Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
RUBRIEK: Wat die hart van vol is
5 September 2018

In die lewe het ons soveel om voor dankbaar te wees, veral die kleiner dinge in die lewe wat ons geneig is om so maklik mis te kyk. Ons kan nie net so voortploeter sonder dat ons besef ons is wel aangewese op ons Skepper nie.

Materiële dinge soos fancy karre en grand huise verg harde werk om te bekom, maar ons hoef nie ons lewe daarop te bou nie. Nederigheid en harde werk is ’n mooi gebaar en die uitkoms daarvan kan net lonend wees. Baie harde wer­kers en eerbare, nederige mense het dit baie kere nie maklik gehad nie. Hulle moes gewoonlik baie opofferings maak en die ekstra myl gaan om ten einde hul doel te bereik.

“Dankie” en “asseblief” is twee woorde wat duidelik in ons almal se woordeskat aangebring moet word.

As kind het dit maar moeilik gegaan met my. Ek het by my ouma grootge­word en sy was ’n absolute plesier. Sy was nederig en het altyd ’n stukkie brood gehad wat sy alte gretig met ander wou deel. Dit is waar ek morele waardes kon leer.

Maar iewers in die lewe het ek die pad byster geraak. Ek het vir jare in Johannesburg gewoon en dit was ’n belewenis. Ek het begin uithang met hoogmoedige sosiale vlinders, want ek wou die “It Boy” wees. Ek het my begin versuip aan alkohol en nog slenters.

Dit was jolig, want ek het ’n “big time” job gehad en kon maak en doen net wat ek wil. Soveel so dat ek arrogant geraak het en neergesien het op ander mense wat nie dieselfde leefstyl kon handhaaf nie.

Ek was behoorlik in ’n klas van my eie, want ek kon ontwerpersklere, duur parfuum en die beste whisky bekostig. My lewe was toe net een groot partytjie en ek het van alles en almal vergeet wat regtig vir my iets beteken.

Maar toe begin die lewe my ’n paar helse klappe gee.

Ek het met die elite uitgehang en ’n lewe gelei wat ek nie meer kon bekostig nie. Ek was baie depressief, want die skuldeisers het letterlik daag­liks aan my deur geklop.

Ek het met die elite uitgehang en 'n lewe gelei wat ek nie kon bekostig nie.

Ek sou drie-uur in die oggend wakker word en die strate in vaar op soek na ’n dop om die babbelas oor te maak. Die windgat façade was my skild, maar diep binne my het dit gekreun van die pyn en ellende.

My “vriende” het ek toe minder gesien, want ek kon nie meer bekostig om met hulle uit te hang nie. Drank was my beste vriend.

My werk was in gedrang, want ek het elke oggend soos ’n vaatjie geruik waar ek by ’n call centre gewerk het. Niemand kon my verstaan nie, want niemand het geweet waardeur ek regtig gaan nie. Ek was in ’n dorre woestyn met geen oase in sig nie.

My ouma sou uit haar graf opstaan as sy moes weet van die dinge waarmee ek my vereenselwig het.

Later het ek besef ek wou graag by mense wees wat my lewenstaal praat en by wie ek ware lewenslesse kon leer. Ek het my werk gelos en na my ma se huisteruggekeer.

Ek besef nou dat die lewe nie enig­een se speelding is nie. Geluk en liefde is meer werd as juwele en die lekkerte is net van korte duur. Ek het nou al ’n paar knoue weg en loop vandag nog rond met letsels wat die lewe op my gelaat het.

Hoogmoed spel ongeluk en ek glo daar is ’n groot verskil tussen morele en geldelike waardes.

Groet vandag iemand en ek glo stellig dat dit jou soveel gelukkiger gaan laat voel.

Doen iets vir ’n ander mens, bid en waardeer meer en jy sal minder stres. Ek kruip, kniel en bly biddend met die hoop dat ek weer eendag op my voete sal kan staan.

Ek maak nog foute, maar ek sal beslis nie weer terug wil val en daai ellendige lewe wil lei nie.

WEN R1000 met jou hart-storie
'n Mens het 'n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy 'n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!
E-pos jou rubriek (800 woorde) en 'n foto van jouself (300dpi) vir 'Wat die hart van vol is' na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad, 8001.
As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Kuier  |  Mening  |  Opinie  |  Wat Die Hart Van Vol Is
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.