Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
28 Junie 2019

Daar word dikwels vertel van gebroke harte en die oorsake wat daarmee gepaard gaan. Dié soort terugslae kan niks anders as verdriet bring nie. En ja, glo my jy kan van ’n gebroke hart sterf.

Ons almal onthou daardie lekker warm gevoel wat jou eerste liefde gee. Maar met die verplettering daarvan word jou jong hart meteens gebreek.

Dan is daar die man wat tydens sy middeljare skielik besluit om groener weivelde te soek en ’n vrouehart is in twee.

Wat van die vrou wat een oggend wakker word met die gedagte dat haar jare lange getroue man te vervelig geword het na haar sin Z en opnuut is ’n man se hart in twee. Maar dis tog goed wat ’n mens kan verwag . . .

Maar wie sou ooit kon dink dat ’n ma se hart gebreek kan word, en dít deur haar eie kind? Daardie kind wat sy vir nege maande onder haar hart gedra het en vir hoe lank nog daarna teen haar bors gekoester het.

Jy dink terug aan daardie eerste keer toe jy sy bos krulle met ’n kam moes bykom. Jy onthou hoe irriterend hy gehuil het, want hy kon net nie verstaan hoekom tandesny so onaanvaarbaar seer moes wees nie. Jy onthou met ’n tere glimlag jou opgewonde handeklap toe hy vir die eerste keer ’n paar treë gee sonder om op sy agterwêreld te beland.

En só kan jy herinnering ná herinnering oproep totdat jy eendag met ’n skok besef jy ken jou eie kind nie meer nie.

Met ’n swaar moederhart erken jy die kind hier voor jou is nie die kind wat jy met soveel liefde, sorg en swaarkry grootgemaak het nie. Daardie pragtige kind wat jy so in jou gedagtes terugroep, bestaan nie meer nie. In sy plek is ’n kwaad, aggressiewe en verbitterde mens.

Terwyl herinnerings soos ’n rolprent voor jou afspeel, ontkiem selfblaam soos onkruid in jou hart. Net ’n moederhart weet hoeveel skade dit aan jou siel kan berokken.

Ongeag die ouderdom van jou kind, wanneer hulle onverantwoordelike goed aanvang wat jou tot in jou siel skok, voel jy as ma tot ’n mate verantwoordelik.

Dis wanneer jou hart in soveel stukkies gebreek is en jy sterk twyfel of jy ooit weer oor die vermoë sal beskik om al die skerwe op te tel. Dis wanneer teleurstelling jou opnuut oorweldig en jy wonder hoe jy dit gaan regkry om hierdie stryd te oorwin. Jy weet nie hoe nie, maar jy weet jy gaan en jy sal omdat jy as ma jouself nie die voorreg gun om te twyfel nie. Jou kind mag in sy swakheid die verkeerde besluit geneem het, maar jy gaan te midde van jou swakheid sterk wees en die regte besluit neem.

Emosioneel grawe jy in jou ingeboude survival kit na maniere hoe jy nie net vandag nie, maar elke dag hierna gaan oorleef. Dan besef jy woorde soos “fake it till you make it” word ’n realiteit.

Later dring die besef tot jou deur dat jou survival kit nie genoeg is nie, jy sal ’n paar maskers moet aanskaf. Daar is die professionele masker wat goed te pas kom by die werk. Dan is daar die sprankelende masker wat heel goed werk tussen jou familie en vriende. Hoe jy nog kan lag en praat met ’n hart wat in twee is, weet net jou Vader alleen.

En eendag terwyl jy na die foto’s kyk wat tydens jou gemaskerde tyd geneem is, dink jy by jouself dat dit nogal goed gewerk het Z totdat jy in stilswye aanskou hoe jou oë jou aankla. Jy besef jou oë het nooit saamgelag nie. Nog ’n realiteit dring deur – jou oë is inderdaad die vensters tot jou siel. Jy kon ander flous, maar nie jouself nie.

Maar reg is reg en verkeerd is verkeerd. Al word jy hoe deur liefde vir jou kind oorweldig, sal reg en geregtigheid moet geskied. En jy het ander kinders waaraan jy moet dink wat net so swaar ly. Jy aanvaar die dae van glimlag en mooipraat is verby. Nee, nou moet jy sterk wees en tough love toepas . . .

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.