Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Steratleet van Worcester hardloop titels los
7 Augustus 2019
rogail joseph


Die kranige atleet Rogail Joseph (19) het al stof in menige teenstander se oë geskop. En ironies genoeg is die 400 m-hekkies haar spesialiteit, want dié meisiekind moes al menige hurdle oorkom wat in die pad gestaan het van haar atletiekdroom!

Die 19-jarige skuif haar gemaklik reg in haar stoel met ons besoek aan haar ouerhuis. Die trek van moegheid sit vlak – sy het pas teruggekeer van die Wêreldstudentespele in Napels, Italië, waar sy agtste gekom het. Vir Rogail was dit teleurstellend om agtste te kom omdat sy altyd daarna streef om eerste oor die eindstreep te wees. Tog is sy gelukkig met haar vertoning omdat sy dit deur al die uitdunrondes gemaak het om in die finale ronde te kan hardloop. Sy droom nou van die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan.

Styg uit

rogail joseph,atleet
Rogail verlede jaar by die Afrika-spele waar sy goud gewen het.

Wat merkwaardig is van Rogail se storie is dat sy uit ’n misdaad- en bendegeteisterde deel van Worcester kom en self met min moet klaarkom omdat haar ouers dit self nie breed het nie. Toe Rogail op nege begin hardloop, moes sy dit kaalvoet doen omdat sy nie spikes (hardloopskoene) gehad het nie. Haar eerste paar spikes het sy in 2016 gekry nadat ’n vriendin, wat haar behoefte raakgesien het, dit vir haar geskenk het. Rogail het met hierdie selfde tweedehandse spikes aan wedlope deelgeneem en die een oorwinning ná die ander behaal. En toe Rogail onlangs met ’n nuwe paar spikes geseën is, het sý dit weer geskenk aan ’n ander behoeftige atleet. Dis maar net hoe sy grootgemaak is – om te deel.

Só het Rogail, want tans ekonomie en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer, se vertoning op die atletiekbaan gemaak dat sy ’n beurs gekry het om in Amerika te gaan studeer en natuurlik sport daar te doen. Maar sy het dit van die hand gewys omdat sy nie haar ouers en haar sibbe wou verlaat nie. Sy wou hulle help in die huis.

Die vlugvoetige Rogail van Roodewal in Worcester sê haar liefde vir die sport het begin toe sy net in laerskool was. “Ek het deelgeneem aan die kleuratletiek op skool en het lag-lag eerste gekom en dit is toe ek besef het dit is eintlik iets wat ek goed kan doen. Sedert daardie eerste wedloop het ek regdeur my skoolloopbaan aan atletiek deelgeneem.”Toe sy die eerste keer haar voete op die baan sit, was dit hoofsaaklik vir langafstand-items. Dis eers later dat sy aan korter afstande begin deelneem het.

In April vanjaar het sy deelgeneem aan die SA Kampioenskappe op Stellenbosch en by dié kompetisie het die Worcesteriet koning gekraai op die baan en die o.20 400m-hekkiestitel gewen. Skaars ’n week daarna het sy ook die 400 m-hekkies titel by die USSA Jeugkampioenskappe opge-raap. Danksy haar prestasie by dié wedlope is Rogail gekies om Suid-Afrika by die Afrika-jeugkampioenskappe en Junior Atletiekkampioenskappe te verteenwoordig, waar sy aan drie wedrenne deelgeneem het – 400 m-hekkies, 4 x 100 m-aflos en 4 x 400 m. En dan was sy nou in Julie by die Wêreldstudentespele in Italië.

Ek oefen twee keer per dag, ses dae per week. My motto in die lewe is om vandag beter te wees as wat jy gister was.

’n Hoogtepunt vir Rogail was toe sy in Desember 2018 goud gewen het by die Afrika-spele in Botswana.

Maar die beskeie Rogail meen al die prestasies sou nie moontlik gewees het as dit nie vir haar harde werk was nie. “Die mense sê altyd harde en goeie werk werp vrugte af en dit is presies wat dit is – as ’n mens voortdurend hard werk en jouself druk tot die beste atleet of persoon wat jy kan wees, sal jy altyd jou beste doen op die baan of in enige ander aspek van jou lewe.”

En hoe voel sy wanneer sy haar voet oor daai wenstreep steek? Sy lag skaam voor sy trots antwoord: “Die gevoel is onbeskryflik. Daar is nie woorde om die gevoel van trots en dankbaarheid te beskryf elke keer wanneer ek oor daai wenstreep trap nie. Dis ongelooflik. Die mense wat raas, die gevoel binne in jou – dit is ’n mengsel van ’n adrenalin rush en geluk!” 

Toegewyd

Dinge was egter nie altyd maklik nie. Sy het vroeër vanjaar baie tydens haar oefenprogram moeg geraak en haar jarelange afrigter, Rodney Booysen, het dit agtergekom en voorgestel sy gaan vir ’n mediese ondersoek. Die dokter het bevind dat sy ’n ystertekort het. Hy het vir haar medikasie voorgeskryf en sy is steeds daarop. “Ek is bly hulle kon agterkom dat daar iets fout is, liewer vroeër as later, want nou is ek weer topfiks en on top of my game.”

Rogail sê sy sou nooit die wêreld kon sien as dit nie vir atletiek was nie. “Atletiek is regtig my lewe en dit is ook my werk. Dit het vir my wêrelde oopgemaak wat ek nooit geweet het bestaan nie. Ek was al in Angola, die Ivoorkus, Finland, Botswana, Duitsland, Switserland en nou ook in Italië.” Op die vraag of sy nou haarself sien as ’n “well travelled woman” lag sy spontaan voor sy skaam “nee” antwoord. “Maar ek kan wel sê dat ek darem nou al gewoond is aan die lang vlugte. Aan die begin was ek eers baie naar en senuweeagtig, maar dit is darem nou weg.”

Sy vertel hoewel haar oefenprogram baie streng is, hou sy gelowig daarby. “Ek oefen twee keer per dag, ses dae per week. My motto in die lewe is om vandag beter te wees as wat jy gister was. En dit kan net gebeur wanneer jy consistent is in alles wat jy doen en gee.” Dis ook duidelik hoekom Rogail so gefokus is, want volgens haar was dissipline al van klein af iets wat sy moes handhaaf. “My ouers het my baie streng grootgemaak en daar was nooit vir my tyd om van die pad af te dwaal nie.”

Sy vertel die Amerikaanse hekkieskampioen Sydney McLaughlin is haar rolmodel. “Ek volg haar op Instagram en daar deel sy wenke oor hoe atlete kan verbeter. Ek leer baie daaruit en verbeter ook my kuns op dié manier.”

Sy sê dit is te danke aan haar ouers en afrigter dat sy die euwels van haar gemeenskap kon vryspring. “Ek bly steeds en het grootgeraak in ’n gebied waar dwelms, gangsterism en misdaad hoogty vier, maar daar was nooit regtig kans vir my om daarby betrokke te raak of eers daarin geïnteresseerd te wees nie. My ouers het ’n plan gehad vir my lewe en ons het daarby gehou.”

Die ondersteuning wat sy van die gemeenskap van Worcester ontvang is ’n riem onder haar hart. “Dit is waar ek grootgeraak het en die mense ondersteun my so baie dat daar nie eens woorde is om vir hulle dankie te sê nie. As ek geld makeer om êrens deel te gaan neem aan ’n wedloop, is hulle altyd die mense wat sal inspring en ’n bydrae lewer, al is dit hoe klein. Elke bietjie help en vir my is dit die gedagte wat tel. Dit is belangriker as enigiets anders.”

Rogail sê sy het al geleer ’n mens moet nie vaskyk in jou omstandighede nie.

“Waar jy tans is of bly, kan jou nie definieer as ’n persoon nie, dit maak nie van jou mens nie en kan nie jou destiny bepaal nie. Moet nooit opgee nie en as dinge nie die eerste keer uitwerk nie, probeer weer. Werk hard en styg uit, want aan die ou einde van die dag is jy al een wat in beheer is van jou lewe en toekoms.” 

Meer oor:  Inspirasie  |  Atleet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.