Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
2 Oktober 2019

Dis belangrik om die verlede te laat gaan en aan te beweeg. Ek het nooit gedink ek sal dit wat met my gebeur het, ooit met die wêreld deel nie. Dit is nou al so lank deel van my en ek moes vir jare maak asof alles fine is. Maar dit is lente en ’n kans om van goed ontslae te raak en die nuwe mooi goed te laat blom.

Ek het op Keimoes grootgeword, ’n klein plekkie buite Upington in die Noord-Kaap. Ek is gebore met ’n regteroog wat kleiner is as die linker-een. As gevolg hiervan kan ek net gedeeltelik sien met die kleiner ogie. Ek moes gereeld hoor dat ek “skeel kyk”, ’n “een oog” het en ek was soms “koors brilletjies” genoem. Ek het sommige aande omgehuil en soms gehuiwer om skool toe te gaan, juis omdat dit die ergste by die skool was. Dit het vir jare só gegaan en my net meer en meer seergemaak.

Ek het al hoe meer daarvan bewus geword dat ek anders is omdat mense my gereeld daaraan herinner het. Ek kan tot vandag toe die seer in my ma se oë onthou elke keer wanneer ek haar moes vertel ’n kind het my weer gekoggel.

Ek was stukkend. Ek moes vir jare vernederings deurmaak en maak asof alles fine is oor iets waaroor ek geen beheer het nie. Dit was erg genoeg om daarna te luister wanneer ek alleen was, maar dit was nóg erger as vriende saam met my was en nie geweet het hoe om te reageer nie. Ek moet erken dit was seer om te sien hoe my vriende nie vir my kon opkom nie. Ek moes maar alleen daardie vernedering op my skouers dra.

Mense besef nie altyd hul woorde dra krag nie. Hul woorde veroorsaak pyn en lyding. Seer wat niemand sal verstaan nie, al probeer jy verduidelik. Seer wat lei tot ’n swak selfbeeld, min selfvertroue en ’n gebrek aan selfliefde. Ek dink mense breek ander af net om goed oor hulself te wil voel. Ek glo aan die gesegde: “Om iemand anders se kers dood te blaas, sal nie joune helderder laat skyn nie.”

Ek weet vir ’n feit ek is nie die enigste een wat negatiewe aanmerkings en veroordelings moes deurmaak net omdat ek vir ander mense anders is nie.

Die deel van jou liggaam wat ’n groot rol speel in hoe ons mense sien, is die oog. Die oog laat lig deur en stel ons in staat om ’n beeld te vorm. Stel jou net voor hoe ongelooflik dit sou wees as ons net die mooi in mense kon sien. Stel jou voor hoe dit sou wees as ons glad nie kon sien nie. Sou ons steeds mense veroordeel omdat hulle homoseksueel is? Sou ons steeds negatiewe aanmerkings maak oor iemand se voorkoms, hetsy dit gewig, lengte of velkleur is? Stel jou voor.

Dit is ironies dat ek, wat so te sê net sig in my linkeroog het, altyd probeer om die mooi in mense raak te sien. Vandag, ná soveel jare, kan ek uiteindelik vrede maak en aanbeweeg. Ek aanvaar dat ek nooit soos enigiemand anders kan wees of lyk nie. Ek kan nou jare se worsteling en seer, hoekoms en waaroms, laat gaan. En daarvoor is ek ewig dankbaar.

Woorde dra krag en min mense besef dit. Skoolkinders dink seker dit is normaal om iemand te boelie. Is dit werklik normaal? Is dit regtig normaal om iemand af te breek met woorde of dade sodat dit vir jare by hulle vashaak en hulle treiter? Almal is nie in staat om negatiewe aanmerkings in iets positief te skep nie.

Mense moet leer om stil te bly wanneer negatiwiteit oor hulle spoel en ander moet leer om te dink voor hulle praat.

Goeie maniere begin by die huis. Ouers moet dus die fondasie lê vir gedissiplineerde kinders wat weet wat reg en verkeerd is. Dit is maklik om dit te sê, maar moeilik om te doen. So hulle moet ook sommer ’n goeie voorbeeld stel.

Nuwe, mooi bloeisels kom uit. Die ou dooies val weg. Dit is presies wat nou gebeur met jare se seer en worsteling. Dit val af en ek wag vir ’n hoopvolle seisoen om in my lewe aan te breek.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.