Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
13 November 2019

Niemand kan die kloue van advertensies ontsnap nie. Dit beheer ons huishoudings, wat ons eet, wat ons drink, selfs wat en hoe ons dink en waarom ons só moet dink!

TV-advertensies is waarskynlik elke keer in die kol juis omdat die tydgleuwe waarin dit gewys word, haarfyn uitgewerk is om met ons koppe te smokkel. Let mooi op dat hulle presies weet wanneer om die babadoeke en resepte te adverteer; wanneer en tydens watter programme naskeermiddels en skuimende bier vir mans geadverteer word; of wanneer tieners by die huis is sodat hulle koeldrank en lekkergoed kan wys.

Van toeka af het vervaardigers van huishoudelike produkte met mekaar meegeding, veral produkte wat dieselfde doel dien soos koffie en tandepasta. Só het ons ouers geglo net ’n sekere waspoeier werk regtig. Gaan inspect maar jou ma- of ouma-hulle se koskassies en sien watter produkte hulle steeds in glo. En niemand kan hulle oortuig daardie spesifieke item se gehalte is so goed soos iets anders op die mark nie.

Tog is dit in ’n sekere mate goed dat ons gelei word in ons keuses oor produkte. Maar wanneer advertensies so ver gaan om jou minderwaardig en “uit” te laat voel omdat jy nie soos die verbruikers van ’n sekere parfuum “suksesvol” is nie, dan raak dit gevaarlik vir jou gees . . .

Ons word baie keer mislei deur die aantreklike beloftes, veral wanneer bekende filmsterre produkte adverteer, as ons gebombardeer word met woorde wat ego’s streel en ons denke oor onsself negatief beïnvloed.

As tieners nie sekere namelekkers of goed soos selfone kry nie, raak hulle mos mal omdat hulle dink hulle pas nie in nie. Ouers gaan uit hul pad om te kompeteer met die bure (wat dit kan bekostig) om tog net in die “behoefte” van hul bedorwe brokkies te voorsien! Sommige tieners weet ook net hoe om hul pa of ma te manipuleer om ’n spesifieke geadverteerde item te koop, kom hel of hoogwater!

Let maar op wanneer ’n huisvrou haar trollie verby sekere produkte stoot, maar haar hande soos ’n robot uitreik na produkte wat oral geadverteer word.

Gaan kyk wat staan op die bedkassies van middeljarige vroue wat glo ’n sekere room sal hul velle sonder plooie laat, ligter maak, die sakkies onder hul oë laat verdwyn en selfs die onvermydelike kraaipote sal verbloem. En glo dit of nie, die meeste vroue glo in dié illusie. Fyn plooitjies rondom die oë en die mondhoeke is deel van ons volwasse-wording en maak deel uit van ons karakter of persoonlikheid, en komkommer en gesigmaskers sal nie tyd vir jou terugdraai nie. Kry maar daai idee uit jou kop.

Dra jou ouderdom met trots en waardigheid, want jy kan baie geld bespaar deur minder of glad nie daai duur goed te koop nie. Hou op om te glo jy is minder aantreklik net omdat jy nie ’n sekere produk gebruik nie.

Dan is daar die ding van klere. Duur of ontwerpersklere lyk nie noodwendig mooi nie en laat jou miskien boonop ook nie beter lyk nie, maar advertensies laat jou dit glo! Jy sien sommer nou iets daarin wat kwaai is net omdat jy weet dis duur en nie omdat dit eintlik goeie gehalte is nie. Maar aan die einde van die dag, en iets wat hulle jou nooit sal sê nie, is: jy kan min klere het en dit hoef nie eens die duurste of nuutste name-iets te wees nie en jy kan steeds goed lyk! Styl is glad nie gekoppel aan ’n price tag nie.

Hoekom dink jy het advertensies sulke deuntjies of liedjies wat in jou kop vashaak wat jy nog jare ná die tyd kan onthou? Hulle wíl hê hul produkte moet deel word van jou lewe, maar dis nie noodwendig die beste een vir jou nie.

Advertensies vervul sonder twyfel hul doel, maar waak daarteen dat dit met jou kop smokkel, jou minderwaardig laat voel en jou van jou nugter denke stroop. Maak jou eie mind op en moenie dat hulle ’n rat voor jou oë draai nie!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.