Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ruda vat dit rustig
16 Mei 2018


Vir 19 jaar het sy elke Sondagaand in ons sitkamers kom kuier en belangrike nuusstories gebring.

Stories wat jou geskok het, stories wat jou hartsnare aangeraak het en stories wat jou laat nadink het. As die gesig van die aktualiteitsprogram, Carte Blanche, het sy stories vertel wat haar en baie van die kykers uit hul gemaksone uitgedwing het.

Ná 40 jaar in die mediabedryf en op 64, deel Ruda Landman steeds mense se stories met ons, maar sy geniet dit ook om nou rustiger te wees en om kwaliteittyd deur te bring met haar gesin. Haar gesin was en is steeds die belangrikste deel van Ruda se lewe en hoewel sy ’n diep passie vir ons land en sy mense het, is haar band met haar seun, Johannes (31), en haar man, JP (64), iets wat sy vir niks sal verruil nie.

Volgens Ruda is daar geen aantal eksklusiewe stories, onderhoude met beroemde mense of interessante omstandighede wat ooit die plek van haar geliefdes kan inneem nie. Alles wat sy in haar loopbaan bereik het, voel sy is deur die Here se genade en ondersteuning van haar gesin.

Hierdie oud-onderwysstudent het in die 1980’s ’n huishoudelike naam geword. Hoewel baie mense haar as die sterk en dapper joernalis ken, is daar ’n sagter en baie private kant wat Ruda vir dekades baie na aan haar hart gehou het. Ruda sê haar seun was 18 maande oud toe sy die pos by Carte Blanche aanvaar het en omdat daar nie ander regstreekse uitsendings behalwe sport was nie, het sy nie geweet wat om te verwag nie. Sy het aanvanklik nie gedink dit sal vir lank op die lug wees nie. Sy het besluit om die pos te aanvaar en sou nooit kon dink dat dit vir 19 jaar ’n groot deel van haar lewe sou wees.

Nie altyd maklik nie

Niemand sou kon voorspel hoe suksesvol die program sou wees nie, maar terwyl haar loopbaan haar na plekke en mense geneem het met wie sy dalk nooit self in aanraking sou kom nie, was haar man en huishulp, Rosie, die mense wat na hul seun en dinge by die huis moes omsien.

“As ek eerlik moet wees, was Rosie ’n beter ma vir my seun as baba as wat ek was. Elke werkende ma het hulp nodig. Ons kan nie regtig alles alleen doen nie.” Ruda sê dit was natuurlik nie altyd maklik nie, maar sy en die span het geweet hul werk was belangrik.

En dit wat hulle doen belangrik sou wees vir die geskiedenis van ons land, maar ook as nalatenskap vir hul kinders. Sy sê oor die jare het sy fantastiese ervarings gehad. Hierdie besige tyd in haar lewe was ook baie interessant en een van baie eerstes.

“Daar is soveel stories wat vir my uitstaan. Stories wat my geraak het en stories wat my verander het. Maar ek dink die stories wat ons oor die eerste swart boer gedoen het wat sy eie land kon besit, of gay- en gemengde paartjies wat saam in die openbaar kon wees, sal altyd vir my spesiaal wees,” sê sy. “Ek was in aktueel toe die land verander en mense vir die eerste keer weer met mekaar kon meng. Ons het die taak gehad om Suid-Afrikaners aan mekaar voor te stel en ons was bewus van die groot verantwoordelikheid.”

Daar was ook die onvergeetlike tye soos toe sy oudpres. Mandela Londen toe gevolg het toe hy koningin Elizabeth II vir die eerste keer gaan ontmoet het. Ruda en JP is al meer as 40 jaar gelukkig getroud, maar sy erken as jou werk jou gereeld van die huis af wegneem en jy soveel ure daaraan moet gee soos wat sy oor die jare moes doen, is dit nie altyd maklik om ’n gesin bymekaar te hou nie.

Sy moes oor die jare leer hoe om tyd vir beide haar gesin en haar loopbaan te maak. Sy moes die balans vind wat vir haar gesin sou werk. “Ek was bly toe ek swanger word, want dit het my tydens die noodtoestand in ons land uit die televisiebedryf gekry. Dit was glad nie ’n prettige tyd vir joernaliste nie en ek was bly dat ek vir ’n rukkie daaruit kon kom. Ek het uitgesien om tyd saam met my kind en my man te spandeer, veral omdat ons vir ’n lang tyd gewag het voordat ons met ’n gesin begin het,”vertel sy.

“Dit was ’n wonderlike tyd in ons lewe, maar my seun was baie jonk toe ek by Carte Blanche begin en dit was ’n interessante tyd in ons land toe dinge besig was om te verander. Dit was moeilik om weg van die huis af te wees en myself in gevaar te stel terwyl ek geweet het ek het ’n man en kind by die huis. Maar wanneer ek by die huis was en ek nie besig was met ’n groot storie nie, het ek al my aandag vir my gesin gegee.” Vir Ruda is dit nie maklik om oor haar gesin te gesels nie en sy was nog altyd baie beskermend oor hulle. Sy voel ook deur haar private lewe privaat te hou, het dit dinge makliker vir haar gesin gemaak.

Dit was moeilik om weg van die huis af te wees en myself in gevaar te stel terwyl ek geweet het ek het ’n man en kind by die huis.
Ruda Landman

Tyd vir ander dinge

Ruda en mede-aanbieder, Derick Watts op Carte Blanche.

Sedert sy Carte Blanche 10 jaar gelede verlaat het, het Ruda nou meer tyd om dinge te doen waarvoor daar andersins net nie tyd voor was nie. Ruda sê die eerste teken van vakansie vir haar was as sy aan ’n puzzle begin bou.

Maar deesdae bou sy sommer gereeld op ’n kamptafel in haar studeerkamer en dis vir haar ’n teken dat sy rustiger is en meer tyd het. Sy en JP geniet dit ook om te reis en bederf hulself gereeld met etes by hul gunsteling-restaurante. Sy geniet dit dat sy nou in beheer van haar eie tyd is en nie ander mense nie. Sy en haar man spaar al sedert die ouderdom van 23 vir hul aftrede en hoewel sy destyds nie mal was oor die idee nie, is sy nou baie bly hulle het dit gedoen.

Geld was nog nooit vir haar ’n motivering nie, voeg sy by. Dit het nog altyd vir haar gegaan oor mense, verhoudings en wat ons by mekaar kan leer. Juis daarom is sy baie opgewonde oor haar nuwe boek, Tell me your story, en meen as sy nie een sent daaruit maak nie, sal sy steeds gelukkig wees omdat dit ’n belangrike boek is.

Die boek sluit gesprekke saam met onder andere John Kani, Ferial Haffajee, Pieter-Dirk Uys, Katlego Maboe, Gugu Zulu, Mam ‘Khanyi (wat wees- en straatkinders inneem), Arno Carstens, ProVerb en Marc Lottering in. Alle geld uit die verkoop van hierdie boek gaan aan Study Trust, ’n organisasie wat universiteitstudente ondersteun. Die meeste van die onderhoude in die boek is gevoer vir die Ruda Talks Change-webreeks op BrightRock se Change Exchange-webblad.

Haar nuwe boek, Tell me your story, waarin Suid-Afrikaners hul stories oor verandering in hul lewe met haar deel.

Vir hierdie reeks het Ruda met verskeie prominente Suid-Afrikaners gesels oor hul lewenskeuses en hoe verandering hulle beïnvloed het. Sy sê ’n kleurvolle mosaïek van ondervindinge kom na vore as mense stories deel en dié boek sal mense ’n ander kant wys van die mense met wie sy gesels het.

“Die gesprekke was so ryk en insiggewend dat ek ’n groter gehoor daarvoor wou vind. Ek hoop die boek sal mense na Change Exchange stuur vir meer onderhoude en inligting.” Hierdie formidabele vrou het die afgelope vier jaar sowat 90 indiepte-onderhoude oor verandering tussen Change Exchange en die program, Verander Dinge op kykNET gedoen.

Sy glo die stories wat in die boek ingesluit word, bied waardevolle insigte en dit is wat sy nog altyd deur haar loopbaan wou bereik. Terwyl sy dankbaar is vir ’n lang loopbaan vol passie, is sy ook opgewonde om dinge stadiger te vat en haar familie te geniet. Vir Ruda se webreeks, gaan na www.changeexchange.co.za/exchange/tell-me-your-story.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Ruda Landman  |  Carte Blanche
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.