Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
12 Junie 2019

My pa se lewensreis was ’n tipiese 4x4-roete: besaai met hindernisse uit elke oord. Hy moes dit boonop aanpak sonder die geskikte toerusting. Desnieteenstaande het hy sy aardse reis met soveel waardigheid voltooi dat ek hom vandag onomwonde kan besing as my held.

’n Groot eienskap van my pa wat altyd uitgestaan het, is dat hy ’n dromer was. Maar sy drome het ook nie net drome gebly nie, hy het hard gewerk om dit te bewaarheid. Selfs toe dinge maar moeilik trek, het hy gedroom van ’n eie huis. ’n Drieslaapkamerhuis met ’n garage en pragtige vooraansig. Die goedgekeurde planne en die erf was hom wel beskore.

Dêddie het ook gedroom dat al ses sy kinders eendag professionele beroepe moet beklee. Sy droom is verwesenlik, hoewel hy slegs drie in hul beroepe kon sien staan.

My pa was ’n briljante storieverteller. Hy het byvoorbeeld die storie van Jantjie Rooi Klaas wat vir jare die polisie gefnuik het omdat hy homself onsigbaar kon maak; die storie van die waterslang by die rolputs wat jou met sy koplig aantrek; en Antjie Somers met soveel oorgawe en oortuiging vertel. Wat my egter altyd die meeste geboei het, was sy eie lewensverhaal. Hy het regtig ’n slag met woorde gehad.

Sy geduld met alles was ook iets om te bewonder. Dêddie was ’n tipiese Job. Hy het my ma geneem net waar sy wil wees, en ook vir my aan die begin van my onderwysloopbaan na al my buite-muurse aktiwiteite. Vir hom was dit ’n voorreg. Hy nooit gekla oor sy bakkie se kilo’s, slytasie of petrolgebruik nie!

Almal het ’n spesiale plek in my pa se hart gehad. Hy het met deernis met almal omgegaan en tot hul harte gespreek sonder om te preek. Verwyte, dreigemente, aantygings, verwerping en veroordelings was hoegenaamd nie deel van sy strategie nie. Sy sagte vaderhart het ruimte gebied aan dronkaards en uitgeworpenes. Hy het met gemak met dié mense ook gekuier.

My pa se opinie was altyd dat die uiterlike van mense nie belangrik is nie, maar dat dit wat binne aangaan, saak maak.

Dêddie het aan ons die belangrikheid van erfenis geleer. Daarmee saam was ons bewus gemaak van verskille, maar meer nog, hoe ons ander se erfenis moet re­spekteer.

Netso was familiebande baie belangrik vir hom en daarom het ons altyd kontak behou met ons mense. Desembervakansies het ons by die Smitte in die Kaap gaan kuier en Junie was dit die Beukesse van Kharkams se beurt.

My pa was nie net die gesagsfiguur in ons huis nie, maar ook van die breë familie. As hy gepraat het, het jy geluister! Daar was geen onduidelikheid oor wat hy van ons verwag nie. ’n Pak slae was ook nie uitgesluit nie.

Al kon my pa baie goed doen, was hy nie perfek nie. Hy kon nie met geld werk nie, so my ma moes maar oorneem. Jy sou hom ook nooit in die tuin sien werk nie, want sy handjies was sagter as sy hart, en as kok was hy pateties.

Wat my egter die meeste van my pa sal bybly, is die wyse hoe hy nydige aanmerkings met sy droë humor en vergewensgesindheid kon bestuur. Hiervoor het ek vir hom ’n standbeeld in my hart opgerig.

Ek het ongelukkig in gebreke gebly om my liefde, trots, waardering en dankbaarheid teenoor Dêddie te betoon. Nou is dit egter te laat. Al wat nou oorbly, is hierdie mooi herinneringe, sy pragtige nalatenskap, sy navolgenswaardige voorbeeld, tesame met ’n projek om sy graf in ’n doringbesaaide, verwaarloosde munisipale begraafplaas in stand te hou.

In teenstelling met Dêddie se lewenspad reis ons as kinders vandag met ’n gemaklike teerpad en beskik ons wel oor die nodige toerusting vir enige 4x4-roete. Maar pak ons die hindernisse en uitdagings van die lewe volgens Dêddie se voorbeeld aan?

Meer oor:  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.