Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
RUBRIEK: Wat die hart van vol is
11 July 2018

Ek word onlangs gedwing om sonder my selfoon reg te kom vir ’n tydjie. Hy het finaal die gees gegee. Wat ’n hartseer dag! Ek besef toe, nes die spreekwoord sê, jy weet nie wat jy het totdat jy dit verloor nie.

Ek bevind myself toe in ’n situasie wat my opnuut laat besef het hoe selfone regtigwaar ’n impak op ’n mens se daaglikse lewe het. Ek het skielik nie geweet hoe om my te gedra as ek in ’n lang ry moes staan of as ek alleen is nie. ’n Mens raak so gewoond aan daardie toestel dat jy jouself van vooraf moet vind die dag wanneer jy daarsonder moet klaarkom.

Want ja, soos ek dit sien, kan dit netsowel jou digitale sielsgenoot wees. Jy slaap in een kamer daarmee en dis die eerste ding waarna jy soggens soek. So wanneer jy vir ’n tyd koebaai moet sê, is dit voorwaar ’n uitdaging.

Ek dink dis teen die tweede week (nadat ek gesulk het) dat ek aanvaar het ek sal nou maar vir eers daarsonder moet wees. Dit het my laat besef hoeveel aandag ’n mens aan ’n selfoon gee eerder as aan realiteit.

’n Paar groot veranderinge het in hierdie tyd plaasgevind. Ek het soggens leer bid die oomblik wanneer ek my oë oopmaak – iets waaraan ek nie altyd aandag gegee het nie. ’n Mens vat soms die lewe as vanselfsprekend, maar wat ’n mens nie altyd besef nie is dat dit ook ’n genadekans is. Ek kon bou aan my verhouding met God.

Ek het elke oggend in die vars oggendlug my vergaap aan die natuur. Hoe mooi die bome skakerings van groen het. En ek het saggies dankie gesê, want dis die mooi goed wat vir ons verniet gegee is wat ons soms miskyk. Bedags wanneer ek kampus toe gereis het, het ek gesien hoe mense steeds vir mekaar omgee.

Ek het my “sielsgenoot” gemis, maar ek het soveel dinge geleer. Omdat ek geen ander keuse gehad het nie, het ek leer luister na ander mense.

My oorfone was altyd gereed as ek vreemdelinge moes trotseer, maar nou kan ek met ’n glimlag sit en luister na al die gesprekke in die taxi. Die een antie is bekommerd oor stakings en ’n ander praat oor liefdesprobleme. Ek kon identifiseer en simpatiseer met waardeur ander mense gaan.

Ek het besef hoeveel aandag 'n mens aan 'n selfoon gee eerder as aan realiteit
Edilia Las

Ek het selfs eendag ’n traan weggesluk vir ’n ou antie se hartseer verhaal van haar seun wat by bendes betrokke is.

Ek het ook besef dat mense gehaltetyd verkeerd hanteer.

Vat byvoorbeeld as ’n mens uitgaan met jou vriende. Die belangrikste ding is tog om foto’s te neem, reg? Verkeerd. ’n Mens moet die oomblik geniet. Ek kon my inleef in alles wat ons gedoen het en het geen oomblik gemis omdat ek ’n honderd selfies moes neem nie. Ek het my vriende op meer intieme maniere leer ken deur regtig na hulle te kyk, waar te neem en te luister.

Hoewel die tydjie sonder ’n selfoon baie ongerieflik was, kon ek daardeur kom en ek kon op die einde van die dag sien dat dit regtig nie so ’n slegte ding is om jou foon nou en dan neer te sit nie. Dit het eintlik my oë oopgemaak.

Dis belangrik dat ons ook vir ander dinge tyd maak. Wanneer laas het jy ’n paar ure met jou familie deurgebring sonder om een keer op jou foon te wees? Waneer laas het jy ’n mooi oomblik net ingeneem sonder om ’n foto daarvan te wil neem?

Ek het besef ’n selfoon of enige ander toestel is tog noodsaaklik, maar daar moet ’n balans wees.

Dis tyd dat ons regtig vir mekaar tyd maak. Maak tyd om na mekaar te luister. Ons kan so vinnig mekaar oor die foon verseker dat ons vir mekaar gaan bid, maar doen ons dit regtig?

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Not everything you lose is a loss”. Miskien word ons in situasies geplaas om ons persepsie te verander. Ons word dalk gedwing om die belangrike dinge in die lewe weer raak te sien.

Hierdie ervaring sonder selfoon sal my altyd herinner dat ek die belangrike dinge in die lewe moet raaksien en ek mooi dinge moet inneem en nie net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Wen R1000 met jou hart-storie
'n Mens het 'n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy 'n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1000 wen!
E-pos jou rubriek (800) woorde) en 'n foto van jouself (300dpi) vir "Wat die hart van vol is" na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na:
Wat die hart van vol is,
Kuier,
Posbus 1802,
Kaapstad,
8001.

As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.