljanderblare
  • 4 hardgekookte eiers, in skywe gesny

METODE

Rys:

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui tot deurskynend.

Voeg die rys by en roerbraai vir ’n minuut of twee.

Giet die aftreksel en pietersielie by en geur met sout en peper. Bedek die kastrol en laat sowat 25 minute oor lae hitte prut.

Kerriesous:

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie daarin tot sag.

Voeg die knoffel, brandrissie, wortels en seldery by en braai vir ’n paar minute.

Roer die speserye by en braai vir nog ’n paar minute voordat jy die aftreksel en pietersielie byvoeg.

Voeg die tamatie en die gemengde kruie by en laat ongeveer 15 minute lank onbedek kook.

Geur met sout en peper na smaak.

Samestelling:

Roer die gaar hoender saam met die koljander en eierskywe by die rys.

Hou ’n paar eierskywe en ’n bietjie koljander eenkant vir versiering.

Roer die kerriesous deur die rysmengsel en versier met die skyfies eier en vars koljanderblaartjies.

WENK:
Vir ’n lekker ontbytgereg kan jy stukkies brosgebraaide spek en gestoomde skelvis of gerookte snoek in plaas van die gaar hoender gebruik.
/

Bobotiefrittata met mangosambal

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

Mangosambal

  • 1 ryp, maar ferm mango, geskil en in blokkies gesny
  • 1 rooi-ui, fyngekap ½ van elk rooi, geel en groen soetrissie, in blokkies gekap
  • ’n Handvol vars koljanderblare, gekap
  • 2 eetlepels lemmetjie- of suurlemoensap

Frittata

  • 2 eetlepels olie
  • 1 eetlepel botter
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 1 groen brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 1 x 1 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngekap of gerasper
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • ¹/3 teelepel fyn naeltjies
  • 1 teelepel droë gemengde kruie
  • 1 eetlepel kerriepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 400 g beesmaalvleis
  • ½ koppie beesvleisaftreksel
  • 2 eetlepels suurlemoensap
  • 2 eetlepels blatjang
  • 6 lourierblare
  • 6 eiers
  • ¼ koppie melk
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Mangosambal:

Meng al die bestanddele en skep in ’n opdienbakkie. Bedek met kleefplastiek en hou eenkant.

Frittata:

Verhit die olie en botter in ’n pan en braai die ui tot goudbruin.

Roer die brandrissie, gemmer en knoffel by en braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die naeltjies, gemengde kruie, kerriepoeier en borrie byvoeg. As jy bang is vir aanbrand, kan jy ’n bietjie water byvoeg.

Roer die maalvleis by en maak liggies los met ’n vurk om te keer dat klonte vorm. Braai totdat die maalvleis verkleur het. Voeg die aftreksel, suurlemoensap en blatjang by en laat prut vir ongeveer 15 – 20 minute.

Druk die lourierblare in die maalvleismengsel in.

Klits die eiers en melk saam, geur met sout en peper en giet bo-oor die mengsel in die pan. Gee die eiermengsel kans om te stol, ongeveer 5 – 7 minute.

Sit die pan in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 15 minute of totdat die frittata heeltemal gestol het. Sny in skywe en bedien met die mangosambal.


/

Aartappel-en-beeteier-slaai

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Beet-gepiekelde eiers

  • 4 koppies witasyn
  • ½ koppie suiker
  • 1 eetlepel growwe sout
  • 1 groot beet (of 3 kleintjies), geskil en in blokkies gesny
  • 4 hardgekookte eiers, afgedop

Slaai

  • 2 eetlepels olie
  • Sap van ½ suurlemoen
  • ’n Handvol vars pietersielie, gekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • Blaarslaai van jou keuse
  • 12 – 16 jongaartappeltjies, met skil en al gaar, maar ferm gekook
  • ½ komkommer, in dun skyfies gesny
  • ’n Paar takkies vars dille (opsioneel)

METODE

Eiers:

Kook die asyn, suiker en sout saam in ’n kastrol. Roer af en toe sodat die suiker en sout kan oplos.

Voeg die beetblokkies by en kook vir 25 – 30 minute of totdat die beet sag en gaar is.

Skep die beet uit met ’n gaatjieslepel en hou eenkant om af te koel. Laat die vloeistof afkoel en giet dit in ’n fles met ’n skroefdeksel. Sit die eiers in die vloeistof in die fles vir minstens 2 ure.

Slaai:

Meng die olie, suurlemoensap en die pietersielie met die warm aartappels.

Geur met sout en peper na smaak. Pak die blaarslaai op ’n slaaibord en rangskik die aartappels (gehalveer as jy wil), komkommerskyfies en beetblokkies bo-op. Sny die eiers in die helfte deur en rangskik bo-op.

Garneer met die dilletakkies of sprinkel ekstra gekapte pietersielie bo-oor.


/

Saadbroodjies met konfetti-roereier

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Saadbroodjies

  • 2 koppies koekmeel
  • 2/3 koppie volkoringmeel
  • 1½ koppies hawermout (oats)
  • 1½ teelepels bakpoeier
  • 1½ teelepels sout
  • 1 teelepel koeksoda
  • 1 teelepel kremetart (cream of tartar)
  • ½ koppie gemengde sade
  • 2 eetlepels heuning
  • 1 koppie melk
  • 1 koppie water
  • 1 eier
  • Ekstra gemengde saad

Konfetti-roereier

  • 3 eetlepels botter
  • 6 eiers
  • ¼ koppie room (of melk)
  • 7 songedroogde tamaties, in klein stukkies gesny
  • 7 basiliekruidblare (basil), in klein stukkies gesny
  • 7 ontpitte swart olywe
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Broodjies:

Meng die droë bestanddele in ’n groot mengbak.

Meng die heuning, melk, water en eier in ’n kleiner mengbak en roer by die droë bestanddele.

Smeer 8 mini-broodpannetjies met botter en sprinkel van die ekstra gemengde saad in die pannetjies.

Verdeel die deeg tussen die pannetjies en sprinkel ’n bietjie saad bo-oor. Bak vir 30 – 35 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C.

Roereier:

Smelt die botter in ’n groot pan oor matige hitte.

Klits die eier en room en giet in die pan. Wag totdat die eier begin stol voordat jy ’n houtlepel gebruik om dit in sagte krulle te skraap. Sprinkel die res van die bestanddele bo-oor, geur met sout en peper en skraap weer met die houtlepel in krulle.

Moenie dat die eiermengsel heeltemal droog kook nie. Roereier is op sy beste as dit nog so effens klam is. Bedien onmiddellik saam met die saadbroodjies.


/

Omelet met romerige tuna-en-preivulsel

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Vulsel

  • 3 eetlepels botter
  • 1 kleinerige ui
  • 1 knoffeltoontjie, gekneus en gekap
  • 3 groterige preie (leeks), skoongemaak en in ringe gesny
  • 3 eetlepels meel
  • ’n Handvol vars pietersielie, gekap
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ½ koppie hoender- of groente-aftreksel
  • ½ koppie melk
  • 1 x 125 g-blikkie gevlokte tuna, gedreineer

Omelet

(Dié hoeveelhede is per persoon. Jy gaan vier of ses keer die hoeveelhede van dié bestanddele nodig het, maar dis beter om dit een vir een aan te maak.)

  • 1 eetlepel botter
  • 2 eiers
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Vulsel:

Verhit die botter in ’n pan en braai die ui, knoffel en preie daarin tot sag.

Roer die meel, pietersielie en sout en peper by en braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die aftreksel en melk bietjie vir bietjie byvoeg terwyl jy aanhoudend roer.

Laat liggies prut terwyl jy roer totdat die mengsel dik begin word. Roer die tuna by en haal van die stoof af.

Omelet:

Smelt die botter in ’n kleinerige pan.

Klits die eiers tot lig en giet dadelik in die pan.

Geur met sout en peper.

Laat die omelet begin stol voordat jy dit met ’n spaan omdraai sodat die ander kant ook kan stol en mooi goud kan braai.

Keer op ’n bord uit en skep ’n paar lepels van die vulsel op die een kant voordat jy dit toevou en dit in ’n lou oond warm hou terwyl jy die res maak. Herhaal totdat jy 4 (of 6) omelette gemaak het.


/

Suurlemoenmeringue

Lewer 1 tert

BESTANDDELE

Kors

  • 200 g gemmerkoekies, fyngekap
  • ½ koppie botter, gesmelt

Vulsel

  • 3 ekstra-groot eiers, geskei
  • Gerasperde skil van 3 suurlemoene
  • ½ koppie suurlemoensap
  • 1 x 397 g-blikkie kondensmelk
  • 5 eetlepels strooisuiker (castor sugar)

METODE

Kors:

Meng die fyngekapte koekies met die gesmelte botter en druk vas op die bodem van 20 cm-tertbord.

Vulsel:

Klits die eiergele, suurlemoenskil en -sap saam tot dik en romerig. Klits die kondensmelk by en giet die mengsel bo-op die koekiekors. Klits die eierwitte styf terwyl jy die strooisuiker ’n lepelvol op ’n slag bygooi en meng.

Moenie té styf klits nie. Skep die meringue-mengsel bo-op die vulsel en versprei mooi sodat dit heeltemal bedek is en oral tot teen die kante van die tertbak raak. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir 25 minute.

Laat heeltemal afkoel voordat jy die tert bedien.

* Foto’s en stilering: Dale Fourie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Eiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.