Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: ’n Vader so na aan my hart
12 Junie 2019

foto: verskaf
Dit is vir my altyd interessant om die verskil tussen die viering van Moedersdag en Vadersdag in gemeentes te aanskou. Tydens Moedersdag is die kerk altyd vol blomme. Die ma’s kry die mooiste geskenke. Daar word gedans en gesing, en selfs die preek gaan oor die goedheid van die moeder.

Spreuke self het sommer ’n hele hoofstuk wat aan die ideale vrou gewy word en dan eindig ons die diens met “Dank Moeder, dank vir u gebed, God het verhoor en my gered . . .” Niemand verlaat die kerk sonder ’n traan in die oog nie.

En dan is daar Vadersdag. Ja, die pa’s kry wel geskenkies, maar daar word nie regtig baie moeite gemaak nie. As daar ’n blom in die kerk is, dan is daar. In die meeste gevalle is die preek oor die man wat nie meer die hoof van die huis of die kerk is nie of van die pa wat seep gaan koop het. Die ma’s wat hul kinders alleen grootmaak word ook dan ’n gelukkig Vadersdag toegewens, so asof daar werklik geen goeie mans meer oor is nie.

Ek is een van die gelukkiges wat ’n goeie man in my lewe het. Op hierdie ouderdom van 40 kan ek hom bel as my band bars. Dan gryp hy onmiddellik sy sleutels om my te kom help om die band om te ruil. Op ’n tyd stop ek ’n trokbestuurder. Hy klim uit en help met my band. Nóg ’n goeie man. Nog een stop, en hy help ook. Nóg ’n goeie man. Só kan ek heeldag vertel van mans wat die rol van ’n vader in my lewe speel.

Só kan baie van julle getuig van die goeie mans en pa’s daar buite. Manne so na aan ’n mens se hart!

Daar was juis so ’n Bybelse man met die naam van Dawid. Trouens, hy is die enigste een in die hele Bybel wat “’n man so na God se hart” genoem word. Daar moes tog iets spesiaals en besonders aan sy lewe gewees het. Maar toe nie, want Dawid het sy eie foute gehad.

Dawid was ongehoorsaam, ’n leuenaar, verraaier, het owerspel gepleeg, was ’n bedrieër, omkoper en ’n moordenaar. Steeds word hy ’n man na God se hart genoem. Waarom? Ek dink dis omdat Dawid ook geweet het hy het ’n herder wat sal sorg ondanks sy mislukkings. Dawid was ook getrou en dapper. Hy het konstant gejubel voor die Here. Dawid het die Here geken en op Hom vertrou. Hy het die Naam van die Here verdedig.

Hy het die Here geraadpleeg elke keer as hy iets moes doen. Hy het homself versterk in die Here. Hy was ’n regverdige mens en hy het diepe berou oor sy sonde gehad. Hy het dit voor God bely. Hy was toegewyd en ’n man van gebed. Dawid het ondanks sy foute steeds tot eer van die Here geleef.

Ja, ek erken dat nie almal die voorreg het om manne soos Dawid te ervaar nie. ’n Man wat soos Dawid na aan die hart van God is. Sommige word mishandel deur mans, seergemaak deur ’n pa, wreed vermoor deur ’n man en ander ken net die negatiewe kant van ’n pa of man.

Maar dan word ek intens bewus van ’n Vader wat in die hemel is.

Ons wat glo in die Here, het ’n Vader wat so na aan ons hart is. Wie kan ons ooit meer gee as ons Hemelse Vader? Hy wat nooit Sy kinders in die steek laat nie, wat hulle lei na waters waar vrede is en wat hulle selfs deur die dal van doodskaduwee sal lei. Hy wat vir elkeen voorspoed in gedagte het en nie teëspoed nie. Hy is ’n man so na aan my hart, want Hy voorsien in al my behoeftes – dalk nie op my tyd nie, maar op Sy tyd.

Geseënde Vadersdag aan al die mans wat mense in nood help.

Jy is ’n man so na aan God se hart. Ook aan al die mans wat hul beste vir hul kinders doen, bly ’n man so na aan God se hart.

Aan al die mans wat hul vroue op die hande dra, hou so aan. Seuns moet dit sien sodat die nuwe geslag kan transformeer en dat ons in die kerk tydens Vadersdag kan sing: “Dank Vader, dank vir u gebed, God het verhoor en my gered . . .” Ja, sodat ons tydens Vadersdag al die eer aan die pa’s kan gee omdat hulle dit toekom en verdien. Mag diegene wat tydens Vadersdag verlang na ’n pa ook rus in die wete dat daar ’n Vader is wat na aan hul hart wil wees.

* Ds. Claudette Williams is verbonde aan die VGK. Sy voltooi tans haar PhD aan die Universiteit Stellenbosch en is ook direkteur van die Christelike Afhanklikheidsbediening.

Meer oor:  Kuier  |  Rubriek  |  Vadersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.