Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
15 Oktober 2020

Net gister nog het die kerkklokke om middernag gebeier en het ons met die oorslaan na die nuwe jaar “Hêppie New Year!” gegil. Net gister nog was my oë vól sterre oor my silwer aandrok en die Valentynsbal se “Night of the Stars”-tema. Hier sit ons nou, maande daarna – ingehok dog sonder sleutels en slotte en mure en party van ons met oë waaruit die lig verdwyn het.

Daar sal altyd negatiewe en positiewe dinge in ons lewens wees. Dit is nooit wat met ons gebeur nie, maar hoe ons reageer op dit wat die kosmos op ons voorstoep kom neerplak wat die verskil maak. Ek moes my teaterskoene vir ’n tyd lank wegpak, want wie kon iets op die planke sit vir net 50 mense!

Nes ek het jy ook seker jou lysie van dinge wat Covid-19 kom verfomfaai het. Ek kyk nou omtrent vyf maande terug op my lewe en besef hoeveel positiewe dinge eintlik uit hierdie pandemie gebore is. En ek dink aan die woord “grênd” soos ons sommer platweg na luuksheid verwys. Ek het grootgeword met die idee dat grênd goed die dinge is wat jy nie geldelik kon bekom nie of plekke buite jou bereik omdat jou pa nie ’n motor gehad het nie.

’n Winkelrok in plaas van die een wat ant Vivie, die dressmaker, gemaak het, was grênd. Die Parade in Kaapstad was grênd en die pêrelwit strande waarop Elvis Presley in die movies gesing het, was grênd. Luuksheid was voorts om kondensmelk in my koffie te kry en om regte botter op my brood te hê. Soet, swart Sturka-koffie was op ons elke-dag-menu met brood waarop daar ’n geel blerts was. Ma het die smeersel gemaak van wit margarien wat sy gemeng met ’n eiergeel of die sap van ’n wortel.

Ek het grênd gevoel op fliekdae wanneer die 12c van die kaartjie plus 5c vir ’n draairoomys in my sakdoek toegeknoop was. Ek het altyd gedink die toppunt van grêndgeit is ’n spoeltoilet met droomsagte toiletpepier, en nie die repies saggevryfde koerantpapier in die buite toilet nie. Ek het begeer om soos die rykes op die dorp heel voor te sit in die strepiestent wanneer Boswell Wilkie Circus kom kuier het. Daar was nie geld vir sirkus nie.

Vyftig sent per kind was soos vloek – ons was vier! Ons moes maar buite die tent na die leeus in hul hokke kyk. As die kosmos jou die dag goedgesind was, kon jy trapeze artists in hul blink kostuums voor hul karavane sien sit, of vir Tiekie, die nar, sonder sy rooi neus. Ek wou ook my klere soos die grênd mense by die plaaslike Gordon’s Dry Cleaners gaan inhandig, en spoggerig met die skoon klere uitstap – alles oor ’n hanger gedrapeer met plastiek daaroor. Grêndgeit was om pick-en-mix-sjokolade by OK in ’n emmertjie te gooi.

Grêndgeit is deesdae om gesond te wees, diep asem te kan haal, om uit te kan hardloop sonder ’n masker en om soggens wakker te skrik!

Ál jou favourites bymekaar! Maar toe gebeur Covid-19 en ek word weer bewus dat grêndgeit en die luukse in die lewe, die klein dingetjies is wat ons tot nou misgekyk het, of nie waardeer het nie. Dit is daai fisiese drukkies van familie, die kuiers met vriende, wandelings langs die see en om in jou motor te klim op pad na ’n ander dorp net omdat jy kan!

Grêndgeit is deesdae om gesond te wees, diep asem te kan haal, om uit te kan hardloop sonder ’n masker en om soggens wakker te skrik! Ek het besluit om ál dié klein goed te koester, en om elke dag boordensvol te pak van die mooi in die lewe, want ’n mooi sonsondergang, die gelag van ’n kind en die pers vygies in jou tuin is nie toegegrendel nie.

Ek het besluit om elke oggend vir myself te fluister: “The future is today!” Ek gaan my granaatrooi lipstiffie meer gereeld aangesmeer, weer piekniek in die veld hou, en my longe met meer waardering behandel. Ek gaan my natuurlike krulle vier. Dit was lanklaas só gesond en blink, want in al die dae van lockdown sover was daar geen haarkapper, haardroër, chemikalieë of flat iron naby my hare nie.

Ek weet my kopvel sing Halleluja-liedere hieroor! Môre word aan niemand belowe nie. Oor my geliefdes se naby wees nadat Covid-19 en sy makkers padgegee het, sal ek breed glimlag. Ek sal stywe drukkies uitdeel en oral en aan alles vat sonder om paniekaanvalle te kry oor die 20-sekonde-handewasritueel. Ek sal “Happy Birthday” vervang met ’n liedjie wat net 10 sekondes lank is! Nou dít is iets om oor grênd te voel!


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za  met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001.

As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.