Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
17 September 2020

Kô, laat ons onse erfenis omarm en koester. Vir dié Erfenismaand wil ek ’n bietjie die Braaidag-narratief onder sy stert skop. Kyk, ons almal is mos gewoond daaraan om elke Erfenisdag saam gesellig ’n paar tjoppies oor die kole te gooi en ’n yskoue doppie te geniet.

Maar ek dink dis belangrik om dié Erfenismaand te fokus op wie ons is as mense en ons kultuur wat daarmee gepaard gaan. Die nasionale staat van inperking het my baie laat dink, besef, geleer en ek glo vir julle ook. Dit het my veral laat terugdink aan die dae toe ek nog ’n snotneusseuntjie was.

Maar daar was ook onlangs groot bewusmaking op sosiale media oor die kultuur van bruin mense om te bewys dat ons wel ’n kultuur het. Dít nadat daar verskeie mense op sosiale media van mening was dat bruin mense nie ’n kultuur het nie. Ek dink ons almal weet dis ’n sinnelose en onkundige stelling om te maak, maar dit het my nogal laat terugdink aan my grootwordjare tot waar ek vandag is as ’n jong mens in die bruin gemeenskap. Ek het op die Weskus dorpie, Velddrif, grootgeword.

Daar het ek my menswees begin ontwikkel. My pa was ’n visserman en daar was nooit ’n tekort aan ’n snoek, harder, bokkom of kreef nie. My pa was veral lief daarvoor om ’n patat in die kole te druk, wat ons dan later met die gebraaide snoek of harder sou geniet. Ek mis daardie dae. Hopelik was jy al by die snoek-en- patatfees om die pure plesier, lekkerte en kulturele warmte te voel. Nadat my pa in 2014 oorlede is, moes ek verskeie harde klippe kou en sterk lekkers eet, maar ek het dit alles oorleef.

Die dood kom mos maar op ons almal se pad, en ons moet maar almal probeer sterk wees en aanvaar. My pa se nederigheid en menswees sal my altyd bybly. Ek dink ek het dié karaktereienskappe van hom geërf. Later het ek myself in die Paarl gaan vestig. Daar het ek vir die eerste keer gehoor van ’n koesister.

My wortels is diep geanker in die bruin gemeenskap en ek is verskriklik trots daarop. Ek het niemand se mening nodig om vir my te sê waar ek behoort nie.

Ek wou die mense reghelp, want hoekom praat hulle dan nou van ’n koesister in plaas van ’n koeksister? Toe ek eers sien hoe dit lyk, toe dink ek vir myself, maar dit is nie ’n koeksister nie – dit is eintlik iets anders, maar hoekom het ek nog nooit daarvan gehoor nie? En dit is eintlik presies hoe divers ons binne ons diversiteit is en lyk.

Anders, maar ook so uniek en lekker op ons eie manier, of hoe? So, behalwe die oudergewoonte van kerrievis gedurende Paasnaweek, wat ons sommer van die Vrydag tot die Sondag en soms tot selfs die Maandag geëet het, was daar nóú ook iets oos koesister-Sondag. Moenie eens praat van wanneer daar net ’n enkele druppel water op die dak val nie, “mense dis sop-weer hier buite.” Ons ma’s en anties is dan sommer onmiddellik op pad na die stoof om ’n pot sop te laat prut. Die deeg word geknie vir ’n bakbrood.

En só kan ek nog aan baie ander goed dink wat ons uniek maak. My wortels is diep geanker in die bruin gemeenskap en ek is verskriklik trots daarop. Ek het niemand se mening nodig om vir my te sê waar ek behoort nie. My menswees en identiteit het ontwikkel en ontstaan in die bruin gemeenskap. En alhoewel die stereotipe bruin mense as nutteloos, misdadigers en gangsters klassifiseer, hoop ek ons jong mense van vandag in die bruin gemeenskap kan daardie narratief verander.

Want ons het ’n kultuur, ons het ’n erfenis. Ons het wortels wat diep geanker is in hierdie kontinent. Dit is ongelukkig dat baie van ons jong mense stagneer omdat daar ’n tekort is aan geleenthede en die misleiding van enkele boelies in ons gemeenskappe wat hul beroof van hul toekoms. Mag ons dié Erfenismaand gebruik om te reflekteer op ons komvandaan en die huidige stand van ons gemeenskappe.

Laat ons mekaar se hande vat (ten minste virtueel) en laat ons ons gemeenskappe regruk. Ons kan ’n waardevolle bydrae lewer tot die samelewing. Geniet dié Erfenismaand, al is dit ook met ’n koppie sop en ’n game domino’s, en onthou “wees lekker met ander mense!”

WEN R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.