Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
19 Februarie 2020
Theolla Langenhoven

Vandag moet ek verskoning vra. Ek is jammer, my kind. En nie net aan myne nie, maar sommer alle kinders wat dieselfde ervaring gehad het.

Kom ek begin by die begin. As kind het ek in ’n baie streng omgewing grootgeword. My ouers het ons onder moeilike omstandighede met goeie waardes grootgemaak. Jy was almal se kind, want selfs die bure kon insae lewer as jy jou nie kon gedra nie. So, eintlik het dit gevoel asof almal jou “familie” was. En dis hier waar die verskoning inkom.

Ons was geleer om te soengroet. Só was ons ook geleer om drukkies te gee aan ieder en elk wat jy ge-”oom” en ge-”antie” het. As iemand wat maklik met mense omgaan, het dit my nie eintlik gepla nie. Ek is soos die kenners sê ’n affectionate mens. Ek floreer op aanraking. So, as ek die dag af voel, sal ’n drukkie my enige tyd weer boost.

Met die koms van my oudste kon ek dit nie kleinkry dat hierdie madam net niks van ’n gedrukkery of gesoenery hou nie. Dit is mos lelike maniere! Ek het haar basies geforseer om familie en nabye vriende te druk of te soengroet, want hoe dan nou anders? Dis mos hoe dit móét wees. Dis mos hoe ons grootgeword het.

Totdat ek eendag ’n storie gelees het oor ’n vrou wat haar weergawe van hierdie manier van dinge doen, verduidelik het. Hoe haar eie ooms haar ongemaklik laat voel en snaakse goed aangevang het. Dit het afgespeel in dieselfde tyd wat ons nog volgens “’n kind moet gehoor en nie gesien word nie” geleef het.

Dit het my laat regop sit. Ek het toe besef dit wat ek as die “regte” manier van groet gesien het, my kind heel moontlik gewalg het.

Sy is ’n introvert en ek moes toe so moeilik soos dit was, besef sy is nie soos ek nie. Sy hou nie van enige mens se drukkies of soentjies nie.

Wanneer sy die dag in die bui is, sal sy self vir ons gee, maar dit gebeur selde. Sy is nie afhanklik van ander om haar bui te lig nie. Sy is nie soos ek, haar ma, nie. En dit was ’n baie moeilike en bitter pil om te sluk.

Ek voel ek het my kind versaak. Ek het die gewoontes wat ek geleer was, sonder om te dink, netso oorgedra. Nie eens gedink daaraan dat dit miskien ’n gevaar vir my kinders sal inhou nie. Ek het haar probeer leer om ander mense net blindelings te vertrou.

Baie van ons doen dit. Ons vertrou goedsmoeds ons familie en vriende. Wat seker só moet wees of hoe? Maar wanneer ’n mens lees hoeveel kinders verkrag en wreed vermoor word deur die einste familielede wil ons geskok wees. Ek onthou hoe die gemeenskap in oproer gekom het toe dit op die lappe kom dat ’n inwoner van hul huis vir Courtney Pieters vermoor het. Ons veroordeel die ouers wat hom in hul lewens en huis toegelaat het, maar vergeet dat ons dieselfde doen.

Kom ons leer by ons kinders. Laat hulle die voortou neem waar dit kom by mense.

Kinders het ingebore instinkte en daarom weet hulle outomaties wie om te vertrou en wie nie.

Hulle steun baie op hul gevoel, maar ons grootmense ignoreer dit baie keer. Kom ons luister ook na hulle. Baie keer wil hulle ons vertel van iets of iemand wat hulle ongemaklik laat voel, maar ons maak dit af as “oud voor jou tyd”.

Vra jou kind of iemand aan hulle vat of soen wat hulle ongemaklik laat voel. Laat hulle toe om self te besluit wie hulle genoeg vertrou om drukkies en soentjies te gee. Die kinders het ook baie meer kennis oor seks en mishandeling as wat ons hulle krediet voor gee. Dit word al sedert hul kleuterskooljare ingeprent by hulle as deel van die kurrikulum, so vertrou hulle as hulle wil praat.

Kom ons raak meer betrokke en waaksaam rakende ons kinders. Hulle is aan ons toevertrou en hul veiligheid is ons verantwoordelikheid. Eerder dit as wat hulle ’n statistiek of hashtag word.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.